Gedagte vir die dag | Donderdag 5 Augustus 2021

1 Kronieke 16:11.  Soek hulp en beskerming by die Here, soek gedurig sy teenwoordigheid.

Ons is gedurig in ons gedagtes besig om probleme en uitdagings uit te sorteer. Net soos jy op ’n punt kom om vir die een probleem ’n oplossing te vind, is daar weer ’n nuwe een in sy plek. Waar sal jy vandag jou hulp vandaan kry? Of eerder, van waar sal jy antwoorde ontvang? Kinders en jongmense sal waarskynlik vinnig hulle selfone te voorskyn bring en op die internet begin rondsoek, of sommer vir “Siri” vra.  Binne sekondes ontvang ’n mens dan ’n reeks opsies en antwoorde daar boonop nog gewoonlik ’n video ook wat ’n mens presies wys wat om te doen.

Toe Dawid as deel van ’n loflied hierdie teks gesing het, het hy iets anders in gedagte gehad as ’n paar antwoorde. Vir hom was dit belangrik om tyd in sy dag aan God te wy. Dit het in hom gedagtes en gevoelens na vore gebring wat gehelp het om besluite te neem. Ons eie uitkoms lê dus nie soseer om by die regte antwoorde uit te kom nie, maar om in ons soeke reg te begin: Soek hulp en beskerming by die Here, soek gedurig sy teenwoordigheid. Ons glo dat die Here dan self die pad verder met ons sal stap.

Gebed

Here daar is in hierdie tyd so baie dinge wat ek moet hanteer en besluite wat ek moet neem. Ek vertrou op my en ander mense se oordeel en probeer ingeligte besluite neem. Ek besef egter dat al hierdie dinge my net meer gespanne en onrustig maak. Daarom wil ek vanoggend, ja elke oggend eerder by U begin. U wat my hart en gedagtes deurgrond en in my gemoed rus en vrede bring.  Wanneer ek dus nou tyd neem en hierdie dag se take en realiteite voor U kom lê bid ek Here dat U my insig gee oor wat om te doen en wat om te sê. Dankie dat ek hierdie dag met ’n verwagting kan ingaan.