Gedagte vir die dag | Sondag 25 Oktober 2020
2 Korinthiërs 4:16: “Om hierdie rede word ons nie moedeloos nie. Al is ons uiterlik besig om te vergaan, innerlik word ons van dag tot dag vernuwe.”
Alhoewel die Amerikaaanse skrywer Damon Runyon se boeke meestal oor skurke en kriminele in New York gaan, was die gewilde skrywer self ook ’n diep gelowige man. Maar dit het hom nie verhinder om oor die dood met ’n skalkse humor te skryf nie. Soos toe hy geskryf het oor die dood wat hom in 1944 besoek het, maar toe ontdek hy dat dit te gou gekom het en weer moes vertrek.
Ek onthou ook ’n oom, Hannes van Wyk, wat in die Paarl gewoon het, en kanker gekry het. Hy besef toe op ’n stadium dat hy op die einde van sy lewe is, en het al sy kinders bymekaar gemaak en al sy besittings aan hulle uitgedeel. Hy was boonop ’n redelik grapjas . . . en toe sy beplanning nie uitwerk soos wat hy gedink het nie, het hy die kinders weer bymekaar geroep en gevra dat hulle eers weer van die goed moet terug gee, want hy leef nou baie langer as wat hy gedink het!
Runyon skryf onder andere dat hy onwillekeurig aan Koning Agag, die verslaande koning van die Amalakiete gedink het. Volgens die Bybelse verhaal het Samuel, nadat hy die goddelose koning se volgelinge om die lewe gebring het, ook vir Agag laat kom. En dan lees ons daar in 1 Samuel 15:32: “Agag het opgeruimd na hom toe geloop en gesê: Nou is ek nie meer bang dat hulle my sal doodmaak nie.” Die volgende oomblik het Samuel egter ook oor hom die doodsvonnis uitgespreek. Dit het in daardie dae maar dikwels rof gegaan.
So kan die einde vir ons elkeen onverwags kom. En dan word ons tot verantwoording geroep en is dit te laat om soos Agag met ’n opgeruimde gesig ons verlede te probeer weglag. Dit laat my dink aan die storie van oom Swart Adriaan, soos hy bekend gestaan het, vir wie die predikant in die Suid-Kaap, nooit vir huisbesoek by die huis kon kry nie. Daardie tyd het die dominee mos die mense op die plaas besoek. En toe betrap die predikant hom toe eendag net voor hy by die plaashek wil uit. Die dominees sê toe spottenderwys: “So loop ons mekaar toe uiteindelik raak”. Maar oom Adriaan het baie bedees geantwoord: “Ja dominee, selfs berge ontmoet mekaar, waarom dan nie ook mense nie?”
Daar sal vir ons almal een of ander tyd ’n oomblik van waarheid aanbreek. Ons dink die berge wat mekaar spreekwoordelik ontmoet, lê nog ver vir ons. Daarom het die profeet Amos ook sy volk gewaarsku in Amos 4:12: “Maak jou klaar om voor God te verskyn.
Maar is ons regtig gereed om die Here te ontmoet? Gelukkig kan daardie ontmoeting vir elkeen wat gereed is ’n vreugdevolle oomblik wees. Nie een van ons wil sommer net nou al doodgaan nie, maar ons hoef nie bang te wees daarvoor nie. ’n Ou vriend herinner my onlangs daaraan dat God anders somme maak as ons, want hy tel nie op nie, hy trek al ons sondes af waarvoor Jesus aan die kruis betaal het.
Gebed
Here, dankie dat ons elke dag uit u genade kan leef. Help ons om so te leef dat ons U enige tyd kan ontmoet. Gee vir ons die vermoë om elke dag aan te gryp en voluit as u kinders te leef en ’n gestalte te wees van liefde en diensbaarheid tot seën vir ander.
Gedagte vir die dag | Saterdag 24 Oktober 2020
Spreuke 5:21. “Onthou die Here sien alles wat ’n mens doen en Hy beoordeel elke daad.”
Ek het jare gelede gehoor dat tydens ’n konferensie van Presbiteriaanse predikante (dis die Engelse kerk wat die meeste met ons ooreenstem) in Skotland, ’n paar van die dominees, ek dink daai tyd was dit meestal mans, besluit het om een middag na hul werksessie ’n ent te gaan stap. Ongelukkig het ’n stortbui reën hulle oorval en hulle moes inderhaas weer na die plaashuis koers kry. Op die plaaspaadjie was ’n ou voetbrug oor ’n sterk bergstroom en terwyl hule nog wik en weeg of hulle die tog oor die rivier sal aanpak, het ’n ou Skot wat op die plaas gewoon het, na hulle aan gehardloop gekom en sy arms wild rondgeswaai om vir hulle iets te beduie.
Die een predikant het hom probeer gerus stel met die woorde: “Alles is reg, ons is Presbiteriaanse predikante wat die konferensie bywoon. Die ou Skot het hom blykbaar net een kyk gegee en gesê: “Ek gee nie om of julle Presbiteriane, of wat ookal is nie, maar julle as julle oor daai mankoliekige bruggie loop, gaan julle almal vandag Batiste word.
Is dit nie tyd dat gelowiges oor kerkgrense heen in ons land moet begin saamstaan nie? Nie net noodwendig saam begin bid nie, maar ook mekaar se hande vat. Veral wanneer dit oor ons Christelike beginsels en waardes in ’n land wat letterlik en figuurlik “brand”, gaan. En dikwels vind ons gelowiges aan die teenoorgestelde kante van die spektrums rakende rassisme en baie ander kwessies. Ek hoef nie uit te brei oor die sake wat tussen mense staan nie.
Dawid vra tereg in Psalm 11:3 “As die fondamente ondermyn word, wat kan die regverdige daaraan doen?” Behalwe om bloot net op God te vertou soos Dawid ons raad gee, is dit nodig dat ons soos Nehemia en sy medewerkers by die stukkende mure van Jerusalem demonstreer hoe ons kan saamwerk/hande kan vat en die verskille wat ons het kan begrawe.
Dat ons soos Nehemia samewerking in die praktyk beoefen. Dit begin by ’n gesindheid. Ek onthou die bekende Duiste predikant Richard Wurmbrand se antwoord aan iemand wat by ’n byeenkoms gevra het of die Rooms Katolieke en die Lutheriane tydens die Tweede Wêreldoorlog darem in die konsentrasiekampe met mekaar oor die weg gekom het?
Wurmbrand was verbaas oor die vraag, en het gesê: “In so ’n krisistyd dink jy nie eers aan iemand se kerkverband nie. Indien die een langs jou ’n gelowige is, beteken dit dat julle dan dieselfde dink en dieselfde taal praat.” Veral in ons hedendaagse tyd het ons nie baie mense wat die kerk se drumpel noodwendig deurtrap nie. Ons sukkel om mense in die kerk te kry, maar ons het mense nodig wat hulself as navolgers van Christus identifiseer in dit in die praktyk leef. Al behoort hulle aan watter kerk ook al.
Gebed
Here, dankie dat die gestalte van U kerk nie is in watter denominasie ons behoort nie maar of ons saam veg in die gestalte, in die werklikheid van U koninkryk wat hier in die land waar ons woon gestalte kry. Help vir ons almal om daaraan te werk en om dit in die praktyk te praat en te leef. Amen.
Gedagte vir die dag | Vrydag 23 Oktober 2020
Fillippense 1:21. “Want om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins.”
Ek het die afgelope tyd gesien wat Luitenant Kolonel Charl Kinnear,van Bishop Lavis, die polisieman wat onlangs doodgeskiet is, se familie van hom gesê het. Ek onthou lank gelede ook ’n brief wat ’n jong polisieman kort voor sy dood aan sy ouers en sy vrou wat ’n baba verwag het, sy broer en suster en ander familielede geskryf het. Hy is ook dood tydens sy stryd om misdaad te bekamp.
Hy het geskryf: “Aan my ouers, dankie vir die 25 jaar wat pa en ma lief was vir my en dat julle altyd omgegee het en my soveel keer gehelp het. Veral pa vir dit wat pa beteken het, en ma se geloof in God het ma aan ons almal oorgedra.”
Daarna bedank hy sy vriende en familie, en ook die Superintendent van die Polisie, sy kollegas, en ook uiteindelik sy vrou met wie hy getroud was. “Aan my meisiekind”, sê hy, “vir die jare wat jy myne was. Dankie dat jy my so lief gehad het, en my altyd bygestaan het in my werk en in my besluite. Dankie dat jy my vrou geword het – my gelukkigste dag. Ek weet ek was nie altyd die maklikste mens nie, maar ons liefde het altyd geseëvier. Ek moet dankie sê vir my kind, ek weet jy sal mooi na hom kyk. Net altyd die beste vir hom gee. Wanneer jy hom in jou arms vashou die eerste keer, gee vir hom ’n soen van my af, ek sal nie ver wees nie, ek sal heeltyd daar wees.” En hy sluit af deur te sê: “Ek wil vir God dankie sê vir die tyd op aarde. Dankie vir ouers en familie wat lief is vir my. Dankie vir ’n dierbare vrou en kind. Seën U hulle en bewaar U hulle tot ons eendag weer ontmoet.”
Dit is ’n roerende brief. Gelukkig het baie mense nog tyd voor hulle weg geneem word om die dinge wat op hulle hart is, te sê. Maar wat van ons? Maak tog tyd om dit betyds te sê vir die mense vir wie jy dit wil sê. Ek dank die Here vir gesinne wat ek ken in ons gemeente, en ook elders wat vir mekaar omgee en wat lief is vir mekaar. Dit gee vir ons hoop vir die toekoms.
Ek het op die volgende gebed afgekom van ’n ouer aan sy kinders: “God van wysheid, God van lig, leer ons om ons kinders te verstaan en mag hulle ons verstaan, sodat ons mekaar mag leer. Maak ons sensitief en bedagsaam wees, en terwyl ons saam in liefde groei, laat ons groei in bewustheid van U dat ons saam met U seën oor ons kinders mag ondervind.”
Ek het gedink aan wat Ebba Bowley gesê het: Die mens sterf nie, ‘n mens dink so maar dit is nie so nie. Wat ons “lewe” noem, is soms soos ’n wandeling, ons loop en loop. Somtyds het ons iemand hier langs ons, maar baie kere loop ons alleen. Somtyds loop ons gemaklik, en ander kere moeilik. Dan kom daar ’n dag wanneer alles verander en iets heeltemal nuuts begin en dan het ’n mens nie meer dieselfde behoeftes as voorheen nie. ’n Mens leef dit af en laat dit agter bly en ons gaan verder. Dit noem ’n mens “sterf”. Mag elkeen van ons terwyl ons die lewe het, voluit en met dankbaarheid leef en met goeie verhoudings met die naby aan ons.
Gebed
Here, dankie vir U genade vir mense wat U vir ons gee. Gee dat ons in liefde leef. Gee dat ons verhoudings sal regstel.
Amen
Gedagte vir die dag | Donderdag 22 Oktober 2020
Númeri 17:8. “Toe Moses die volgende môre by die tent met die getuienis kom, was daar botsels aan die kierie van Aäron, wat daar was vir die stam Levi. Trouens, daar was nie net botsels aan nie, daar was ook bloeisels en dit het selfs ryp amandels gedra. 9Moses het toe al die kieries wat in die heiligdom was, na Israel toe uitgebring, en hulle het dit gesien, en elke leier het sy eie kierie gevat.”
Daar is nie so baie verwysings na bloeisels en blomme in die Bybel nie en ons is nou in ’n tyd van die jaar waar die bloeisels mooi uitloop. Vanuit my kamervenster is daar so vyf Krismisrose wat begin uitloop het. Ek verwonder my elke jaar aan hierdie tyd van die jaar wanneer die bloeisels uitstoot en dan in besonder die krismisrose. Ek het ’n rukkie gelede met ’n Engelse persoon gesels oor krismisrose en o my aarde, daar kon die naam vir ’n krismisroos in Engels my nie byval nie. Intussen het ek uitgevind dis Hydrangeas.
Dis nogals opvallend hoe baie struike- en boomname met mense en karaktertrekke ooreenkom. Ek weet nie of die Krismisrose se naam te doen het met die mooi blomme wat veral in die Kerstyd hier by ons sigbaar raak nie, maar Afrikaanse boom-en struikname soos die Kanniedood, Haak-en-steek, Treurwilger, Raasblaar, Deurmekaarbos en Wag-’n-bietjie en dan kry mens nog die seldsame Boom-sonder-naam, amper soos band-sonder-naam, is almal beskrywend van die plantsoort en karaktertrekke in mense. Kom ons begin maar by onsself. Hoe sien ander mense ons? Om nie eers van ons Almagtige Skepper te praat nie.
Is ek ’n Haak-en-steek – altyd besig om ander mense met my optrede en woorde seer te maak en terselftertyd sommer soos die Raasblaar ook te klink. En tog sê die Bybel duidelik in Romeine 12:18: “As dit moontlik is sovêr dit van jou afhang, leef in vrede met alle mense”, of dalk is ek soos die Deurmekaarbos, ’n ongedissiplineerde mens wat alles half doen, terwyl ek soos die Bybel sê: “Alles moet doen asof ek dit vir die Here doen”. Of net so erg, is ek soos die Wag-’n-bietjie en Treurwilger, die uitstellers en die swartgalliges wat vergeet dat Jesus na ons gekom het om blydskap en vreugde te bring en so word ek as ware ’n Boom-sonder-naam en ’n mens wat niemand besiel nie, omdat ek nie gewillig is om ’n Kannie-dood te wees wat in die moeilikste omstandighede kan oorleef nie.
Mense en bome – die moeilikheid het by ’n boom begin waar die eerste mense tot ongehoorsaamheid verlei is. Gelukkig het ons verlossing ook plaasgevind by ’n boom in die vorm van ’n houtkruis op ’n heuwel waar Jesus met sy lewe vir al ons tekortkominge betaal het. Wie by die kruis kniel, se oë gaan heeltemal oop.
Ons lees hier in Numberi 17 van die wonderwerk van die bloeisels aan die kierie van Aaron. Daar staan trouens dat daar nie net botsels aan die kierie was nie, maar dat daar ook bloeisels was. Dit het selfs ryp Amandels gedra. Net soos ons, ons in hierdie tyd aan die blomme en die bloeisels wat na die winter uitstoot, verwonder moet ons daarna streef dat simboliese blomme en vrugte, na die inperkingstyd, in elkeen van ons se lewens sigbaar sal wees. Laat ons ook op dieselfde unieke wyse waarop die Krismisrose kleur aan tuine en huise gee, kleur aan ander mense se lewens bring. Eers dan word ons Kannie-dood Christene in God se diens.
Gebed
Here, gee ons die genade om bloeisels navore te bring. Dankie, dat U die oorsprong van ons vreugde, groei en die sonskyn wat ons in mense se lewens kan wees, is. Dankie, dat ons so genadig kan word deur die krag van die gees, in ons lewens. Amen.
Gedagte vir die dag | Woensdag 21 Oktober 2020
Psalm 37:5: “Laat jou hele lewe aan die Here oor, want as jy op Hom vertrou, sal Hy vir jou sorg”.
In die verre Ooste is daar ’n Chinese bamboesplant wat ’n seldsame saad dra. Wanneer ’n mens die saadjie plant, gereeld natgooi en versorg dan is daar na ’n jaar nog geen teken van ontkieming nie. Ook nie na die tweede, die derde of die vierde jaar nadat die saad geplant is nie. Dan in die vyfde jaar na die saadjie geplant is, steek die bamboesplant sy kop bo die grond uit en groei binne ’n tydperk van vyf weke tot ’n hoogte van 30m. Vyf jaar klink na ’n baie lang tyd vir ons haastige Wersterlinge, want dis juis ons gejaagdheid wat van ons sulke deurmekaar, verwarde mense maak.
Ek dink die inperkingstyd het vir my persoonlik ook ’n ander perspektief op die lewe gegee en my genoodsaak om ’n ander ritme, of pas te ontwikkel, maar die gevaar is so groot dat ons weer sommer maklik in ons ou patrone sal verval.
Solank as wat ons deur die lewe jaag, soos mense wat op vlug is, sal geluk beslis buite ons bereik bly. Geluk is nie soos ’n pragtige voël wat jy moet volg en in die hande moet kry nie. Nee, geluk sit op jou skouer as ek en jy dit maar net wil raaksien.
So jaag die mens maklik van sy kinderdae agter geluk aan en sê telkens vir homself: “As ek eers op skool is, of as ek eendag werk, of as ek getroud is, of as ek eendag kinders het, as ek hierdie of daardie plek het, of as ek maar net daardie vakansie bestemming kan bereik of dit of dat kan doen . . . en dan later, as ek eendag afgetree is . . . en so vlieg die jare verby, terwyl ons geluk na jaag. Intussen bereik die ouderdom ons en bring pyne en skete mee tot op ’n dag wat ’n mens eensklaps besef – my lewe is verby!
In Psalm 37 het Dawid sy vinger op die antwoord gelê toe hy geskryf het: “Vertrou liewer op die Here en doen wat goed is, woon en werk rustig voort. Vind jou vreugde in die Here en Hy sal jou gee wat jou hart begeer. En dan die gedeelte waarmee ons begin het: “Laat jou lewe aan die Here oor en vertrou op Hom. Hy sal sorg” in vers 3 tot 5.
Vertroue en geduld loop hand aan hand. Die saad wat ’n ouer saai in die opvoeding van sy kind, sluimer soms vir jare onder die grond en mens kyk rond en jy wonder, en raak ongeduldig want die saadjie wil nie ontkiem nie, jy het natgegooi en aangedra en jy het ingebou en mooi na die saadjie gekyk. En dan eendag, sonder dat jy dit verwag, of voorsien, of dink dit kan nie meer gebeur nie (jy het al moed opgegee) dan skiet dit op en dra vrug.
En die liefde is geduldig sê 1 Korintiërs 13, daarom moet ons ophou om kitsresultate en kitsoplossings en ook kitsgeluk te soek. Dit kom met die tyd, dit word opgebou. Kom ons hou op met jaag en gee die Here ’n kans om Sy doel met elkeen van ons lewens te bereik, al neem dit soms vyf jaar en langer om te ontkiem soos die vreemde bamboessaad uit die Ooste.
Gebed
Here, laat ons onthou dat u tyd, nie ons tyd is nie. Dat U ’n plan en ’n doel met elkeen van ons se lewens het. Met onsself, met die van die kinders, met hulle wat vir ons lief is en aan ons gebind is. Wil U, U doel met elkeen van ons bereik en gee ons ’n perspektief van geduld en van lankmoedigheid. Help ons om die groter prentjie, U prentjie te sien. Amen.
Gedagte vir die dag | Dinsdag 20 Oktober 2020
Genesis 18:14. Is iets te buitengewoon vir die Here? Op die vasgestelde tyd sal Ek terugkom. Volgende jaar hierdie tyd sal Sara ‘n seun hê.”
Dis warm. Die bokke staan in mekaar se skaduwee. Die beeste beweeg net hulle kake terwyl hulle herkou. Die skaduwees is kort. Dis die warmste deel van die dag. Abraham sit in die trek van sy oop tentdeur en sluimer in. Hy staar slaperig uit oor die woestyn, maar ’n beweging trek sy aandag. Drie figure staan skielik in die dynserigheid. Sonder om te huiwer, staan Abraham dadelik op, draf na hulle toe en buig neer voor hulle: “Menere, doen my die guns. Moenie net verby gaan nie. Laat ek eers vir u ’n bietjie water gaan haal en julle voete was. Kom rus hier onder my boom. U is nou eenmaal hier en ek wil darem vir julle ’n stukkie brood gaan haal sodat julle weer nuwe krag kan kry vir die pad wat voorlê.” Die drie mans huiwer ook nie en sê: “Goed, maak so!”
Abraham gaan die tent binne en sê vir Sara: “Bak vir ons roosterkoeke.” Abraham draf buitentoe na die beeste en kies ’n mooi jong kalf. Hy gee dit vir ’n slaaf om te slag en gaar te maak.
Abraham neem botter en melk, die roosterkoeke en die kalfsvleis en bedien dit vir die mans. Daar onder die boom in die warmste deel van die dag het die drie mans geëet.
Dan hoor Abraham en Sara die wonderlike nuus: “Oor ’n jaar sal jou vrou Sara ’n seun hê”. Skielik besef Abraham, dis die Here wat nou met hom praat. Sy gasvryheid het in ’n ontmoeting met die Here mee gebring!
Maar die tyd vir Abraham en Sara om kinders te hê is lankal verby. Geen wonder dat Sara by haarself lag en dink: “Sal ek nog genot kan hê noudat ek afgeleef is? En dit met my man wat oud is?” Maar die Here maak ’n belofte vir ’n spesifieke tyd. Hy sê: “Oor ’n jaar sal jou vrou ’n seun hê”.
Dit was toe ook só en daarom kan ek en jy ook aan die belofte van die teks vashou. Is iets vir die Here onmoontlik?
GEBED
Liefdevolle God, ons maak oop vir U werking in ons lewe.
U het ons gemaak om vreugde-gevulde lewens te hê.
Wys ons die kreatiewe krag van hoop.
Leer ons dat vrede kom van reg lewe.
Vul ons met ’n soort vreugde wat nie in toom gehou kan word nie,
maar moet oorloop sodat dit gedeel moet word.
Berei ons lewens voor om deur U verander te word,
sodat ons mag loop in die lig van Jesus Christus.
Amen.
Gedagte vir die dag | Maandag 19 Oktober 2020
2 Korinthiërs 12:9. Sy antwoord was: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” Daarom sal ek baie liewer oor my swakhede roem, sodat die krag van Christus my beskutting kan wees.
In tye van swaarkry en beproewings vra ons dikwels: Waarom en hoekom? Ons verstaan nie altyd hoekom slegte dinge met ons gebeur nie, alhoewel ons terselftertyd glo dat God met alles ’n doel het.
Behalwe vir die doring in die vlees, wat ons nie presies weet wat dit was nie, vertel die boek Korinthiërs van die pyn wat Paulus beleef het, terwyl hy hierdie boek geskryf het. Hy het bedreig gevoel en is deur sy vyande aangeval. Sy integriteit is bevraagteken, sy eerlikheid is betwis, sy gesag is uitgedaag en sy prediking is verwerp – en dit alles deur vals leraars wat na die kerk in Korinte gekom het met een doelwit, naamlik om valshede te verkondig.
Behalwe hiervoor het Paulus in sy bediening ook nog baie ander ontberings deurgemaak. Ons lees daarvan in 2 Korinthiërs 11. Hy was verskeie kere in die tronk, hy is dikwels geslaan en in doodsgevaar. By vyf geleenthede het hy die gebruiklike straf van nege en dertig houe ontvang, drie keer lyfstraf gekry en een keer selfs met klippe gegooi. Hy het boonop nog by drie geleenthede skipbreuk gely en op ’n stadium 24 uur (’n hele dag en nag) in die oop see deurgebring. Daar was vir hom dikwels nagte sonder slaap, honger, dors en ’n gebrek aan skuiling teen die koue. Saam met dit het hy ook nog daaglikse bekommernisse en besorgdhede oor al die gemeentes gehad.
Die belangrike is egter dat Paulus altyd met al hierdie uitdagings na God toe gegaan het. Die antwoord wat Paulus in 2 Korinthiërs 12:9 van God ontvang is: “My genade is vir jou genoeg. My krag kom juis tot volle werking wanneer jy swak is.” God het geantwoord, maar God se antwoord was nie om die pyn en die swaarkry weg te neem nie, maar om die genade groter te maak.
GEBED
Here, help my asseblief om my las te dra. AMEN
Gedagte vir die dag | Sondag 18 Oktober 2020
Klaagliedere 3:31-33. “Die Here verstoot ‘n mens nie vir altyd nie; as Hy beproewing oor ‘n mens gebring het, ontferm Hy Hom weer, want sy liefde is groot: dit is teen sy sin dat Hy mense in ellende en beproewing bring.”
Jeremia plaas sy ellende hier op die tafel. Hy beleef die ballingskap só erg, dat dit vir hom voel asof hy persoonlik in God se toorn geplaas is. Dit is asof hy die donker ingejaag is en die Here hom op ’n pad laat loop waar daar geen lig is nie: “Hy het my toegebou met ’n muur van gif en ontbering rondom my,” skryf hy.
Dit voel vir hom asof sy gebede nêrens kom nie en asof God weier om sy gebede te verhoor. Dit is asof daar geen uitkomplek vir hom by God is nie. Nie net het die Here hom verlaat nie, maar hy ervaar ook dat hy deur die volk uitgelag word. Dit maak die lewe vir hom galbitter.
Maar, juis in die midde van dié stryd, toe hy gedink het dit is klaar met hom het hy besef: “deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie.” God se gramskap het hulle nie totaal vernietig nie.
Geen wonder dat dié verse Robert Davidson geïnspireer het om die hoopvolle lied te skryf nie: “The steadfast love of the Lord never ceases. His mercies never come to an end. They are new every morning, new every morning. Great is Thy faithfulness, O Lord. Great is Thy faithfulness.”
Dít is ons hoop – God se troue liefde bly standvastig, selfs wanneer ons, ons in die diepste van ellende bevind. Trouens, God se trou is só groot dat ’n mens op Hom kan bly hoop en voortdurend na Sy wil kan bly vra. Daarom is dit goed om geduldig te wag op die hulp van die Here, selfs as ’n mens eensaam voel wanneer jy die las dra. Ons hoop is immers dat die Here ’n mens nie vir altyd verstoot nie.
GEBED
Maar dit sal ek ter harte neem en om dié rede bly ek hoop: deur die liefde van die Here het ons nie vergaan nie;
daar is geen einde aan sy ontferming nie, dit is elke môre nuut.
U trou is groot.
Ek sê vir myself: Die Here is my lewe, daarom hoop ek op Hom.
Die Here is goed vir wie op Hom bly hoop, Here, ek bly hoop op U.
Gedagte vir die dag | Saterdag 17 Oktober 2020
Hebreers 4:16. “Kom ons gaan dan met vrymoedigheid na die genadetroon, sodat ons barmhartigheid en genade ontvang en so op die regte tyd gered kan word.”
As kinders het ons mos dikwels almal lekker saam krieket gespeel. Klink die volgende gebeure dalk bekend? Julle speel nog lekker krieket en jy kry ‘n goeie en harde hou in – die bal trek reguit oor die heining en o, aarde – daar hoor jy hoe glas breek en jy besef die krieketbal is deur een van die bure se vensters. Almal hardloop en gaan kruip weg, hulle is bang dat die buuroom kwaai oor die muur gaan loer en met hulle raas, maar jy kan nie hardloop nie, jy is lam van die skrik. Vensters is duur. Hoe gaan jy dit betaal? Jy besluit vinnig om ’n plan te maak – jy sal maar aanbied om die res van die jaar elke Saterdag die bure se motor te was.
Toe besef jy een van jou maats wat saam gespeel het, Bennie, het nie weggehardloop nie. Hy staan langs jou. Dis die bure se seun! Hy stel jou gerus dat hy met sy pa sal praat en verduidelik wat gebeur het. Hy kom terug en roep jou omdat sy pa met jou wil praat. Hy sê jy hoef nie bang te wees nie, maar jou broek bewe. Jy stap saam en jy kan nie glo wat jy sien nie. Sy pa is toe regtig nie kwaad nie! Bennie het aan hom verduidelik dat julle almal saam gespeel het en dat die harde hou ‘n ongeluk was. Sy pa sê jy hoef nie bekommerd te wees nie. Hy sal met die versekering reël dat die ruit vervang word. Jy hoef nie te betaal daarvoor nie. Baie verlig gaan jy terug, roep jou maats en julle speel verder krieket.
Jesus sit aan die regterhand van die Vader en tree nie net vir ons as voorbidder in nie, maar doen inderdaad versoening vir ons sondes. Hy luister na ons gebede om ontferming en genade en sien toe dat ons deur genade vergewe word. Daarom moet ons sonder ophou en met baie vrymoedigheid bid om ontferming en genade, maak nie saak in watter moeilikheid of versoeking ons is nie. Hierdie is juis ’n uitnodiging deur Jesus om na die troon van die Vader te gaan. Ons hoef nie bang te wees nie.
GEBED
Keer op keer, val ek neer, deur my eie sondigheid.
Telkens weer, wil ek self probeer, opstaan uit my hulpeloosheid.
Hy laat my verstaan, daar is net een Naam,
en elke knie sal voor Hom buig.
Jesus is die Heer.
Dit is wat ek glo.
Ek sing dit weer en weer.
Jesus is die Heer.
Voor Hóm sal ek buig.
Jesus is die Heer.
Hy’s my Heer.
Gedagte vir die dag | Vrydag 16 Oktober 2020
Efesiers 2:13 “Maar nou is julle een met Christus Jesus. Julle wat vroeër ver van God gelewe het, het nou naby gekom deur die bloed van Christus.
Eugene Peterson vertel in sy boek “To run with the horses”, van die volgende ervaring uit sy kinderdae. Op skool was hy die jongste en ook die kleinste in sy klas. So wanneer hulle informele spansport sou speel en die twee spankapteins om die beurt hulle spanne moes selekteer, het hy gewoonlik heel laaste eers plek in ’n span gekry.
Eendag hoor hy hoe die twee spankapteins stry en besef toe met afgryse dat nie een van die kapteins hom in hulle span wou hê nie en dat dít die oorsaak vir die stryery was. In sy eie woorde vertel hy hoe sy selfbeeld daardie dag in ’n oomblik verander het “from a zero to a minus”.
Ons skuld oor ons sondelas wil ons ook van ’n nul na ’n minus druk totdat ons minder as niks is nie. Maar ons teks verkondig aan ons die wonderlike boodskap dat ons een met Christus geword het op grond van sy bloed. Hy het die skuld vir ons sonde betaal en daarom kan ons kinders van God genoem word. Ons het waarde. Ons is beslis nie ’n minus nie.
Dit het alles met die vorming van die nuwe identiteit in Christus te doen. Op grond van Christus se werk in jou lewe, durf jy nie langer aan jouself as ’n verlore mens dink nie. Christus het jou verander, jy is ‘n nuwe mens. Jy het waarde!
Die drie-enige God se aktiewe betrokkenheid in ons lewens maak van ons nuwe mense. Dit gebeur deur:
- Die bloed van Christus wat ons tot by God bring.
- Christus wat sy lewe vir ons gegee het.
- Christus wat ons deel van die volk van God maak.
GEBED
Neem my lewe laat dit Heer
U gewy wees meer en meer
Laat my hart gedurig juig
En van dankbaarheid getuig