Ontmoet vir Lood Conradie . . .

Hier in die begin van 2024 spog Stellenberg-gemeente met vyf nuwe kerkraadslede.  Lood Conradie is op Sondag 21 April as ouderling op die kerkraad bevestig en hy by die geestelike sorg bediening inskakel.

Lood en sy gesin is sedert 2007 lidmate van die gemeente en hy is die afgelope sewe jaar by die jeugbediening, as ’n kleingroepleier by senior kategese, betrokke.

Lood het sy skoolloopbaan aan Hoërskool Worcester voltooi.   Hy vertel dat sy pa ook ’n predikant was; dus het hy as kind op verskillende dorpe gewoon, onder andere ook op Oudtshoorn.  “Na skool het ek my nasionale diensplig by die Suid-Afrikaanse vloot voltooi en in 1990 by Sanlam begin werk,” sê Lood.  “Ek het deeltyds aan die Universiteit Vrystaat in finansiële en beleggingsbeplanning studeer en ek is reeds die afgelope 25 jaar as ’n gesertifiseerde finansiële beplanner werksaam.  My kantore is tans in die Vineyard-kantoorkompleks in De Bron.

“Wat stokperdjies aanbetref, of wat ek in my vryetyd doen – ek het onlangs begin draf.  Dit is eintlik die gevolg van ’n uitdaging wat tussen ’n klompie vriende ontstaan het en die uiteinde daarvan was dat ek vanjaar die Two Oceans-halfmaraton voltooi het.  Ek speel darem ook so ’n bietjie gholf wanneer ek tyd daarvoor kry.

“As gesin is een van ons jaarlikse hoogtepunte ons Desembervakansies.  Dan kampeer ons vier weke lank in die Santoskaravaanpark in Mosselbaai.  Ons kuier ook graag deur die jaar in ons vakansiehuis in Oubaai, naby Heroldsbaai.  Tyd saam om die sportveld, of saam met vriende en familie om die braaivleisvuur, is ook gereelde gebeurtenisse op die Conradies se kalender.”

Oor wat vir hulle aantrek in Stellenberg-gemeente, sê Lood dat die gemeente en sy mense vir hom ’n anker in die gemeenskap is.  Dis asof die gemeente soos ’n baken in die gemeenskappe van Eversdal en Stellenberg funksioneer.

“As lid van die kerkraad sal ek graag ’n bydrae wil maak om voort te bou op die sukses van die gemeente, sê Lood.  “Ek sal graag waar moontlik ’n bydrae wil lewer sodat die waardes en die missie van die gemeente onverpoos uitgebou word.”