Dagstuk | Donderdag 18 April 2024

Hierdie week, in hierdie Paastyd, reis ons saam met die eerste gemeente in Handelinge.

Handelinge 2:24-47

43Die apostels het baie wonders en tekens gedoen, en dit het almal met diep ontsag vervul. 44Al die gelowiges was eensgesind en het alles met mekaar gedeel. 45Hulle het hulle grond en besittings verkoop en die geld aan almal uitgedeel volgens elkeen se behoefte. 46Hulle het almal elke dag getrou by die tempel bymekaargekom, van huis tot huis die gemeenskaplike maaltyd gehou, hulle kos met blydskap en in alle eenvoud geëet, 47en God geprys. Die hele volk was hulle goedgesind. En die Here het elke dag mense wat gered word, by die gemeente gevoeg.

Refleksie

Saameet en verbondenheid

van huis tot huis het hulle die gemeenskaplike maaltyd gehou

Ons huise is intieme ruimtes. Jy nooi nie sommer enige iemand in jou huis in nie. Die kans is goed dat ons net die mense wat naaste aan ons is, regtig innooi in die ruimte van ons huise in. Om iemand in te nooi in jou huis in, is om jouself bloot te stel. In ’n klomp maniere is dit ’n weerlose, vulnerable, ervaring.

Brene Brown het navorsing gedoen oor wat mense werklik gelukkig maak en wat sy gevind het, is dat dit die mense is wat bereid is om broos en weerloos te wees, wat werklik geluk ontdek. Daar is min plekke waar ons werklik die ruimte het om weerloos te wees. Die meeste interaksie met ander mense is so bietjie op ’n afstand, of op die oppervlak.

Die prentjie van die eerste gemeente nooi ons om ’n gemeente te verbeel waar mense die intieme ruimtes van hulle huise en binnekamers met mekaar deel. Waar daar ’n diep konneksie tussen mense is en mense die veilige ruimte het om weerloos te wees.

Mag die kerk vandag ook ’n plek wees waar ons op ’n dieper vlak verbind is aan mekaar en op ’n weerlose manier aan mekaar verbind is. Mag ons dapper genoeg wees om weerloos te wees en ons diepste drome en vrese met mekaar te deel en mag ons ander innooi en aan hulle die ruimte gee om weerloos te wees.

Gebed

Here, ons hou mekaar so maklik op ’n afstand. Ons hou selfs soms vir U op ’n afstand en wil soms nie eers vir onsself erken wat in ons harte aangaan nie. U nooi ons uit na ’n gemeenskap van mense wat weerloos is, wat die intieme ruimtes en die dieptes van die lewe met mekaar deel. Help ons om as kerk, ’n plek te wees waar mense vry is om weerloos te wees.

Amen