Ontmoet vir Jonathan Mitchell – ’n nuwe lid van die kerkraad

Op die foto van links is: Elizabeth, Jonathan, Madeleine en Nina.

Stellenberg-weekliks het vir Jonathan Mitchell, nuwe kerkraadslid, ’n paar vrae gevra sodat ons hom aan die gemeente kan voorstel.  Jonathan is op Sondag 7 April as diaken van die kerkraad bevestig.  Hy is boonop ook die voorsitter van die kommunikasiekommissie.  Die kommunikasiekommissie is ’n nuwe kommissie wat op die been gebring is nadat die gemeenteleiers die behoefte aan sodanige kommissie geïdentifiseer het, omdat goeie en deurlopende kommunikasie met lidmate ’n belangrike aspek van ons gemeentebediening is.  Die kommissie het dan ook ten doel om in ’n ondersteunende hoedanigheid kommunikasie tussen bedienings en lidmate van die gemeente te bevorder.

  • Hoe lank is jy en jou gesin al by Stellenberg-gemeente ingeskakel?

Sedert 2015

  • By watter bediening in die gemeente is jy betrokke?

Die musiekbediening tydens die familiediens – ek speel kitaar en is deel van die musiekgroep wat die sang tydens die diens begelei.

Jonathan was ook deel van die komitee wat die proses rakende die skep en ontwikkeling van die gemeente se pragtige nuwe logo bestuur het.  As kundige in die veld van visuele en bemarkingskommunikasie was sy insette en ervaring van groot waarde. Red.

  • Vertel ons meer van jou komvandaan – jou grootwordjare en die paaie wat jy na skool geloop het.

Gebore en grootgeword in Goodwood.  Ek is in die Goodwood-moedergemeente gedoop en het my skoolloopbaan by Hoërskool J.G. Meiring in 2000 voltooi.

Daarna het ek by die Kaapse Technikon ingeskryf vir ’n diploma in grafiese ontwerp en visuele kommunikasie. In dieselfde jaar is ek uitgenooi om saam met Goodwood Park-gemeente deel te neem aan ’n uitreik na Phemba in Swaziland. Dis dan toe ook tydens dié uitreik wat ek my vrou, Madeleine, ontmoet het. Ek het my graad in 2005 voltooi en ons is in 2007 getroud.

Daarna het ek en Madeleine dikwels die uitreik na Swaziland meegemaak. Tydens ons laaste uitreik daar, het ek ’n baie duidelike boodskap van God ontvang dat my vrou binnekort sou swanger raak.  ’n Bietjie meer as ’n jaar later is ons eersteling, ’n dogter, Elizabeth, toe ook gebore. Drie jaar later was die jongste, Nina op pad, en  ons het toe terselfdertyd na Eversdal verhuis en by Stellenberg-gemeente begin inskakel.

  • Wat doen jy weeksdae van 09:00 tot 17:00 om die spreekwoordelike brood op die tafel te sit? 

Ek is ’n kunsredakteur en hoof van kreatiewe werke by Novare Equity Partners. Ek behartig al die bemarkingskommunikasie vir ag winkelsentrums in Afrika wat kliënte van ons besigheid is, asook twee handelsname in Nigerië, Zambië en Mosambiek.

My liefde vir Afrikakultuur is wat my opgewonde hou oor my werk.

 My kinders sê: Pappa se werk is om mooi prentjies te maak, en dit is ’n groot seën om mooi dinge vir ’n lewe te kan maak en mense se trots en drome met behulp van visuele elemente te kan uitbeeld.

 Ek is gek daaroor om ekstra vryskutwerk te doen, want dit gee my geleentheid om mooi goed te maak buite die industrie waarin ek van dag tot dag beweeg. 

  • Het jy stokperdjies of interessante passies waarvan jy ons meer kan vertel?

Ek maak ’n bietjie musiek, is gek oor my tuin en spandeer elke nou en dan ’n bietjie tyd op die skietbaan.

  • Wat doen die Mitchells om saam te ontspan – wat is julle gunstelinggesinsaktiwiteite?

Ons geniet dit om sosiaal te wees en saam met mense te kuier. Ons geniet dit om so ’n bietjie te stap, maar stadig! ’n Paar wyn- of bierproe-ekskursies is ook altyd lekker (die kinders moet maar nog eers by die sap-proe bly). Ons probeer ook om  elke nou en dan te gaan kampeer. 

  • Wat is vir julle lekker in Stellenberg-gemeente? 

Die feit dat almal in die gemeente welkom is en dat jy self bepaal hoe betrokke jy wil wees. 

  • Hoe sien jy jou rol as lid van die kerkraad en op watter wyse sou jy graag ’n bydrae tot die gemeente wou maak?

Om dit wat die gemeente wil kommunikeer op die mees effektiewe manier aan die gemeente oor te dra. Om ’n visuele kommunikasie-verhouding met die gemeente op te bou.