Joh.4:23 “Maar daar kom ’n tyd, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader deur die Gees en in die waarheid sal aanbid, want die Vader wil juis hê dat die mense wat hom aanbid, dit so moet doen.”
Ek het in die laaste tyd heelwat nagedink oor eredienste in die kerkgebou juis omdat ons in ’n tyd is waar die inperkingsmaatreëls effens verlig is en meer getalle in die kerkgebou bymekaar mag kom. Dit het my aan die Mosellerivier, waar langs een van die oudste stede in Duitsland genaamd Trier, lê en spog met meer kerkgeboue as enige ander stad van dieselfde grootte in Europa. Een van die geboue in Trier is die Basilica wat aan die begin van die vierde eeu as ’n troonsaal vir Konstantyn die Grote gedien het. Die Basilica is later omskep in ’n kerkgebou. Maar Trier is vandag eintlik meer bekend as die stad waar Karl Marx, die geestelike vader van die kommunisme op 2 Mei 1818 gebore is. Alhoewel sy voorouers Jode was, het sy pa die Lutherse geloof aangeneem. Tog staan daar in die kommunistiese manifes wat Karl Marx help opstel het dat die mens as arbeider die slagoffer is van godsdienstige misleiding en ekonomiese uitbuiting. Wat het tog in Trier, die stad met sy kerke en teologiese kweekskole verkeerd geloop dat daar so ’n groot weersin in godsiens by Karl Marx onstaan het sodat hy ’n ateïstiese ideologie verkondig het wat soos ’n veldbrand destyds oor die hele wêreld versprei het? Kenners beweer dat ondanks al die kerkgeboue en godsdienstige aktiwiteite Trier geestelik dood was. Die predikante en teoloë het hulle net beroem op hul kritiese geskrifte oor die Bybel en mettertyd het vrae oor onbenullige sake die eenvoudige geloof in Jesus se kruis, die leë graf, liefde, genade, deernis en al hierdie dinge wat deel is van ons geloof, verdring. En wie sal tog waag om te sterwe vir teologiese besinnings en geloof waar daar nie liefde en deernis is nie. Ek het dit aan die begin gelees maar wil jou herinner aan Jesus se woorde aan die Samaritaanse vrou wat allerhande vrae oor hulle plek van aanbidding gehad het. Maar daar kom ’n tyd dat jy sal sê, en dit is nou, wanneer die ware aanbidders die Vader deur die Gees en in die waarheid sal aanbid. Want die Vader wil juis hê dat die mense wat hom aanbid, dit so moet doen.
Met dié woorde roep Jesus ons op om die geloof te leef en om doodgewoon net Christene te wees, om nie vas te val in al die goed waaroor die kerk en gelowiges so met mekaar stry en baklei nie. Maar Christenwees in die markplein van die lewe beteken dat ons moet uitgaan met geloof en op die markplein van die lewe leef omdat Jesus opgestaan het vir my en vir jou. Kom ons wees doodgewoon Christene en gee op die wyse gestalte aan die kerk van Jesus deur elke dag dit te leef, waar ons onsself ook al bevind. En die Here plaas jou op ’n spesifieke plek waar jy dit kan doen.
Gebed
Here, gee dat ons in die markplein van die lewe gestalte sal gee aan u liefde, deernis en omgee en dit elke dag sal uitleef.
Amen