Gedagte vir die dag | Vrydag 6 Augustus 2021

Romeine 3:23-24.  Almal wat gesondig het is ver van God af, maar hulle word, sonder dat hulle dit verdien, op grond van sy genade vrygespreek vanweë die verlossing deur Jesus Christus

Hierdie twee verse het 500 jaar gelede tydens die Reformasie die wêreld en die kerk op ’n radikale wyse verander. Dis ingrypend omdat dit handel oor God se karakter wat ons nie los as ons die pad byster geraak het nie. ’n Mens wonder dan hoe dit is dat gelowiges hierdie teks, wat meer as ’n duisend jaar voor die Reformasie in die Bybel gestaan het, misgekyk het?  Vergifnis word dikwels deur ’n klomp ander realiteite in ons eie lewens oorheers en skuif dan na die agtergrond. Dit word met ander woorde die laaste oorweging en word selfs glad nie oorweeg nie. Lees weer die teksgedeelte en vra jouself wat in die pad staan van die Here se vergifnis in jou lewe?

Is dit dalk dat jy nie eerlik is oor foute wat jy gemaak het nie en dit bly ontken?  Of oorheers jou suksesse dalk die foute? Is dit vir jou moeilik om God se vergifnis doodeenvoudig te aanvaar? Hoe gaan ons dit ooit regkry om ander genadig te wees en te vergewe wanneer ons dit self nie kan aanvaar nie? Begin vandag by jouself en beleef hoe God se vergifnis spontaan in jou vloei om vandag ’n groot verskil in mense se lewens te kan maak.

Gebed

Here, skryf u Heilige Naam op my hart. Graveer dit so diep daarin dat geen welvaart my kan weglok, of teëspoed my aan u liefde laat twyfel nie. Wees vandag vir my ’n vesting by wie ek skuil. Wees my Trooster wanneer my hart breek. Wees my Helper wanneer die gevaar dreig. U was nog altyd bereid om te help in nood . . . wees bowenal my Gids wat my langs al die versoekings en gevare van die lewe veilig na my ewige bestemming lei.