GEDAGTE VIR DIE DAG

Gedagte vir die dag | Vrydag 9 Oktober 2020

Johannes 17:1-3. Nadat Jesus dit gesê het, het Hy na die hemel toe opgekyk en gesê: “Vader, die tyd het gekom. Verheerlik u Seun, sodat die Seun U kan verheerlik. U het Hom immers die volmag oor die hele mensdom gegee om aan almal wat U Hom gegee het, die ewige lewe te gee. En dit is die ewige lewe: dat hulle U ken, die enigste ware God, en Jesus Christus, wat deur U gestuur is.

In ons teksgedeelte is Jesus besig om net voor die traumatiese gebeure van sy lyding en sterwe, vir sy dissipels te bid. Hy besef dat dit vir hulle baie moeilik gaan wees om sin van die komende gebeure te maak en dat dit hulle met baie onbeantwoorde vrae gaan agterlaat.  Die Here het begrip dat hedendaagse gebeure ons dikwels ontnugter en verward kan laat. Daarom is hierdie gebed van die Here ook vandag vir ons so kragtig. Dit laat ons verstaan dat ons kennis van God se aard en karakter ons nou reeds ’n uitsig op die ewige lewe bied. Dit gee perspektief aan alles in die tydelike lewe en help ons om daagliks God se ewige genade en sorg te beleef.

Gebed

Here ons God, wees Uself nou hier by my, sodat hierdie gebed vandag ’n tyd van lig sal word. Laat my in u teenwoordigheid die hemel sien oopgaan, sodat ’n stukkie van U lig in my donker situasie skyn. Ek vra dit in die naam van u Seun, Jesus Christus.

 

Gedagte vir die dag | Donderdag 8 Oktober 2020

2 Petrus 3:13.  “Maar ons leef in die verwagting van ‘n nuwe hemel en ‘n nuwe aarde wat God belowe het en waar die wil van God sal heers.”

Die teks herinner my aan die baie bekende lied, “Ek sien ’n nuwe hemel kom”. Dit smag na ’n tyd waar alles heel en nuut sal wees. ’n Tyd waar vrede sal heers en alle pyn, hartseer, dood en onsekerheid sal verdwyn. Die vroeë gelowiges het hulle verwagting met die woord “Maranata” opgesom, wat beteken “kom tog gou Here en skenk aan ons ’n nuwe realiteit”. Hoe hierdie nuwe hemel en aarde eendag gaan lyk en wanneer dit gaan aanbreek weet ons nie, maar ons weet wel dat dit nou op ’n geheimenisvolle wyse nuwe betekenis aan ons hede gee. “Maranata”, was dus nie vir die vroeë gelowiges net ’n droom van ’n vae eendag nie. Dit het hulle juis gehelp om nou reeds met vrede, hoop en liefde in hulle hede te leef, omdat God reeds deur sy Gees in hulle teenwoordig was. Ons leef vandag in die geloof van Romeine 8:38 dat niks in hierdie lewe ons ooit van die liefde van Christus kan skei nie. Op dié vreemde manier herinner dit ons dat terwyl ons vir die “eendag” wag,  die nuwe hemel en aarde reeds nou op onverwagte wyses in ons hede deurbreek.

Gebed

Heilige Gees, transformeerder van die wêreld, laat die helende krag van God se liefde my vandag so omvorm, dat ek ‘n instrument sal word wat U kan gebruik. Wys my watter rol ek kan speel om die wêreld, ’n plek van korrupsie, lyding en  verganklikheid, kan help transformeer tot ’n plek waar u lig, en vreugde en liefde die deurslag gee. Maak my so gehoorsaam aan U, o Gees van nuwe moontlikhede dat my lewe ’n lewende gebed sal word, ’n getuienis van u troue teenwoordigheid in elke tyd en omstandigheid.

Gedagte vir die dag | Woensdag 7 Oktober 2020

Psalm 119:9.  Maak my oë oop dat ek die kragtige werking van u wet ervaar. Hier op aarde is ek net op u beskerming aangewese: laat my tog nie sonder u gebooie wees nie.

Het jy al verdwaal en die frustrasie beleef om in sirkels rond te ry op soek na ’n manier om by jou bestemming uit te kom? ’n Mens kan lank doelloos rondry in die hoop dat jy ’n bekende baken sal raak sien wat jou sal help om jou bestemming te bereik. God se riglyne aan die Israeliete, wat as die Wet van Moses bekendgestaan het, was so ’n rigtingwyser. Dit het hulle op ’n baie praktiese wyse in die alledaagse lewe in pas gebring met God se plan vir hulle lewens. Mag ons oë vandag, soos in die teksgedeelte, oopgaan vir die realiteit dat die Here in ons hede die lewenspad met ons saamstap en baie prakties daaraan rigting gee.

Gebed

O Vader. Dis net hier waar ek ophou met voorgee dat ek self kan regkom. Ek vra U nou om my te help om my ware self te vind. Maak my nugter en eerlik – al ruk dit my uit my gemaksone.  Here, ek gee my probleme in U hande oor en steek my leë hande na U uit. Help my, Here, om my eie sondige aard af te lê en dan op te hou om ander te veroordeel. In u hande gee ek my lewe, sodat U daarmee iets kan maak tot U eer. Laat u wil geskied.

 

 

Gedagte vir die dag | Dinsdag 6 Oktober 2020

Jesaja 33:2. “Wees ons genadig Here, ons vestig ons hoop op U. Wees elke nuwe dag ons krag, ons redding in tyd van nood.”

Israel is op hierdie stadium verpletter! Hulle is in ’n diep gat van desperaatheid oor hul situasie en ballingskap. Die eens magtige volk van God is weggevoer in ballingskap en dit was nie alleen vir hulle ’n groot vernedering nie, dit het ook ‘n magtelose desperaatheid by hulle tot gevolg gehad.  Die hoofstukke van Jesaja, hanteer hierdie situasie en omskryf dit volledig. Die profeet tree op, en tree namens hierdie volk in, in hierdie donker tyd van hulle bestaan. Die noodkreet in vers 2, is ook sprekend van die nood van baie mense, volke, en nasies, dalk ook gesinne en individue.

Kom ons kyk kortliks na die verskillende dele van hierdie noodroep.

Dit begin allereers met gebed – ’n uitroep!  Vroeër die week het ons ook gepraat oor hoe ons in nood moet roep, en hoe ons noodkrete in verskillende omstandighede vir ons hulp voorsien. Hier is Israel aan die roep, by monde van die profeet: “Wees ons genadig, Here”. Die eerste versoek en behoefte is dat God hulle moet raak sien waar hulle in die donker gat van desperaatheid beland het. Wat hulle van God vra is nie allereers om hulle eers daaruit te bevry nie, hulle pleit om sy genade. Hulle weet hulle was skuldig in die verlede en dit is waarom hulle in die situasie beland het. Hulle roep egter, vanuit hul skuld en desperaatheid, dat God hul sal begenadig, dat Hy sy hand sal uitsteek en dat Hy hulle sal vergewe.

Dit word dan opgevolg met die volgende sin, “ons vestig ons hoop op U!” In hierdie donker gat, roepende na God se genade, hou hulle vas en vestig hulle hul hoop op God. Dié God wat hulle leer ken het as die God wat in alle omstandighede uitkoms gee. Hulle bid verder: “Wees elke nuwe dag ons krag.” Hulle situasie het hulle kragteloos gelaat, moeg en uitgeput. Hulle weet dat as hulle God se genade ontvang, of hul hoop op Hom vestig, dan het hulle elke dag krag om aan te gaan met hulle lewe. Hulle kan daarom ook erken en bely: “U is ons redding in ’n tyd van nood.”

Vriende, spreek hierdie teksvers nie direk tot ons eie situasie in ons wêreld en in ons eie land nie? Die afgelope paar maande het ons met hierdie dagstukkies telkemale verwys na ons eie nood wat op baie plekke ongekende uiterstes bereik het as gevolg van die Covid-pandemie. Ook hoe dit ons intens raak – vir elkeen op ’n unieke manier asook kollektief vir ons as Suid-Afrikaners met die ekonomiese en ander gepaardgaande uitdagings.

Dalk is ons nou ook waar die ou Israel was? In ’n put van desperaatheid. Daarom moet en kan hierdie gebed ook ons gebed wees en kan ons dit vertaal en dit in ons konteks plaas: “Here, wees ons genadig. Ook hier aan die suid-punt van Afrika, in ’n wêreld wat gebuk gaan onder onvrede en talle bedreigings. Midde in dit vestig ons, ons hoop op God. Ons gaan sit nie in die hoek en huil oor ons situasie nie! Ons kyk vorentoe, ons kyk op, en ons is hoopvol omdat ons hoop gevestig is op ’n God wat werklik lewe. Daarom kry ons ook elke dag nuwe krag om aan te gaan, uit te hou, deur te druk, en ons dae mooi en sinvol te kan beleef.

Gebed

Here, wees ons genadig, ons vestig ons hoop op U. Wees elke nuwe dag ons krag, ons redding, in tyd van nood. Amen

 

Gedagte vir die dag | Maandag 5 Oktober 2020

Lukas 2:29-31: “Here, nou laat U toe, dat U dienskneg in vrede sterf, soos U gesê het. My oë het inderdaad U verlossing gesien wat U ten aanskoue van al die volke bewerk het”.

Terwyl ek besig was om te skryf aan hierdie dagstukkies, lui my selfoon skielik. Gewoonlik verkies ek om dit dan nie te antwoord nie, maar ek sien dat dit ’n ou vriend van my is wat jare gelede saam met my in die bediening was. Hy was baie onsteld en kon amper nie sy woorde geuiter kry nie.  Tussen die trane deur het hy my meedeel dat sy vrou besig is om te sterf. Sy is al vir ’n geruime tyd baie siek, maar die dokters is nou oortuig dat sy slegs enkele dae oor het om te leef. My oud-kollega het so, tussen deur die hartseer, tog vrede in sy hart gehad oor haar lewe, en die insette wat sy kon lewer in diens aan mense en aan die kerk.

Om vrede te ervaar oor iemand wat sterf, of om vrede te ervaar voordat ek self sterf, is van groot belang. Ek het ook enkele weke gelede verwys na my beste vriend wat ek onlangs in Pretoria begrawe het. Ook daar was die wonderlike getuienis dat hy groot vrede ervaar het voordat hy sy laaste asem uitgeblaas het. Is dit nie ’n wonderlike ideaal nie ? Om met vrede heen te gaan!

Dit is presies wat hier vir ons gesê word in die verhaal van Lukas 2. Simeon, gelei deur die Gees, het na die tempel gegaan en hulle het vir hom die Kindjie gebring om vas te hou. Hierdie kindjie was Jesus. Ons lei af dat Simeon ook al diep in sy jare was, baie na aan sy sterfdag. Sy woorde gryp ons diep aan die hart as hy sê: “Here, nou laat U toe dat U dienskneg in vrede sterf.” Ook Simeon kon sterf met groot vrede in sy hart. Maar hierdie vrede was baie spesifiek en gekwalifiseerd. Dit is die vrede van die verlossing wat Jesus na hierdie wêreld toe gebring het. Daarom sê hy: “My oë het inderdaad U verlossing gesien, wat U ten aanskoue van al die volke  bewerk het.”

Vriende, die grootste vrede wat ons kan ervaar, in lewe of sterwe, is die feit dat ons aan Jesus Christus behoort. Dat ons nie net alleen Sy verlossing gesien het nie, maar dat ons self ook sy sy verlossing in ons eie lewe ervaar. Mag ons lewe gedryf en gerig word deur hierdie vrede sodat ons ook soos Simeon, te alle tye in ons lewe, maar ook voor ons sterwe sal kan sê: “Here, ek het nou vrede, en ek kan in vrede sterf, want ek het die verlossing gesien.”

Gebed: Here, baie dankie vir die vrede wat U verlossing in ons lewens bring. Amen.

Gedagte vir die dag | Sondag 4 Oktober 2020

Markus 6:37. “Maar Hy antwoord en sê vir hulle:Gee julle aan hulle iets om te eet.”

Kos, of maaltye is vir baie van ons een van die hoogtepunte van ons dag! Dink maar net ’n bietjie aan die rol wat kosmaak, en die lekkerte van aansit om die tafel vir ’n ete in ons lewens en in ons huishoudings speel. Dit gaan oor die voorsiening aan ons fisiese behoeftes, maar ook aan die lekker saameet, saamkuier, geselskap en saamlag. Ons het dit veral beleef met die onlangse “Braaidag”, of Erfenisdag, waar ons weer gesien het watter groot rol kos, en veral braaivleis, in ons kultuur en land speel.

Die afgelope paar maande kon ons hier vanaf Stellenberg-gemeente baie kos aan mense wat dit baie nodig gehad het, voorsien. Die Covid-19-pandemie, wat veroorsaak het dat baie mense nie by hul werk kon uitkom nie, het ’n groot krisis veroorsaak en ons kon deur middel van die goedgunstige bydraes van lidmate in baie mense se kosnood voorsien.

Vir Jesus was kos ook baie belangrik! Nie net vir Homself en Sy eie gebruik nie, maar veral om dit te deel met mense wat werklik honger was. Dink maar net aan verskeie verhale in die Bybel waar Jesus kos aan mense voorsien het, brood gebreek het en dit uitgedeel het. Ook in die verhaal waaruit ons vandag gelees het, sien ons dat Jesus mense wil voed. Ons ken die verhaal.  Jesus se dissipels was benoud oor al die mense, en het vir Jesus gesê om hulle weg te stuur sodat hulle kan gaan kos koop. Jesus het toe daarop gereageer: “Nee, gaan julle en gee julle vir hulle iets om te eet.” Ons ken die einde van die verhaal waar Jesus toe broodjies en vissies vermeerder het om ’n honger skade te voed.

Daar is twee belangrike lesse vir ons in die gedeelte. Die eerste is om te besef dat Jesus se hart uitgaan na mense in nood, alle vorme van nood, veral ook in kosnood. Hier sê Hy vir sy dissipels, wat dit glad nie verwag het nie: “gaan julle nou en gee vir hulle iets om te eet.” Gee vir hulle kos. Dit is ’n opdrag wat Hy aan sy dissipels van daardie tyd gegee het, maar ook vir sy dissipels en sy kerk van vandag.  Sy opdrag is dat ons moet sensitief wees vir mense se kosnood en hulle  voed. Maar Hy sê ook vir sy dissipels en sy kerk van alle tye, gaan julle ook en voorsien aan hulle geestelike honger deur die Evangelie van Jesus te verkondig.

Die tweede saak: Dis opvallend hoe baie Jesus kon doen met so ’n klein bietjie kos wat beskikbaar gestel was. Hy het die aanbod van die broodjies en vissies geneem en dit vermeerder. Hy gebruik die kapasiteit wat beskikbaar is, wat aangebied word vir die voeding van mense, om ongekende hoeveelhede mense daarmee te voed.

Vriende, mense is honger. Mense is baie honger, fisies en geestelik. Jesus se opdrag is baie duidelik aan ons in hierdie teksvers, om veral in ons tyd uit te gaan en om hulle kos te gee.

Gebed

Here, dankie vir al U voorsiening. Dankie dat ons daagliks kos het om te eet. Ons harte gaan uit na die wat dit nie het nie. Help ons om U opdrag: “Gee julle aan hul iets om te eet”, met deernis uit te voer. Amen.

Gedagte vir die dag | Saterdag 3 Oktober 2020

Eksodus 33:17-18.  “Die Here het vir Moses geantwoord: Ook wat jy nou gevra het, sal Ek doen. Ek is jou goedgesind en Ek ken jou op jou naam.” Toe sê Moses: “Laat ek tog net U magtige verskyning sien!”

Het jy al ooit daaroor nagedink . . . wat is meer eie aan jouself as jou naam? In ’n sin bring jou naam ’n prentjie na vore oor wie jy is en is dit  baie nou verwant aan jou identiteit.

Dit is lekker as ek kan sê, ek ken daardie persoon want ek ken sy/haar naam. ’n Naam ontsluit ’n persoon en mense word aan hul name geken. Jy wil ook nie graag ’n sogenaamde slegte naam hê nie, want as jy ’n slegte naam het, verwys dit na iets sleg in jou persoonlikheid. ’n Goeie naam moet nagestreef word. Spreuke 7:1 sê ook: “‘n Goeie naam is beter as reukolie.” Hoe wonderlik is dit as God sê: “Ek ken jou naam.” Soos vir Moses in ons teksgedeelte: “Ek is jou goedgesind, en ek ken jou op jou naam”.

Of as Hy sê: “Ek het jou by die naam geroep . . . Ek ken jou persoonlik en intiem en jou naam verbind jou aan My.

My beste vriend is verlede maand skielik aan ’n hartaanval oorlede. Hy het die laaste aantal jare van sy lewe, pragtige jagmesse gemaak. So ’n paar jaar gelede het hy vir my ook een gemaak en as ’n simbool van ons vriendskap vir my gegee. Aan die een kant van die lem het hy my naam gegraveer, en aan die ander kant sy naam. Die mes het waarskynlik een van my kosbaarste besittings geword, veral as gevolg van die twee gegraveerde name. Dit dui op ons liefde en vriendskap vir mekaar.

Daar is kwalik ’n beter vers wat daarby kan aanpas as Jesaja 49:16: “Ek sal jou nie vergeet nie, Ek het jou naam in my handpalms gegraveer”.

Vriend en vriendin – God ken jou op jou naam. Jou naam, wat jouself verteenwoordig, is uiters belangrik vir Hom. Dit is op sy handpalms gegraveer en bevestig sy liefde en omgee vir jou. Spreek jou eie naam hardop uit en weet dat God regop sit, wanneer jy dit doen! Hy hoor en ken jou op jou naam.

Gebed

Here, dankie dat my naam ingegraveer is op u handpalms, en dat U, U naam agter my naam skryf. Amen.

 

Gedagte vir die dag | Vrydag 2 Oktober 2020

Filippense 2: 12-13.My geliefdes, julle was altyd gehoorsaam wanneer ek by julle was. Des te meer moet julle gehoorsaam wees nou dat ek nie daar is nie. Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe, want dit is God wat julle gewillig en bekwaam maak om Sy wil uit te voer”.

Die afgelope week het ons Erfenisdag, (of soos dit vertaal word: “Braaidag”) gevier. As ons so bietjie deur die braaivleisrook en braaivleisgeure dieper na ons erfenis kyk, dan besef ons hoe ryk ons eintlik geërf het! Ek praat nie van ons materiële erfenis in die vorm van besittings nie, maar veral ons erfenis as gelowiges. Op Erfenisdag het 20 manne van ons mannegebedsgroep reeds om 06:00 in die oggend saamgekom. Ons het ’n groot vuur gemaak in die braai-area van die markplein, lekker boerewors gebraai, saam geëet en toe gedink, gepraat en gebid oor ons geestelike erfenis.

Die grootste deel van ons geestelike erfenis, is dat Jesus deur Sy onbaatsugtige verlossingswerk, vir ons verlossing bewerkstellig het. Wat ’n wonderlike erfenis . . . ons verlossing!  Bewerk, en nagelaat deur ons Verlosser.  Ons status het verander van skuldiges,  as gevolg van sonde, na verlostes.

In die teksgedeelte van vandag, doen Paulus ’n ernstige beroep op gelowiges om nou volgens hul verloste status te leef. Hy is baie direk en ernstig daaroor as hy in vers 12 sê: “Julle moet julle met eerbied en ontsag daarop toelê om as verloste mense te lewe”. Dit is een ding om ons verloste status te erf, maar dis iets anders om daarvolgens te lewe en praktiese, sigbare, verloste lewens te lei.

Dit verg dat ons gehoorsaam sal wees aan alles wat Jesus van ons vra rakende ons lewenstandaard, ons uitkyk op die lewe en ons onberispelike optrede onder alle omstandighede. Dit impliseer ook dat ons daagliks moeite moet doen om volgens God se wil te lewe.

Is ons vandag nog regtig opgewonde oor hierdie erflating? Is ons met eerbied en ontsag daarop toegespits om as verloste mense ook in hierdie uitdagende wêreld te leef?

Gebed

Dankie Here, dat ons erfgename kan wees van dit wat U bewerk het. Help ons om gehoorsaam te wees aan U wil, en dat ons ons daarop sal toelê om as verloste mense te kan leef. Amen.

Gedagte vir die dag | Donderdag 1 Oktober 2020

Psalm 88: 2-3.  “Here my God wat my altyd help, ek roep elke dag om hulp, elke nag bid ek tot U. Laat my gebed nie tevergeefs wees nie, hoor my geroep”.

Wanneer ons mekaar groet, word dikwels gesê: “Totsiens, en roep maar gerus as ek kan  help met iets.” Die woorde is nogal nou verwant aan mekaar. Ek kan van baie kere onthou wat ek in benoudheid om hulp geroep het. Toe ek as klein seuntjie bang was vir denkbeeldige drogbeelde wat ek in die donker in my kamer gesien het, het ek na pappa geroep vir hulp en vertroosting. Of toe ek die slag in die moeilikheid in die see beland het, en ek so hard moontlik moes “roep” dat iemand my moet kom help. “In nood”, dui op absolute vreesbevange, desperaatheid. Daardie punt waar jy jouself nie meer kan help nie. Waar jy in vertroue roep om hulp!

Klink dit nie baie bekend nie, en sien ons dit nie baie in die Bybel gebeur nie? In Psalm 88, word een van hierdie benoude, desperate roepe gehoor. Dit is ’n opregte roepe na God. ’n Gebedsroep vanuit die diepste nood en benoudheid.

Die digter omskryf sy haaglike omstandighede, wat aanleiding gee tot sy angs en benoudheid, in vers 4-7. Gaan lees gerus die gedeelte: “Die swaarkry het vir my te veel geword: ek vat al aan die doderyk, ek staan al met die een voet in die graf, ek het geen krag meer nie. Vers 7: “U het my onder in die put laat beland, in diepe duisternis.”

Daarom die angsroep in vers 2 “Ek roep elke dag om hulp!” Na wie? Na God! Maar dis nie ’n hulpelose, leë roep nie. Die roep weerspieël vertroue in die een na wie geroep word! Die roeper weet hier, dat die enigste uitkoms uit sy haaglike omstandighede, God is. Die God, wat volgens vers 2, “my altyd help”.

Wanneer laas moes jy roep om hulp? Miskien oor ’n persoonlike krisis? Of oor ’n noodsituasie? Miskien oor gesondheid, of finansies, familiekrisisse . . .

Roep is natuurlik. Almal roep op ’n stadium om hulp. Ons roepe na God, moet roepe met vertroue wees! Roep, met die sekerheid dat God my roep wil hoor, en my wil help! Soms is dit nodig om ons eie trots te sluk en maar net in afhanklikheid en desperaatheid te roep.

God hoor dit en op maniere wat ons somtyds nie eers verstaan nie, reageer Hy in liefde en met krag daarop om uitkoms te bring.

Gebed

Here my God, wat my altyd help, ek roep elke dag om hulp, elke nag bid ek tot U. Laat my gebed nie tevergeefs wees nie, hoor my geroep. Amen

Gedagte vir die dag | Woensdag 30 September 2020

Ek wil sommer met ’n advertensie weg val en om julle hartlik uitnooi na ons Vosburg insameling hierdie Vrydagmiddag.   Kom kuier asseblief saam met ons. Daar is heerlike eetgoed en alles word binne die Covid-19-protokol aangebied.  Die insameling is ten bate van die  Vosburg-gemeente en sluit mooi aan by ons tema van vandag: “Doen aan ander”.

Matteus 20:40.  “Dan sal ek, die koning, hulle antwoord. Hoor nou wat ek vir julle sê: As julle so iets gedoen het, vir een van hierdie broers van my, al was hy ook die eenvoudigste van hulle almal, dan was dit vir my wat julle dit gedoen het.”

Die advertensie in die 18de eeu het as volg gelui: Kom luister Sondag, na die besoekende, jong Hollandse skilder/prediker Vincent van Gogh. Hy sal oor vrede preek. Sy teksvers is uit Haggai 2:9: “Op hierdie plek sal Ek vrede gee, sê die Here die Almagtige”. Klink dit vergesorgd? Dit het tog so gebeur, so lees ek.

Op 4 November 1876, het van Gogh die pastorieseun van Zundert, in Londen sy eerste preek gelewer. Hy was ’n Hollander, en hy het die preek nogals in Engels gelewer! Wie van ons sou nie graag daardie diens wou bywoon om te luister na een van die grootste skilders van alle tye nie. Enige een van sy skilderye is vandag miljoene rande werd. As ’n mens so skildery het, en jy sou dit verkoop hoef jy waarskynlik nooit weer te werk nie.

14 jaar later, sterf van Gogh egter tragies in Auvers-sur-Oise, in Frankryk. Nadat hy vir ’n tyd lank in ’n psigiatriese kliniek behandel is, het hy sy eie lewe geneem. ’n Mens wil vra, wat het dan tog in die arme man se lewe verkeerd geloop? Daar is ook al baie geskryf en gepraat hieroor, want hy was ‘n sterk en diep Godsdienstige man wat aangegryp is deur die nood van sy medemens. En soos een skrywer dit stel: “Hy het daarna gedors het om die mensdom te dien.”

Vincent van Gogh het die Bybel bestudeer, en het tydens sy besoek aan Londen en later in Holland en België, homself voltyds besig gehou met Bybelstudie en siekebesoek en die versorging van armes.  ’n Paar liefdesteleurstellings en die onsimpatieke optrede van vriende en kerkmense wat hom in die steek gelaat het, het hom egter later laat besluit om eerder voltyds te skilder. Maar hy het in ’n eensame, eksentrieke en wanhopige mens ontaard.  Hy sou saam met Job kon uitroep soos in Job 12:4: “Ek is ’n grap vir my vriende, dit is iemand wat tot God roep en van Hom ’n antwoord kry.” Job het sy beproewing oorleef, en ons kan sê dat van Gogh het nie. So is daar talle mense na hul graf, nie noodwendig vroeg nie, maar omdat hulle aan hul eie lot oorgelaat is.  Hulle het die stryd teen  honger, dors, gebrek aan huisvesting, klere, siekte, maar ten diepste verwardheid en eensaamheid en uiteindelik verloor.  Vêr weg van iemand of mense wat hulle liefhet.

Daarom het Jesus ons daaraan herinner in ons teksvers. “Vir sover julle dit aan een van hierdie geringste broers van my gedoen het, het julle dit aan my gedoen.” Elke dag moet ons dit vir onsself afvra, elkeen van ons, doen jy dit genoeg? Laat ek en jy altyd vir Vincent van Gogh onthou.

Gebed

Here, gee ons die genade om die nood, die seer en die pyn rondom ons raak te sien.

1 123 124 125 126