Deur: Ds. Schalk van Wyk
Ek het op Aardedag (goed, die internet praat Amerikaans en noem dit Earth Day – maar u weet wat ek bedoel) gaan sit om hieraan te begin skryf. Ons dink meestal nie daaraan dat dit nie net mense is wat belang het by wat Jesus aan die kruis kom doen het nie, want ons is van nature selfsugtig; totaal en al selfgesentreerd. Daar is selfs teoloë wat reken dat selfsug die wortel van alle sonde is. As jy op ʼn sonde afkom, en jy trek sy klere uit en sny sy vleis tot op die been af, lyk al wat ʼn sonde is se skelet presies eenders: suiwer selfsug – en hierdie einste selfsug hou baie van ons se geloofslewe ook orent. Sommige redeneer bv. so: Solank ek weet dat Jesus vir my sonde betaal het en dat ek eendag hemel toe gaan, is die saak wat my betref, afgehandel. Die hemel gaan vir my hemels wees (solank ek net my vertrek daarheen so lank as moontlik kan uitstel!), maar die punt is, vir wat sal ek my bekommer oor die kruis se betekenis vir die aarde? Wie so redeneer, beroof Christus van sy eer en maak van die kruis ʼn blote toegangskaartjie tot die hemel! Laat ek verduidelik hoekom ek so sê, want wat op Golgota gebeur het, is vir die hele skepping belangrik.
Die aarde, die wêreld, die sterre en planete – kortom, die ganse skepping – behoort aan die Here (Psalm 24:1). Dit is een enorme, groot kunswerk waarop die Skepper oneindig trots is – kyk maar net in Genesis 1 hoe God kort-kort tydens die skeppingsproses sy tevredenheid met die resultaat uitspreek. (Gen. 1:4,12, 21, 25, 31).
Ons weet ook dat hierdie skepping weens die sonde van ons selftevrede en selfgesentreerde mensdom, ʼn onvriendelike plek vir ons geword het. Dit is byna soos ʼn skilder wat die mooiste, wonderlikste skildery nou net voltooi het en dan om die kyker te straf vir sy ondankbaarheid, ʼn lang sny in die doek maak. Jy kan nog sien dat dit ʼn wonderlike skildery is, maar jy weet ook die heeltyd terwyl jy daarna kyk, dat hy seergekry het. Paulus verpersoonlik die skepping in Romeine 8 en sê dan dat die hele skepping in gespanne afwagting is vir die wederkoms van Christus, want dan word die skepping weer heelgemaak. Hierdie Skilder wil immers die doek nie net herstel nie, maar ook nog mooier maak as wat die oorspronklike was. Jesus se dood aan die kruis was deel van hierdie herskeppingsproses. God kan en wil die aarde nuut en nog mooier maak as wat hy was en Johannes sê vir ons dat aan die kruis daar iets wonderbaars in hierdie verband gebeur het. Daarom begin hy ons sommer van hoofstuk 1 af op hierdie wonder voorberei.
Kyk mooi:
“In die begin het God die hemel en die aarde geskep” (Genesis 1).
“In die begin was die Woord…” (Johannes 1).
En dan die belangrike vers 3: “Alles het deur Hom ontstaan, en sonder Hom het selfs nie een ding wat bestaan, ontstaan nie.”
Die Woord (dit is Christus), só wil Johannes van meet af aan duidelik maak, was van die begin af betrokke by die ganse skepping – ʼn mooi en wonderlike skepping is vir Hom belangrik. Johannes wil ons dit dus op die hart druk dat ons tog asseblief nie Jesus se betekenis moet versmal tot die redding van ons siel, of moet inperk tot ons sogenaamd geestelike lewe nie. Johannes het immers in ‘n tyd gelewe toe daar ‘n valse evangelie die rondte begin doen het. Vir hierdie ”evangelie” was die materiële dinge (selfs ons liggame!) die werk van ʼn mindere God. Die Vader van Christus het die gees, of siel gemaak. In hierdie soort verkondiging het alles om die geestelike gedraai. Die mense wat so gedink en gepraat het, het selfs sover gegaan om te sê dat Jesus maar net ʼn skynliggaam gehad het, want die seun van God kon tog nie regtig ʼn mens van vlees en bloed word nie! Hy het dus ook nie regtig gely nie, want Christus se lyding, so het hulle verkondig, was ook maar net skynbaar. Teen hierdie manier van dink wou Johannes ook die ware evangelie beskerm. Daarom waarsku hy in een van sy briewe (1 Johannes 4:1-6) dat die mense wat sê dat Jesus nie werklik ʼn mens van vleis en bloed was nie, deur die gees van die Antichris geïnspireer word.
As ons dus in Johannes 3:16 lees dat God die wêreld so lief gehad het dat hy sy unieke Seun gegee het, lê die klem wel op mense, maar nie net op hulle nie. Die Griekse woord wat met wêreld vertaal word in hierdie teks, is die woord “kosmos”. Daarom kon ʼn Nederlandse teoloog bv. ʼn boek oor dié teks skryf, met die titel De kosmische betekenis van Christus. Kosmos beteken gewoon die heelal. Christus beteken nie net vir my siel iets nie, sy betekenis strek veel, veel wyer. Ook in hierdie teks lê Johannes dus ʼn stukkie fondasie neer vir die groot wonder in die kruisverhaal.
Dit is nou tyd dat ons aan die voet van die kruis gaan staan. Aan die kruis sê Jesus net voor hy sy gees oorgee: “Dit is volbring!” (Johannes 19:30). Die Griekse vertaling van die woord wat Jesus daar gebruik, is dieselfde Griekse vertaling vir die woord wat Genesis 2:1-2 gebruik om te sê dat God die skepping voltooi het. Dit is nie toevallig dat dit dieselfde woord is nie. Johannes wil hê dat sy lesers, wat hulle Griekse Ou Testament goed ken, raaksien wat hier gebeur het. Christus het die skepping van die nuwe hemel en aarde aan die kruis kom voltooi, en let op: In Genesis 2 lees ons dat God op die sewende dag (die Sabbatdag) gerus het net na God die skepping voltooi het. Johannes vertel dat Jesus, net nadat Hy die skeppingswerk van die nuwe aarde en hemel voltooi het, graf toe is waar Hy op die sewende dag (die Sabbatdag) gerus het.
Ek hoop u het nou baie vrae. U wonder waarskynlik wat dit alles beteken en waarom dit dan wonderlik is om al hierdie dinge te weet. Ek sal graag volgende week, en ook daarna, meer dinge uit Johannes se kruisverhaal uitlig wat hierdie interpretasie ondersteun en bevestig, en ook vir u help om die wonderbare betekenis wat vir ons daarin skuil, raak te sien. Dalk kan u intussen vir u hond of kat of vir die voëltjies in die boom sê dat Jesus se kruis ook vir hulle betekenis het. Hulle gaan nie verstaan nie (behalwe as u hond regtig so slim is as wat u vir u vriende vertel), maar dit maak nie die betekenis minder nie en u gaan dalk sélf snap dat Jesus groter is as wat u tot nou toe gedink het. Boonop verheerlik dit die Een wat alles aan die kruis volbring het. Hy wil immers nie net in ons “geestelike lewe” opgesluit wees nie, maar die Verlosser wees van ons ganse lewe en wêreld.
| Ds. Schalk van Wyk is ’n emeritus leraar en voorheen van die NG kerk Kleinmond. Hy woon tans in Edelweiss. Hy verwag nie dat almal noodwendig met hom saamstem nie en nooi lesers om hom per e-pos te kontak by swvanwyk@gmail.com.