Sending

Ons medewerkers in die sendingveld word ook deur die Covid-19-pandemie geraak.  Kerke se bydraes en ondersteuning aan sendelinge het skerp gedaal, of is in sekere gevalle heeltemal gestaak.  Ons doen ’n beroep op lidmate om deur middel van geloofsoffers ons medewerkers te ondersteun.  Ons ondersteun maandeliks tans die volgende medewekers:

  • Christo & Deleste Wooding: Sendelinge in Kokstad, Transkei

Christo was sy hele bediening as predikant (hy tree volgende jaar af) ’n sendeling in die Transkei.  Dit was ook hy wat Stellenbergers meer as 20 jaar gelede genooi het om betrokke te raak by uitreikwerk in die Transkei en verskeie projekte is saam met hom aangepak. Hy skryf soos volg oor die afgelope Paasnaweek:

Dit was ’n groot vreugde om weer vanjaar die Paasfees te kon hou. Pasika is die grootste gebeurtenis in ons kerk en die afstel van verlede jaar se Paasfees was ’n groot teruslag vir ons lidmate.  Ons het die Pasika op Waterloo-buitepos gehou, by ons nuwe kleuterskool.  Al die Covid-19-maatreëls is ingestel en die gemeente het by die vereistes gehou.  Met blydskap en dankbaarheid is Christus se dood en opstanding herdenk.  Ons het ook weer met dienste in die gemeente begin en is tans besig om al die buiteposte te besoek.  Baie dankie weer eens vir u gebede en ondersteuning.

Op die foto staan Christo Wooding (links) en een van sy lidmate.

  • Jurie en Magdaleen Goosen: Internasionale studentebediening

Foto: Jurie Goosen (links), sy vrou, Magdaleen, (regs) saam met ’n internasionale student.

Jurie skryf onlangs:

Baie dankie vir jul gemeente se betrokkenheid by die internasionale studentebediening op Stellenbosch. Ons waardeer julle as belangrike vennote in die uitbreiding van God se koninkryk.

 Ek is bewus van die geweldige uitdagings wat die pandemie aan gemeentes en leraars in die tyd stel. Mag julle ook God se krag, voorsiening en wysheid in die uitdagende tye ervaar.  Ons gebed is dat julle draers van God se hoop sal wees.

Stel jou voor daar is ʼn stad met duisende inwoners tussen die ouderdomme van 30 en 40. Die inwoners kom van baie lande, kulture en van verskillende godsdienste.

Baie vreemdelinge in die stad het baie opofferings gemaak vir ʼn beter opvoeding en toekoms. Hierdie stad word die Universiteit genoem en internasionale studente is die toekomstige leiers van lande.  In 2020 was daar meer as 4 200 internasionale studente  uit 110 lande op Stellenbosch-kampus.

ʼn Engelstalige erediens in die Khaya en Bybelstudie-byeenkomste bied ʼn geestelike tuiste vir studente.  ʼn Groep bied ondersteuning aan die vroue van internasionale studente. Die ontwikkeling van leiers en dissipelskap is ’n belangrike prioriteit.  Kampe, sosiale geleenthede en uitstappies word vir internasionale studente aangebied.

  • Gerhard en Melanie Weich: YWAM: Muizenberg

Foto: Gerhard en Melanie Weich saam met hulle kinders, Caleb, Benjamin en Safiya.

Gerhard was ’n gemeenteseun van Stellenberg.  Sy pa, prof. Hellmuth Weich, was ’n bekende kardioloog in Tygerberg Hospitaal, waar hy ook die opleiding van studente aan die Universiteit van Stellenbosch se mediese fakulteit behartig het.  Gerhard staan al sy lewe lank in die bediening van God se koninkryk.  Hy was eers in Egipte as sendeling werksaam en is die laaste aantal jare by YWAM (Youth with a mission) in Muizenberg werksaam.

Hy deel die volgende met lesers:

Over the past six months, we have been increasingly approached by many former staff and students for spiritual input.  In addition to providing oversight to our team, we spend many hours each week responding to voice messages, requests for input, prayer, and resources to help spiritual sons and daughters navigate the season and opportunities before them.  Some of these are leading ministries in YWAM, others are serving with local churches or planting new churches.  The Lord also prompted us to start a monthly collective to further encourage and invest into a broader group from all over the world as well.  It has been so life-giving for us as a couple to see how the Lord is initiating this, blowing upon it and deepening heart connections between ministries and leaders with similar vision and DNA.  It is nice to function in this way as spiritual grandparents, not carrying the day-to-day responsibilities for all these visions, but cheering on these leaders that we so believe in. 

  •  Johan & Rita Bloemhof: Franse Sending

Ds. Johan Bloemhof en sy vrou, Rita, is ook al hul hele bedieningstyd voltydse sendelinge in Frankryk.  Op die foto is hulle saam met hulle kinders en kleinkinders.  Johan was ’n klasmaat van my tydens ons studentejare.  Dit is vir ons ’n voorreg om ook by hul bediening daar betrokke te wees.  Hy stuur onlangs die volgende:

Verrassend! In die Covid-19-tyd gebeur meer as wat ons ooit sou kon droom.  Ons sien dit bv. op die eiland Korsika.   Hierdie jaar was die eerste keer in agt jaar dat uitreikgroepe nie die eiland kon besoek nie.  Deur die oop deur wat God vir ons geskep het,  kon ongeveer 70% van die inwoners die Goeie Nuus oor die jare ontvang.  En noudat ons vir ’n jaar ingegrendel was, gebeur daar meer as ooit tevore.  ’n Nuwe gemeente ontstaan, die ander gemeentes groei.  Meer as 200 mense, oor die eiland verspreid, luister gereeld na die Woordverkondiging via Facebook!  Sien jy die hand van die Here daarin?  Ons interaktiewe webwerf vir kinders brei vanaf dertien tale na negentien tale uit en dit bly groei.  Ons is ook in die proses om tale soos Arabies, Turks, Albanies en Oekraïnies by te voeg.  Daar was in Mei en Junie meer as ’n miljoen besoeke op die webwerwe in die verskillende tale en meer as 40 000  kinders wat aan die Bybelstudie-insetsels deelgeneem het.  Alle eer aan God vir die moderne hulpmiddels om die groot opdrag van Wêreldsending te kan uitvoer.  

  • Gerhard & Mignon Duvenhage

Gerhard en Mignon het beide in Stellenberg-gemeente grootgeword en was reeds as tieners baie betrokke by uitreike, kampe en verskeie ander jeugprojekte.  Die Here het hulle geroep om ’n voltydse jeugsendinginisiatief te ontwikkel, wat as platform vir hulle werk onder veral jongmense in Afrika, sou dien.  Hulle is dan ook die stigters van JAM (Jabulani African Ministries) wat reeds die afgelope 15 jaar op ’n besondere wyse aan Stellenberg-gemeente gekoppel is.  Hulle is voortdurend betrokke by die begeleiding van ons uitreikspanne en is deurgaans by verskeie leierskapinisiatiewe regoor Suid-Afrika en ander Suider-Afrikaanse- lande betrokke.  Gerhard en Mignon is getroud en het twee dogtertjies, Kanya en Zandri en woon voltyds op Apostelbattery, Llandudno.

  • Carina van der Merwe

Carina is ook ’n gemeentekind wat direk na haar matriekjaar ’n diensjaar by JAM gedoen het. Daarna het sy aan die Universiteit Vrystaat as ’n arbeidsterapeut gekwalifiseer.  Haar roeping was egter altyd om voltyds vir die Here te werk en sodoende het sy by ’n sendinginisiatief in Douglas, Noord-Kaap, betrokke geraak.  Na ’n geruime tyd van kinderevangelisasie in die Noord-Kaap het sy teruggekeer en voltyds by JAM aangesluit om saam met hulle die werk van die Here te doen.  Sy is buiten haar werk in die Kaapse Skiereiland, ook betrokke in die Oos-Kaap by ’n nasorgbediening vir weeskinders, asook in Limpopo by die Mavhusa-kampterrein. Daar gee sy leiding aan betrokkens by die Dream Centre.

  • Christina Khaza

Vra gerus vir verskeie van Stellenberg-gemeente se jongmense: “Wie is mamma Christina?” Hulle sal waarskynlik vinnig antwoord: “Dit is ons geliefde medewerker in die Transkei by Magwambu, naby Lusikisiki.” Mamma Christina werk by ’n kleuterskool wat hoofsaaklik weeskinders akkommodeer. Stellenberg is al vir jare betrokke by hierdie projek, voorheen bekend as Projek Samuel.  Sy is ’n geliefde medewerker en dien op die kerkraad van die Lusikisiki-gemeente en is jare lank al een van ons groot virende en medewerkers in die Transkei.

  • Marina Prins

Marina is reeds die afgelope 30 jaar voltyds in die bediening as sendeling. Nadat sy ’n aantal jare in Malawi as sendeling gewerk, het sy na Suid-Afrika terug gekeer en is vanaf 1999 voltyds werksaam by Member Care Southern Africa (sendelingversorging). Sy  bedien ook op deeltydse basis World Outreach Internasionaal se sendelinge in Afrika en is ook betrokke by die ontwikkeling van Member Care Netwerke in Afrika.

Sendelinge keer dikwels voortydig terug van die veld, omdat hulle nie geestelik of emosioneel effektief versorg word nie.  Marina bedien sendelinge onder andere deur begeleiding en berading wanneer hulle op tuisbesoek is, of permanent na Suid-Afrika terugkeer.

Marina se passie is dat sendelinge effektief versorg sal word sodat hulle in die volheid wat God vir hulle bedoel het, kan leef en bedien – sodoende word  die einddoel  bereik: “Hierna het ek ‘n groot menigte gesien wat niemand kon tel nie. Hulle was van elke nasie, stam, volk en taal en het voor die troon en voor die Lam gestaan. Hulle het wit klere aangehad, en daar was palmtakke in hulle hande. Hulle het hard uitgeroep: “Ons redding kom van ons God, wat op die troon sit, en van die Lam!” Openbaring 7:9

Baie dankie vir Stellenberg se ondersteuning van hierdie bediening oor soveel jare!

  • Renold Abrahams

Renold is werksaam by die niewinsgewinde gemeenskapsorganisasie, Shiloh.  Hy lewer daagliks voedsel by klinieke en kleuterskole in gemeenskappe soos Wallacedene, Mfuleni en Macassar af.  Verder doen hy berading en probeer mense van Scotsdene en Scotsville deur gebed en gesprekke bemoedig.  Dié gebiede gaan gebuk onder bendegeweld.

Renold sê: “Die mense leef in vrees omdat dwelms hul plekke oorneem.  Ons het die afgelope paar maande twee of drie jongmense weens bendegeweld verloor.  Die tragedie is dat hulle koelbloedig doodgeskiet is – sommiges helder oordag.

“Aan die einde van die jaar neem ons van die jongmense op ’n uitstappie waar ons net die liefde van God aan hulle wil demonstreer.”

Bydraes vir sendelinge kan ook elektronies oorbetaal word aan:

NG Kerk Stellenberg / ABSA / Tjekrekening 145 058 0011 / Takkode 632005.  Gebruik 260/001 + naam en van  as verwysing vir die betaling of e-pos jou bewys van betaling na stellenberg@stellenberg.co.za