NCLS-vraelyste

Deur: Ds. Marius Breytenbach

Baie dankie aan almal wat verlede Sondag die NCLS-vraelyste tydens ons onderskeie eredienste voltooi het. Die vraelyste is deur die National Church Life Survey (NCLS), ’n Australiese navorsings­organisasie met wie die NG Kerk hande gevat het, opgestel.

Die peiling is saamgestel om die ervarings en menings van erediensbywo­ners te hoor. Die opname werk met nege kernkwaliteite en sterkpunte van elke gemeente en gee terugvoer oor die stand van die bediening uit die oogpunt van lidmate. Dit stel elke gemeente se leierskap in staat om ingeligte besluite oor die toekoms te neem.

Ons behoort binne die volgende twee maande terugvoering rakende ons gemeenteprofiel te ontvang. Die kerkraad het ons strategiekommissie getaak om dié data tesame met addisionele data te verwerk en ’n verslag daaroor saam te stel. Dit sal ons in staat stel om ons gemeente se bedieningspraktyk te evalueer en ons sal spoedig hieroor aan die gemeente verslag doen. 

Weereens baie dankie vir die tyd wat jy afgestaan het om jou mening te gee – dit is belangrike rigtingwysers vir ons.