Dagstuk | Woensdag 10 April 2024

Vandag is Woensdag, 10 April en hierdie week reis ons saam deur die laaste deel van die gemeente se geloofsbelydenis: Om voordurend te vernuwe.

Ons het Maandag gehoor dat ons nuwe mense is in Christus, gister het ons gehoor dat ons na die wêreld moet kyk deur God se bril.

Vandag gaan ons kyk na die verhaal van Lukas 10:38-42. Hierdie verhaal wys vir ons wat vir Jesus belangrik is. Dit vertel ietsie van hoe ons daagliks vernuwe kan word.

Kom ons lees saam: 38Op hulle reis het Jesus in ‘n dorp gekom waar ‘n vrou, Marta, Hom as gas ontvang het. 39Sy het ‘n suster gehad, Maria, wat aan die voete van die Here gaan sit en na sy woorde geluister het. 40Maar Marta was baie bedrywig om alles klaar te maak. Sy kom toe daar staan en sê: “Here, hinder dit U nie dat my suster my alleen laat bedien nie? Sê sy moet my kom help!”

41Maar die Here antwoord haar: “Marta, Marta, jy is besorg en bekommerd oor baie dinge, 42maar net een ding is nodig. Maria het die beste deel gekies, en dit sal nie van haar weggeneem word nie.”

Ons is soms net soos Marta wat jaag van punt a na b en met die skoolvakansie wat verby is, is alles weer “back to normal” maar Jesus herhinner ons hier dat om voordurend vernuwe te word dit nodig is om tyd te maak by sy voete. Om deur God se bril te kyk is dit nodig om rustig te raak by Hom.  Wanneer ons rustig raak by sy voete word ons nie net bewus van God se wil nie, maar kry ons ook nuwe krag en energie vir die lewe. Moeder Theresa skryf: “Gebed is om jouself in die hande van God te plaas, tot sy beskikking, en om na sy stem in die diepte van ons harte te luister”.

Ek wil ons vandag uitdaag om ’n oomblik in jou dag net ’n tydjie te maak om by God se voete rus te vind.

Kom ons bid saam:

Dankie Here, dat U saam met ons tyd wil spandeer. Dankie dat U wil hoor hoe dit met ons gaan, Here. Here, ek vra U om ons te help om tussen al die gejaag van die wêreld ’n tydjie te kry om by u voete te kom stil staan en om vernuwe te word en met u oë na die wêreld te kyk. Amen