Ontmoet vir Anneke Fourie – ’n nuwe kerkraadslid

Op die foto van links is: Daniël, Pieter, Hanno en Anneke

Stellenberg-weekliks het aan Anneke ’n paar vrae gestel sodat ons haar aan die gemeente kan voorstel.  Anneke is op Sondag 7 April as diaken bevestig en sy sal by die geestelikesorgkommissie betrokke wees.

  • Hoe lank is jy en jou gesin al by Stellenberg-gemeente ingeskakel?

As kind het ek in 1983 saam met my ouers, nadat ons van Gauteng verhuis het,  by die gemeente ingeskakel.  As gesin met ons eie kinders, is ek en Pieter weer sedert 2013 by die gemeente ingeskakel.

  • Is daar spesifieke bedienings in die gemeente waarby jy betrokke is?

Ek is op Sondagoggende na die eredienste in die markplein behulpsaam.

  • Vertel ons meer van jou komvandaan – jou grootwordjare en die paaie wat jy na skool geloop het.

Ek het in 1990 aan die Hoërskool Stellenberg gematrikuleer en toe BSc Fisioterapie aan die Universtiteit Stellenbosch gaan studeer.  In 2000 het ek my man, Pieter, by Stellenberg-gemeente se jeugaksie, GenX, ontmoet. Toe is ons twee oor die water en het vanaf 2000 tot  2013 in Engeland gewoon en gewerk.  Beide ons seuns is ook daar gebore. Hanno is nou 18 en Daniël is 12.

  • Wat doen jy weeksdae van 09:00 tot 17:00 om die spreekwoordelike brood op die tafel te sit?  

Ek werk as fisioterapeut by ’n rehabilitasie-eenheid vir pasiënte wat ‘n periode van herstel en versterking nodig het na chirurgie, ’n beroerte, ’n ongeluk, ’n lang siekbed, ens. Ek geniet die uitdagings wat my beroep bied.  Dit is vir my baie lekker om deel van ‘n multidissiplinêre span te wees en om eerstehands by die herstel en vordering van ’n pasiënt betrokke te wees.

  • Het jy stokperdjies of interessante passies waarvan jy ons meer kan vertel?

Ek is baie lief vir padwedlope en neem deel aan verskeie halfmaratonne as lid van die  Bellville Atletiekklub. Ek het op 50-jarige ouderdom my eerste maraton aangepak en toe het die gogga my gebyt. 

  • Wat doen die Fouries om saam te ontspan? Wat is julle gunstelinggesinsaktiwiteite?

Ons is baie lief om eendag- en meerdagstaproetes aan te pak.  Ons het onder meer al die Otter-, die Luiperd-, die Amatola, die Walvis- en die Visrivierroetes aangepak en klaargemaak. Daar is pragtige twee-dag-staproetes in die Wes-Kaap, soos onder andere die Kaappuntroete. Ons geniet dit ook om te kampeer. 

  • Watter aspekte van Stellenberg-gemeente geniet julle?

Dit is vir ons lekker om by die familiediens in te skakel. Dit bly ’n voorreg om saam met ons kinders die Here te dien, en is dankbaar vir die geleentheid wat hulle het om by die Sondagskool en die jeugdiens in te skakel. Hanno, ons oudste seun, het pas belydenis van geloof afgelê, en dit was ‘n besonderse aand vir ons as gesin.

Die vriendskappe wat ons gemaak het en wat ons nog gaan maak, is ook kosbaar.

Ons voel tuis by Stellenberg-gemeente en kry Sondae tydens die erediens weer innerlike krag om die week en sy uitdagings aan te pak.

  • Hoe sien jy jou rol as lid van die kerkraad en op watter wyse sou jy graag ’n bydrae tot die gemeente wou maak?

Ek wil graag die kerk en die koninkryk in die nuwe leierskaprol dien en om as Christen te groei in my geloof.