Oggenddiens | Maandag 11 Desember 2023

 

Die volgende paar dae is dit my voorreg om saam jou te kuier. Ons gaan gesels daaroor om passievol te lewe op verskillende vlakke van ons lewe. Vandag staan ons stil by die eerste tema: Om passievol te lewe.

 Teks: Filippense 4:4

4Wees altyd bly in die Here! Ek herhaal: Wees bly!

GEDAGTE

Dis die einde van die jaar en dalk voel jy ook bietjie uitgeput na ’n vol en besige jaar. Dan is ’n boodskap soos vandag s’n iets wat jy nodig het. Om passievol te lewe.

Daar is ’n artikel geskryf “Living with passion is about creating and experiencing joy in as many aspects of life as possible”. Ons weet almal dat die lewe nie altyd net maklik en gelyk loop nie. Maar dit is juis die gehem om in alle omstandighede of dit nou uitdagend is, of maklik gaan met volle passie te lewe.

’n Passievolle lewe is meer as net ’n filosofie – meer as onbenullige wense vir geluk in jou gedagtes. Dis nie ’n probleemvrye feëverhaal-bestaan nie en dit belowe ook nie rykdom en faam nie. Eerder – dis ’n bestaan wat bewustelik gekies word ten spyte van omstandighede. Dit is ’n besluit om met jou kop omhoog te lewe. Omhoog nie a.g.v. hoogmoed nie, maar juis omrede jy opkyk na jou Skepper wat jou krag gee vir elke dag.  Dit is om sonder huiwering deur elke storm van die lewe te beweeg en om wyser en sterker anderkant uit te kom. Dit is om aanhoudend te leer, lief te hê en te groei.

’n Passievolle lewe is ’n vervulde lewe. Dit laat jou toe om te sê: “Hierdie is belangrik. Dit is wat die Here my gegee het om na die wêreld te bring en ek gaan dit volstoom doen.”

’n Passievolle lewe bedoel jy neem verantwoordelikheid vir jou keuses, jou aksies en jou ondervindings. Jy leef uit die genadehand van God. Om passievol te lewe is om entoesiasties te lewe. ’n Passievolle lewe is ’n inspirerende geskenk wat jy vir ander kan gee. Vind jou passie vandag en deel vandag jou entoesiasme vir die lewe met die wêreld.

GEBED

Here, U het die lewe aan my as geskenk gegee. Help my om dit passievol te leef.

Amen