Dirmü verlaat die kerkraad na meer as twintig jaar

“Ek weet nie presies hoe lank ek op die kerkraad gedien het nie,” sê Dirmü Gouws.  “Ek kan wel onthou my kinders was nog klein toe ek bevestig is en Marius Breytenbach het vir my gesê ek was al op die kerkraad toe hy twintig jaar gelede by Stellenberg-gemeente begin het – so dit moet meer as twintig jaar wees.

“Ds. Bremer Gericke het my destyds benoem.  Hy het gehou van vrouens in sy span – seker te verstane met vier dogters in die huis.  Ek onthou ek het hom gevra wat ek na my eerste kerkraadsvergadering moet saamneem en sy antwoord was “sjokolade”.  Hy het toe altyd seker gemaak ons sit langs mekaar sodat ons die sjokolade tydens die vergadering kon deel.

“Die kerkraadsbeplanningsessies was altyd vir my lekker.  Ek het dit geniet om saam te dink en beplan aan die rigtng waarin die gemeente gaan beweeg.”

Oor hoogtepunte en veranderinge in die gemeente, sê Dirmü die Sondagviering sal altyd vir haar ’n hoogtepunt wees.  “Ek geniet die saamkuier na die eredienste in die markplein of teetuin.  Die gemeentebraai een keer per maand is ook ’n baie gesellige byeenkoms.

“Oor die jare heen het die voorkoms van die kerk ook baie verander.  Alhoewel ons kerkgebou 50 jaar oud is, het ons die interieur van die ingangsportaal en die liturgiese ruimte aangepas en gemoderniseer en ek voel baie tuis in die ruimte soos dit nou lyk.  Die tafels en stoele wat tydens die Covid-19-pandemie in die saalruimte van die kerk ingebring is, is ’n tyd lank daarna steeds gebruik en dit was vir my heerlik om saam met vriende om die tafel ’n erediens by te woon. Ek mis wel die ou wykstelsel wat in die gemeente gefunksioneer het.  Dit was vir my lekker om by mense in my wyk betrokke te raak deur middel van fokusprogramme wat in die gemeente aangebied is, of wanneer ons vir die basaar saamgewerk het.

“Oor die afgelope vyf jaar het die gemeente groot veranderinge ondergaan, met drie van ons voltydse leraars wat redelik na aan mekaar afgetree het en boonop in dieselfde periode as die Covid 19-pandemie.  Dit het tot gevolg gehad dat ons vinnig anders en nuut moes dink oor hoe dinge in die gemeente gedoen moet word.  Die nuwe leraars wat by die gemeente aangesluit het, moes baie vinnig in die omgewing van ’n makrogemeente aanpas, maar hulle het ook weer gesorg vir nuwe dinamika.  Dit was vir my goed om te sien hoe hulle aanpas en ook hulle eie bedieningstyle na vore bring.

“Ek behartig steeds Sondagoggende diensbeurte by die kafeteria en ek geniet my Bybelstudiegroep baie, maar in die stadium gaan ek nie veel meer hooi op my vurk laai nie.”

Geniet die welverdiende ruskans, Dirmü. Red.