Ek lees weer vir ons uit Johannes 4:10. Jesus het haar geantwoord: As jy geweet het wat God gee, en wie dit is wat vir jou sê: Gee My ‘n bietjie water om te drink, sou jy hom gevra het, en Hy sou vir jou lewende water gegee het.
Wat sou jy vandag vir die Here wou vra as jy geweet het dat dit Hy is wat nou met jou praat? Wat sou jy Hom wou vra? Soos Jesus met die Samaritaanse vrou praat en sy onder die indruk kom dat Hy ‘n profeet is stuur sy die gesprek in die rigting van ‘n baie ou godsdienstige debat wat ons reeds vroeër in die week oor gepraat het. Die vraag na watter kerk/plek die regte plek is om God te ontmoet. Gegewe die probleme en uitdagings van haar lewe wonder ‘n mens. Gryp sy die geleentheid aan om die regte vrae te vra? Kom ons dink aan die situasie in die konteks van ons eie lewens. As jy regtig geweet het dat dit God is wat besig is om met jou te praat, wat sou jy Hom gevra het? Sou ons God wou uitvra oor die moontlike uitkoms van 2024 se verkiesing of wat Hy dalk sou dink oor Israel se hantering van die Palestynse bevolking? Dit sou wel interessant wees, maar daar is dieper lewensvrae wat ons lewens raak. Wat vra ons vir God? Dink aan hoe ons bid. Doen ons dit in die gesindheid dat Hy regtig hier by ons is of praat ons in ons gebede in die algemeen oor God? Daar is ‘n groot verskil tussen die twee. Wanneer ons onsself toelaat om ons rou denke en emosies in gebed of meditasie eerlik na die oppervlak te bring maak dit skielik ‘n nuwe venster op ons hede en toekoms oop. Amper soos wanneer jy binne ‘n kerk staan met gebrandskilderde vensters en dit jou uitsig op die wêreld daarbuite inkleur. Wat God van ons vra is nie moeilik nie. Dit is om tyd te neem om spontaan die goeie en slegte in jou lewe aan God oor te gee.
Gebed
Vandag vra ek U net, Here my God, gee Uself vir my, want die wete dat U vandag hier by my is, is meer werd as enige gawe wat U my kan gee. Kom, Here, genees my verlede. Bevry my van bitter herinneringe. Kom gee my hoop vir vandag en môre. Laat U vrede my gedagtes kalmeer. Here, daar is soveel wat ek nog in my spontane menswees vanoggend vir U wil vra. Dankie dat ek die vrymoedigheid kan neem om by U myself te kan wees en vandag my hart aan U kan blootlê.
Amen.