Gedagte vir die dag | Saterdag 7 Augustus 2021

Psalm 94:19.  Toe ek met baie onrus in my binneste sit, het u vertroosting my tot rus gebring.

Onrustigheid is iets wat gedurig in ’n mens se lewe ’n opwagting maak. Dit is soos wanneer ’n dowwe hoofpyn jou nie wil los nie en gedurig in jou kop klop en die ritme van jou lewe versteur.  Alles wat jy doen, of sê word op ’n manier daardeur beïnvloed. Die uitdaging rakende die gevoel van onrus is dikwels juis dat jy nie jou vinger op die oorsaak daarvan kan lê nie en dit dan nie soos in die geval van ’n hoofpyn met ’n Disprin kan behandel nie. Dit is wat ons onrustigheid in hierdie dae so uitdagend maak.  Dit is ’n sameloop van onvrede, bekommernisse en selfs miskien ongegronde agterdog.  Dit loop ook dikwels saam met ongeduld en hardkoppigheid.  Dan is daar ook die onrus binne vrees en seerkry.  Die feit is dat daar vandag ’n magdom dinge agter jou onrus kan skuil.

Bring die kraaines van jou onrus vandag na die Here toe. Wat presies is dit wat jou onrustig maak?  Wat is die regte manier om die simptome daarvan aan te spreek?  Ervaar hoe die Here jou vanoggend ontknoop om jou siel tot rus te bring.

Gebed

Here, my onrus klop in my soos ’n hoofpyn en die emosies wat in my leef is soos die kraaines van ’n vislyn. Ek weet nie waar en hoe ek dit gaan uitsorteer nie en alles lyk net vir my na ’n groot gemors.  Maak my nou rustig om iewers te kan begin om die knope in my lewe te ontknoop.

Amen.