GEDAGTE VIR DIE DAG

Gedagte vir die dag | Saterdag 14 November 2020

Jakobus 2:1.”My broers, julle wat glo in ons Here Jesus Christus, die Here aan wie die heerlikheid behoort, moet mense nie volgens hulle uiterlike beoordeel nie.”

Die Afrikaanse spreekwoord spring dadelik in my gedagtes op: Moenie iemand op sy baadjie takseer nie.  Maar doen ons nie juis dit heeltemal te maklik en outomaties nie?  Ons “default” manier van kyk na ander is om mense op grond van hulle uiterlike voorkoms te oordeel, beoordeel, kategoriseer en steriotipeer.

Dit laat my dink aan die storie The Hungry Coat:  A Tale from Turkey.  Nasrettin Hoca is ’n wyse ou man. Hy het altyd waar hy kon mense gehelp. Hy sou nooit net verby gestap het nie. Eendag ry hy op sy grys donkie en sien dat daar mense is wat sukkel met hulle bok. Hy stop langs die pad om hulle met die bok te help. Dit neem egter ’n hele tydjie. Die gevolg is dat hy nie tyd het om huis toe te gaan en mooi aan te trek voor ’n fees nie. Toe hy met sy gelaste, vuil jas by die fees aankom, ignoreer almal hom.  Hy nie eers kos aangebied nie! Niemand groet hom nie. Almal kyk ander pad. Hy gaan huis toe, was en trek ’n manjifieke jas aan.  Terug by die fees word hy vreeslik formeel verwelkom en die beste kos word vir hom voorgesit.  Hy vat stukkies van die kos, sit dit in sy jas en sê:  “Eet jas, eet.” Die mense wou weet hoekom hy dit doen, waarop hy vertel hoe hy niks ontvang het toe sy jas vuil was nie, maar met hierdie jas bied almal vir hom kos aan.  Al wat hy kan dink, is dat die gasheer gedink het die jas is baie belangrik!  Almal by die fees het gelag en Nasrettin Hoca geprys vir sy wysheid.

Suid-Afrika beleef stormagtige tye. Sosiale onderskeid op grond van ras, klas en stand kenmerk ons samelewing al vir baie lank. Niemand in ons land is onskuldig as dit by vooroordeel en die neersien op ander kom nie. Daarom het ons die Here se hulp hiermee nodig.

GEBED

Here, ek belei vandag dat ek baie maklik oordeel. Ek takseer ook mense op hulle uiterlike en dan dink ek op ’n sekere manier oor hulle. Vergewe my daarvoor. Help my om die mooi in mense raak te sien ongeag die uiterlike voorkoms. Amen

Gedagte vir die dag | Vrydag 13 November 2020

Jakobus 1:26.“As iemand dink hy is godsdienstig, maar hy hou nie sy tong in toom nie, bedrieg hy homself. Sy godsdiens is waardeloos.”

Die verhaal word vertel van ’n koning wat vir sy sjef gevra het dat hy vir hom ’n aandete met die heelbeste markprodukte moet voorberei. Die sjef het toe dié aand ’n klomp tonge vir die koning gaar gemaak en met verskillende souse voorgesit. Die voorgereg, hoofgereg en nagereg het uit verskillende weergawes van tong bestaan. Die koning vra die sjef toe na die ete waarom hy op tong besluit het. Die sjef antwoord toe die koning dat hy hom gevra het om die beste produk op die mark te kies. Daar is tog seker niks beter as die tong nie. Dit is die gom van ’n beskaafde samelewing, die sleutel van die wetenskap en die medium waarmee waarheid en rede oorgedra word. Dis die manier hoe ons kennis oordra, kinders opvoed, ander van ons liefde laat weet. Deur die tong word stede opgerig, regerings gevestig en geadministreer.  Met die tong redeneer mense en word vergaderings gelei.  Dit is die instrument waarmee ons vir God aanbid en prys. Inderdaad iets besonders.

Die volgende dag gee die koning die sjef opdrag om vir hom disse van die slegste markprodukte voor te berei en inderdaad het die sjef daardie aand weer tong vir voorgereg, hoofgereg en nagereg bedien. Die koning roep die sjef toe in en vra hoekom hy weer tong voorgesit het.  Die sjef antwoord: “Die tong is die heel beste produk op die mark maar ook die heel slegste produk, want die tong is ook die instrument van tweedrag, die aanstoker van regsgedinge, die bron van verdeeldheid en oorlog, die medium van vrees, skinder, leuens asook selfs van Godslastering.

Die tong is die megafoon van die mens se innerlike. Jesus het self gesê: “Dit is nie wat by die mond ingaan wat die mens onrein maak nie. Maar wat by die mond uitkom, dit is wat ’n mens onrein maak.” (Matt 15:11). Wat die hart van vol is, loop die mond van oor. Jou woorde is die verklanking van jou gedagtes, dit wat in jou hart aangaan. Ons woorde verklap wat ons dink. Dus is Jakobus dit ook eens dat dit wat uit jou mond uitkom ’n goeie bewys is van wat in die hart aangaan.

GEBED

Here, raak my hart aan sodat my woorde vir U aanneemlik sal wees.

Gedagte vir die dag | Donderdag 12 November 2020

Jakobus 1:22. Julle moet doen wat die woord sê en dit nie net aanhoor nie, anders bedrieg julle julleself.

Nou bereik Jakobus die essensie van sy brief. Sy kerngedagte is dat die Woord uitgeleef moet word en dat dit nie net gehoor moet word nie. Jakobus lê baie klem daarop dat as ons die woord van die waarheid waarlik moet hoor en ontvang en dan moet dit na dade van gehoorsaamheid aan God se Woord oorgaan.

As ons bloot net die Woord hoor, maar dit nie na gehoorsaamheid in ons lewens omskakel nie, dan bedrieg ons onsself, en dit verduidelik Jakobus in verse 23-25, aan ons deur ’n beeld te gebruik. Iemand wat nie die woord in praktyk toepas nie is so goed soos iemand wat in ’n spieël kyk, sy/haar gesig sien, dit bestudeer en dan weggaan en  vergeet hoe hy/sy  gelyk het.  Met ander woorde dit beteken niks.  Die ware hoorder vergeet nie God se Woord nie, dit bepaal ’n mens se hele lewe, en daarom is so ’n persoon gelukkig en geseënd in alles wat sy/hy doen.

Jakobus plaas klem op die praktiese uitleef van ons geloof. Geloof is nie  ’n teorie of ’n filosofiese probleem nie. Geloof is nie ’n intellektuele konsep of ’n interessante diskussie nie. Geloof is praktiese aksie. Solank geloof nog nie ’n impak op jou gemaak het nie, het God nog nie ’n lewende werklikheid in jou lewe geword nie. Die doen van geloof spruit uit ’n hart en lewe wat deur God aangeraak is.

Dit is wat die Here Jesus ons ook aan die einde van die bergrede geleer het, Matt.7:24: “Elkeen dan wat hierdie woorde van My hoor en daarvolgens handel, kan vergelyk word met ‘n verstandige man wat sy huis op rots gebou het. So ware godsdiens is ook ’n praktiese godsdiens, praktiese Christenwees.

GEBED

Here, ek moet vandag bely dat ek dikwels net ’n hoorder van U Woord is. Ek wil my vandag ook kom verbind om ’n dader te wees. Om dit wat U Woord my beveel uit te leef. Amen

Gedagte vir die dag | Woensdag 11 November 2020

Jakobus 1:5.” As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt.”

Ons gaan die volgende paar dae saam met Jakobus wandel. Die brief van Jakobus is waarskynlik deur Jakobus, die broer van Jesus, geskryf. Jakobus fokus veral op die praktiese sake van die Christelike lewenswandel en moedig gelowiges aan om hulle geloof prakties uit te leef.

Vandag vra Jakobus van ons om wysheid van God af te bid.  Wysheid beteken nie in dié konteks om slim te wees, of om met goeie antwoorde deur die lewe te gaan nie.  Wysheid in die Bybel verwys nie na blote intellektuele kennis soos die van ’n briljante Einstein, of  kennis oor ’n vakgebied nie, maar na geestelike kennis en wysheid om die Here se Woord met die nodige insig en onderskeiding in ons lewens toe te pas.  Wysheid beteken om sinvol te kan lewe. Die vraag na wysheid het dus eintlik met die lewe self te doen.

Waarvoor benodig jy vandag wysheid? Dalk vir die hantering van ’n krisis by die werk of ’n uitdaging in jou huwelik of met een van jou kinders? Twyfel jy of jy jou eie besigheid moet begin, of dalk moet ophou werk sodat jy meer tyd saam met jou kinders kan spandeer?  Moet jy liewer aansoek doen vir ’n ander werk of moet jy aanhou werk waar jy tans werk? Is die persoon met wie jy in ’n verhouding is die regte persoon om in die huwelik mee te tree?

Onthou, geen situasie is vir God te groot of te klein om jou daarin te lei nie. As iets vir jou belangrik is, is dit vir Hom ook belangrik. In Jakobus 1:5 staan immers geskryf: “As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt.” Ook in Spreuke 3:6 lees ons: “Ken Hom in alles wat jy doen en Hy sal jou die regte pad laat loop.”

Gebed

Here, ek het vandag U wysheid nodig.  Ek het ook U wysheid nodig vir die lewe.  Die lewe het soms groot uitdagings en ek wil dit graag in lyn met u wil, leef. Gee asseblief aan my hierdie Goddelike wysheid wat ek so nodig het.

Amen

Gedagte vir die dag | Dinsdag 10 November 2020

Johannes 4:10.  Jesus het die Samaritaanse vrou geantwoord: As jy geweet het wat God gee, en wie dit is wat vir jou sê: “Gee my ’n bietjie water om te drink”, sou jy Hom gevra het, en Hy sou vir jou lewende water gegee het”.

Dit kan gebeur dat ons as gelowiges in ’n roetine beland waar ons oor God, eerder as met God praat. Leef ons daagliks met die perspektief dat God werklik by ons is? Dit is presies wat met die Samaritaanse vrou gebeur het. In haar gesprek met Jesus praat sy met Hom oor godsdiens en die debat waar die regte plek van aanbidding is. Is dit die berg op Sigem of Jerusalem? Haar gesprek oor godsdiens oorskadu haar eie probleme. Jesus sien egeter daardeur en lei haar tot  die punt om Hom in haar midde te sien en die vrymoedigheid te neem om eerlik haar lewe met die Here te deel. God is in hierdie oomblik by jou. Wat sou jy Hom wou vra?  Maak jou emosies, denke en hart voor die Here oop en beleef hoe Hy jou vandag lewende water gee.

Gebed (liedboek 519)

Wees stil en weet, Ek is die Heer. Ek ken jou pyn, jou donkerste nag. Ek is by jou ek gee jou krag.

Wees stil en weet, Ek is die Heer. Kom bring na My jou kommer en vrees. Ek sal vir jou ’n toevlug wees.

Wees stil en weet, Ek is die Heer. Bly waak en bid. Volhard in geloof. Ek is by jou soos Ek beloof.

Gedagte vir die dag | Maandag 9 November 2020

Jesaja 40:28.  Weet jy dan nie, het jy nog nie gehoor nie? Die Here is die ewige God, Skepper van die hele aarde. Hy word nie moeg nie, Hy raak nie afgemat nie en sy insig is ondeurgrondelik.

Wanneer ’n mens in ’n wedloop moeg raak, sak jy gewoonlik uit. Jou fokus is nie meer om die podium te haal nie, maar net om te oorleef en die wedloop te voltooi.  Dit werk ook so in die lewe.  Die wêreld soos ons dit ken put ons uit.  Ons bereik soms ’n stadium waar ons so moeg is, dat ons net ons take so vinnig moontlik afgehandel wil kry. Ongelukkig lei die kwaliteite van ons werk daaronder. Die klein dingetjies wat saak maak word dan agterweë gelaat. Maar, God is anders! Die wêreld se grootste probleme en krisisse maak hom nie moeg nie. God storm nie soos ons soms doen,  net voort nie, maar is met aandag en liefde in die klein dingetjies van die lewe saam met ons en by ons. Dit gee ons vandag baie stof tot nadenke en maak selfs ’n loflied in ons los.  Laat die volgende gebed vandag spontaan in jou eggo waar jy met die klein dingetjies van die lewe besig is.

Gebed (die ou Psalm 146)

Prys die Heer met blye galme, o my siel daar is ryke stof! Sal ek solank ek leef my psalme vrolik toewy aan sy lof en Hom, wat sy guns my bied, altyd grootmaak in my lied.

Gedagte vir die dag | Sondag 8 November 2020

Deuteronomium 10:17.  Wy jouself aan Hom en moenie hardkoppig wees nie. Die Here jou God, Hy alleen is God, die Here: die groot God, die magtige, wat wonderdade doen, wat vir niemand partydig is nie en ook nie omkoopgeld aanneem nie.

Ons is gedurig in ons lewens besig om kante te kies in die hoop dat die kant, of span wat jy gekies het,  beter sal doen as die een wat jy nie gekies het nie. Ons beoordeel ook mense en plaas hulle onbewustelik in verskillende kategorieë. Ons doen moeite met diegene van wie ons hou en noem hulle vriende.  Dan is daar diegene met wie ons haaks is en wie ons selfs vyande noem. God is nie so nie. Hy is vir niemand partydig nie en word nie deur ons gebede en diens omgekoop nie.  Vandag se teksgedeelte vra dat ons van ons hardkoppigheid oor ander ontslae sal raak. Kyk deur God se oë na die mense wat jou kwaad maak en frustreer en laat sy Gees jou lei om vandag anders teenoor hulle op te tree.

Gebed (liedboek 232)

Diep o God diep neergeboë, staan ons voor U hoë reg in volslae onvermoë. Hoe word ooit ons saak besleg? Waar ons voor U skuldig pleit, o volmaakte Heiligheid, werk U met u Gees versoening deur die Heiland se voldoening.

 

Gedagte vir die dag | Saterdag 7 November 2020

Spreuke 19:20.  Luister na raad, aanvaar wat jou geleer word, sodat jy uiteindelik wysheid kan hê.

Hoe het jy oor die jare heen verander? Waaroor het jy van besluite verander? Hoe is dit dat die lewe dan nou so anders as ’n paar jaar vantevore lyk? Ons dra van geboorte tot dood dieselfde naam, van en identiteitsnommer, maar hierdie identiteit is oor jare stukkie vir stukkie deur God verander.  Baie daarvan het op sig self niks met jou eie keuses te doen gehad nie, maar met omstandighede wat jou verplig het om te verander.  Neem vandag, soos elke dag, die tyd om deur God geleer en verander te word en vertrou dat dit jou by die regte plekke sal uitbring waar jou lewe van betekenis kan wees. Is dit nie immers hoe jy vandag tot by die plek gekom het waar jy nou is nie?

Gebed (ou weergawe van liedboek 543)

Here Jesus ek is klein, swak onkundig en onrein. Laat my grootword tot U eer. Laat my daagliks van U leer. O Jesus neem my, O Jesus lei my, O Jesus sterk my, en vorm my tot U eer.

Heiland laat my nooit vergeet, dat U alles van my weet. Al is niemand ook by my, bly U Here my naby. O Jesus neem my, O Jesus lei my, O Jesus sterk my, en vorm my tot U eer.

Gedagte vir die dag | Vrydag 6 November 2020

Jesaja 55:8-9.My gedagtes is nie julle gedagtes nie, en julle optrede nie soos Myne nie, sê die Here; soos die hemel hoër is as die aarde, so is my optrede verhewe bo julle optrede en my gedagtes bo julle gedagtes.

In die Bybelse tyd het mense afbeeldings van God gemaak in ’n poging om ’n greep op God te kry.  Hulle het probeer om iets van die goddelike in hulle midde te hê wat hulle kon sien en vir hulle as ’n troos kon dien.  ’n Mens het begrip daarvoor, omdat ons vandag daardie selfde behoefte het.  Waarom was die maak van afgode dan in die Bybelse tyd so streng verbied?  Omdat ons nie vir God in ons eng menslike idees, konsepte en verwagtinge kan vasvang nie. Daarvoor is God te groot. Daarom is afgode nog steeds in ons ons tyd ’n groot uitdaging.  Kom ons gee God die ruimte om waarlik God te wees en toe te laat dat Hy in hierdie dag ons denke, verwagtinge en gedrag oop breek.

Gebed (liedboek 509)

Op berge en in dale, en oral is my God. Waar ons ook telkemale mag swerwe daar is God! Waar ons gedagtes swewe of styg ook daar is God, omlaag en hoog verhewe. Ja, oral is my God!

Hy het die aarde en hemel geskep aan die begin. Hy laat ons oor die lewe vanuit sy Woord besin. Wanneer ons denke doodloop en ons nie verder weet, as ons verval in wanhoop, is God tot hulp gereed.

Gedagte vir die dag | Donderdag 5 November 2020

Matteus 19:23-27.  Jesus het toe vir sy dissipels gesê: “Dit verseker Ek julle: ‘n Ryk mens sal moeilik in die koninkryk van die hemel kom. Ek stel dit nog sterker: Dit is makliker vir ‘n kameel om deur die oog van ‘n naald te kom as vir ‘n ryke om in die koninkryk van God te kom.” Toe die dissipels dit hoor, het dit hulle geweldig ontstel, en hulle het gesê: “Wie kan dan gered word?” Jesus het reguit na hulle gekyk en gesê: “Vir mense is dit onmoontlik, maar vir God is alles moontlik.” Toe sê Petrus vir Hom: “Kyk, ons het alles verlaat en U gevolg. Wat sal ons daarvoor kry?”

Dit is opmerklik dat Jesus homself  verskeie kere in die Bybel sterk teenoor mense wat ryk is,  uitgespreek het. Dit het selfs die dissipels geweldig ontstel. Wat rakende rykdom het Jesus dan so diep gegrief?  Dit het waarskynlik te doen met die realiteit dat geld en sukses maklik kunsmatige en vals ruimtes skep waarbinne mense tuiskom. Dit dien nie die belange van God se koninkryk, wat veel wyer strek nie. Nou is die uitdagende vraag: Praat Jesus hier met my? Jesus roep ons tot ’n matige en dankbare lewe.  Wanneer is genoeg, genoeg en hoe praat die Here met jou in hierdie teks?  Ons bid dikwels baie vinnig die volgende gebed rondom die etenstafel, “en Here wees met die mense wat minder bevoorreg is”. Ons bid dat die Here by die wat minder bevoorreg is sal wees, maar God het ons in hulle midde geplaas om self daar te wees. Wat ons elkeen se verantwoordelikheid is, moet ons daagliks vir onsself uitmaak.

Gebed (liedboek 528)

Leer my U wil Heer, u plan vir my; laat ek nie doelloos, nutteloos bly. Hou my erkentlik, Heer in U werk. As ek dan swak is, maak U my sterk. U gee u gawes net soos U wil; almal is diensbaar, elk met verskil. Vul met u Gees my, breekbare kruik, dat U my orals nuttig gebruik.

1 122 123 124 128