Ek lees graag vandag ‘n gebed wat ‘n verwerking is van ’n baie bekende Psalm deur die skrywer en sanger Frieda van den Heever. Ontvang vanoggend hierdie woorde en mag dit vir jou vandag ’n troos wees:
Al sou die foon nie lui nie en die werk nie meer instroom nie
Al sou my kar se tenk al lankal sonder petrol wees
Al sou ek voel of ek almal teleurstel en al die spieëls in woonstel afhaal dat ek net nie myself in die gesig hoef te staar nie
Al kyk ek op na die berge en wonder waar die ou se hulp dan vandaan gekom het of het hy sommer gepraat
Al is my vertroue in als wat regeer verskeur en ek is moeg baklei en ek is seer probeer
Nogtans sal ek … nogtans sal ek … my op God verlaat
Al sou ek een salaris van die straat af wees en ek vir my kinders se toekoms vrees en ek lankal nie meer die tekens van die tyd kan lees nie
Al sou ek niks meer besit en niks meer beheer
en die wie’s-wie my ignoreer
ek soos ‘n vreemdeling agter ‘n masker voel
Al kyk ek op na die berge en wonder waar die ou se hulp dan vandaan gekom het of het hy sommer gepraat
Al is my laaste vertroue in als wat regeer verskeur en ek is siek van stilbly, ek wil rebelleer
Nogtans sal ek in die Here juig
in Liefde wat bloei en bind en buig al is dit al wat ek het
Die Here my God gee my krag
Hy maak my voete soos dié van ‘n ribbok
op hoë plekke laat Hy my veilig loop
Sy liefde fluister diep in my dit is wel, dit is wel al voel dit nou soos hel,
nogtans is dit wel