Ontmoet vir Louise Rheeder . . .

Louise Rheeder het waarskynlik min bekendstelling nodig.  Na ’n loopbaan van 43 jaar in die onderwys en dit boonoop by die Laerskool Eversdal, wat in die hart van die gemeente geleë is, is daar sekerlik min lidmate wat haar nie ken nie.  Louise is pas op 21 April as ouderling in die kerkraad bevestig en Stellenberg-weekliks wou meer te wete kom oor die mens agter die juffrou.

Louise vertel dat sy in Januarie 1981 as ’n bloedjong onderwyseres in liggaamlike opvoeding by Laerskool Eversdal aangestel is en toe sommer terselfdertyd by die gemeente ingeskakel het.  “Ek het destyds baie jare in die kerkraad gedien, en moes ook soos Dirmü in die vorige uitgawe vertel het, altyd seker maak dat ek vir Bremer sjokolade na die kerkraadsvergaderings saamneem,” sê Louise.  “Nadat die kerkraad verklein is, het ek ’n eredienswerker geword en nou, na my aftrede, skakel ek graag by die Bybelstudiegroep vir vroue in.  Ek is ook ’n bestuurslid by die Elsiesrivier Care Centre.  Een van ons gemeentelede was juis betrokke by die stigting van die kleuterskool in Elsierivier.

“Ek het in Oos-Londen in ’n onderwyshuis grootgeword.  My pa was 30 jaar lank ’n onderwyser en departementshoof by Baysville Spesiale skool en my ma was die Skool se sekretaresse.  Ek het van jongs af altyd kinders na my toe aangetrek.  Ek was ook baie lief vir sport en die natuurlike keuse was toe om onderwys as ’n loopbaan te kies met liggaamsopvoeding as een van my hoofvakke.  Ek het aan die onderwyskollege in Graaff-Reinet studeer en eers heelwat later, terwyl ek al skoolgehou het, my BA-graad met Bybelkunde en geografie as hoofvakke aan die Universiteit van Stellenbosch voltooi.”

Oor haar onlangse aftrede na ’n lang loopbaan in die onderwys, vertel sy dat sy die afgetrede lewe sover baie geniet.  “Dit is ’n bevrydende gevoel om vir die eerste keer in 43 jaar soggens op te staan en te besluit WAT ek gaan doen, WANNEER ek dit gaan doen en HOE ek dit gaan doen.

“Ek is baie lief vir die buitelewe en vir diere. Ek en vriendinne stap minstens drie keer per week die koppies by Meerendal of Majik Forest uit.  Verder is fotografie ook een van my passies en die foto’s wat in my huis hang, is almal deur my tydens my reise en vakansies geneem. Ek hou daarvan om nuwe plekke te verken wat dan my emmerskoplysie, vir eendag, haal!  My tuin is ook een van my gunstelingplekkies waar ek kan sit en lees en die manewales van die eekhorinkies dophou.  Dan rits ek boonop graag op my Harley-Davidson-motorfiets rond.  Een van my hoogtepunte die afgelope ses jaar was toe ek saam met die graad 6-en 7-groep op die Oranjerivier gaan roei het.

“Wat die gemeente betref, het ek nog altyd gevoel dat Stellenberg-gemeente ’n plek is waar ek tuisgekom het.  Ek het nog nooit onwelkom hier gevoel nie. Die feit dat ons gemeenteleraars altyd bereid is om te luister, insette vra en dan bereid is om die bedieningsmodel daarvolgens aan te pas, is volgens my ’n suksesvolle bedieningsmodel.  Die verskillende eredienste bied ook aan elke lidmaat die geleentheid om te besluit watter diens hy/sy wil bywoon.

“Ek is nog onseker oor presies wat van my as ouderling verwag word, maar ek is opgewonde om by enige bedieningsveld waar hulp benodig word, betrokke te raak.  Dit is vir my opwindend  om die toekoms saam met Stellenberg-gemeente aan te pak.