Deur: Ds. Johan Visser
In Stellenberg-gemeente is elke lidmaat se geloofsreis vir ons belangrik. Die hartklop van dié vormende reis is om jongmense en volwassenes op hulle onderskeie geloofspaaie te begelei sodat elkeen sy/haar identiteit in Christus, asook hul lewensroeping kan ontdek. Sodoende sal hulle as geestelik selfstandige mense wat Jesus navolg, ontwikkel.
Ons het laas jaar begin om meer bewustelik verskeie roetemerkers sigbaar te vier, soos met die graad 7’s se oorgang na die senior fase van kategese en die nuwe lewensfase waarbinne hulle hulself bevind. Roetemerkers help ons om te sien waar ons vandaan kom en waar ons tans is (oriëntasie). Dit help ons ook om te sien van watter storie ons deel is en wie saam met ons stap (identifisering) en dit gee ons geleentheid om iets van ons reis te erken en te bevestig (bely).
Ons het op Sondag 28 Januarie tydens die familiediens ook so ’n roetemerker gevier toe ons aan alle graad 1’s ’n Bybel oorhandig het. Voor die ontvangs van die Bybels het elkeen eers by die doopvont stilgestaan om hulle te herinner dat hulle as babas gedoop is, en dat God se groot genade vir hulle elkeen beskikbaar is en dat Hy elkeen se lewenspad met hulle meemaak. Graad 1 is ’n groot mylpaal in elkeen van hulle se lewens. Vanjaar gaan hulle in die skool leer lees en ons wil ouers aanmoedig om saam met hulle kinders in die Woord van God te wandel.