Gedagte vir die dag | Vrydag 6 Januarie 2023

Teks: Matteus 5:43. Julle het gehoor dat daar gesê is: ‘Jou naaste moet jy liefhê en jou vyand moet jy haat’. Maar Ek sê vir julle: Julle moet julle vyande liefhê, en julle moet bid vir dié wat julle vervolg, sodat julle kinders kan wees van julle Vader in die hemel. 

Die mense wat rondom Jesus gesit het, toe hy hierdie woorde gespreek het, was van Joodse afkoms en was goed bekend met die beginsel in Levitikus wat bepaal het dat jy nie ’n grief teen ’n volksgenoot, wat as jou naaste geag is, mag koester nie. Jesus het hierdie welbekende reël omgedraai toe hy mense geleer het dat hulle vyande hulle naaste is en dat hulle ook op dieselfde liefde en sorg as volksgenote geregtig is. Hoe kry jy iemand liefgehê as haat en frustrasie oor die persoon in jou hart leef? Hoe raak ’n mens van diep gewortelde konflik en seerkry ontslae om iets anders in mense raak te sien? In dié gedeelte kom leer die Here ons ’n diep waarheid. Jesus is nie net die middelaar wat die onmeetlike afstand tussen my en God wat onsienlik is kom vul nie, hy is ook die middelaar tussen my en enige ander mens. Vernuwing het nie soseer te doen met die feit dat ons beter mense word nie, maar eerder met die Here wat ons stroop om sodoende in die basiese menswees van ander te deel. Gee aan die begin van die jaar die Here die ruimte om op hierdie manier reg voor jou oë ‘n nuwe wêreld oop te breek.

Gebed

Laat ons met U saamloop, U vergesel. Gee ons lig uit u goedheid. Maak ons soos U – sodat ons waarlik mens kan word. Lewensmeester, in U sien ons wat menswees waarlik is. In U aangesig sien ons die aangesig van God. Waar U is, word die wêreld anders. Verander ons ook, Here! Maak van ons mense. Here, ons glo – kom ons ongeloof te hulp.