1 Petrus 1:3. Aan God, die Vader van ons Here Jesus Christus, kom al die lof toe! In sy groot ontferming het Hy ons die nuwe lewe geskenk deur die opstanding van Jesus Christus uit die dood.
Hierdie teks raak ons lewe op soveel verskillende maniere aan, maar ek wil vandag net een daarvan uitlig: Die realiteit dat ons almal iewers gaan sterf. Aan die een kant sien ons uit na die belofte van die hemelse – maar aan die ander kant baklei ons om vir so lank as moontlik aan die lewe te bly en sukkel ons om van die aardse lewe afstand te doen. Is dit nie vreemd nie?
In 2 Korintiërs 5 deel Paulus hoe hy tussen hierdie twee perspektiewe vasgevang leef. Leef jy ook in hierdie spanning? In Romeine, wat waarskynlik ’n refleksie is van sy gedagtegang aan die einde van sy lewe sê Paulus dan: “Of ek lewe of sterwe, ek behoort aan God” en ons almal ken die bekende Psalm 139 wat getuig dat die hoogte van die lewe of die diepte van die dood ons nie van God kan skei nie. Die lewe is nie eers eendag nie. Dit is ook nou en is reeds as geskenk vir ons gegee deur die opstanding van Christus uit die dood.
Alhoewel dit ons vandag op maniere omring wat ons nie verstaan nie kan ons in die krag en sekuriteit daarvan leef. Mag vandag vir jou so ’n dag wees. Mag jy die krag en vreugde ervaar om dit ’n dag van lewe te maak.
Gebed
God bo my en onder my, agter my en voor my, in my en om my, God orals en êrens; somtyds en altyd. God gister en môre en eendag. God hier by my nou.