Matteus 5:17,20. Moenie dink dat ek gekom het om die wet of die profete ongeldig te maak nie. Ek het gekom om hulle hulle volle betekenis te laat kry. As julle getrouheid aan die wet nie meer inhou as die van Fariseërs en Skrifgeleerdes nie, sal julle nooit die koninkryk van die hemel ingaan nie.
Die Skrifgeleerdes en Fariseërs het presies geweet wat God in die wet van Moses en deur die profete van hulle verwag het. Wat Jesus hulle in die teks van bewus maak was hulle gebrek om die betekenis daarvan vir hulle hede te onderskei, sodat die beginsels daarvan God se karakter te voorskyn bring. Wat is volgens Jesus in die teks verkeerd? Die feit dat mense godsdienstige wette en reëls oortree, of dat hulle deur dit te onderhou God se ware karakter verduister? Die teks vertel die tragiese storie van die laasgenoemde en dit is waaroor die teks vandag ons wil laat nadink. Waartoe wil die Here ons in vandag se gedeelte aanmoedig? Dit spoor ons aan tot ’n toegewyde en nougesette lewe wat met wysheid die lewe en omstandighede voor ons onderskei. Dit wil ons dus nie by ‘n rigiede reël of wet uitbring nie, maar spoor ons aan tot dieper insig in God se aard en karakter wat ons wil kom omvorm. Hoe praat hierdie gedagte met jou? Hoe help dit ons om moeilike en uitdagende situasies om te draai in geleenthede waarin die Here mense kom heelmaak?
Gebed
O Heilige Gees van God, bly by my in hierdie dag. Wees my inspirasie om my vandag te help ontdek dat daar veel meer aan my geloof en godsdiens is as wat ek dink. Bring in my ’n sin om die regte ding te sê en te doen, maar in die besonder die vermoë om reg te kan onderskei. Bewaar my dus juis van ’n godsdienstigheid wat nie die ware karakter van U genade weerspieël nie. Help my om die wonder raak te sien van hoe U my, die mense om my en die omstandighede waarin ons onsself bevind kan omdraai.
AMEN.