Dagstuk | Saterdag 9 Desember 2023

Vandag is Saterdag 9 Desember en hierdie week was ons tema: Adventskrans, waar ons nagedink het oor die nuwe kerklike seisoen waarbinne ons beweeg. Ons het geleer dat die Adventskrans ’n gebruik was wat in die 16de eeu by Lutherane sowel as Katolieke in Duitsland begin het. Daarmee word Advent ingelei, die seisoen waarin Christene hulleself geestelik voorberei het om die koms van Jesus Christus met Kersfees te vier.

Soos u weet het ons met ons Kerssangdiens die mooiste Adventskrans gemaak wat vir die volgende paar weke tot Kersdag in die liturgiese ruimte teen die muur gaan hang. Die Adventskrans is ‘n sirkelvormige krans met immergroen takke en blare wat die ewigheid voorstel. Gewoonlik as die krans plat lê word daar vier of vyf kerse gerangskik. Ons het hierdie week dus by elke betekenis van die verskeie kerse stilgestaan. Vier Sondae met 5 kerse wat ons geestelik voorberei het op die koms van Christus.

Ons eindig dus vandag af met die Adventskrans as simbool wat die ewigheid voorstel.

Dit maak ’n soort verwagting en afwagting in ons wakker om oor na te dink binne hierdie Kerstyd oppad na Kersdag toe.

Skrifgedeelte: Openbaring 22:12-15

“En kyk, Ek kom gou, en my loon is by My, om elkeen te vergeld soos sy werk sal wees. Ek is die Alfa en Omega, die begin en die einde, die eerste en die laaste. Salig is die wat sy gebooie doen, sodat hulle reg kan hê op die boom van die lewe en ingaan deur die poorte van die stad”.

Gebed: Here Jesus, ons sien uit na u wederkoms. Mag hierdie tyd van voorbereiding ons harte vul met ‘n diepe verwagting van die dag wanneer U weer sal kom. Help ons om waaksaam te wees en ons lewens in ooreenstemming met u wil te leef, in afwagting van die ewige vreugde wat voor ons lê. Amen.

Ek vertrou dat hierdie dagstukke en gebede jou gehelp het om die betekenis van die adventskrans te verdiep en jou hartsverhouding met God te versterk gedurende hierdie tyd van voorbereiding op die koms van Christus.

Vrede vir jou!