Kosnood bly deurgaans ’n uitdaging en daarom wil ons as gemeente graag aan mense wat voedselnood beleef, praktiese hulp in dié verband verleen.
Hoe kan jy help?
- Neem ’n inkopiesak by die kerk se deur en vul dit met die voorgestelde kositems, soos aangedui op die lysie in die sak. Gee die gevulde sak by die kerkkantoor af, of laat dit in die voorportaal van die kerk sodat ons dit onder verskillende gesinne in nood kan versprei.
- Jy kan ook die lys met voorgestelde kositems HIER aflaai en die items by die kerkkantoor af gee, of in die voorportaal van die kerk in die wit mandjies laat.
- MiChange-koeponne: Maak ’n verskil in iemand se lewe deur ’n Michange-koepon @ R50 by die kerkkantoor te koop en aan ’n hawelose persoon te skenk. Met dié koepon kan die ontvanger ’n ete, ’n warm stort, slaapplek en berading by enige MES-sentrum ontvang.
Warm klere en komberse
Bydraes van bruikbare, gebruikte warm klere en komberse kan by die kerkantoor afgegee word. Dit word vanuit ons omgeestoor na minderbevooregte persone en welsynsorganisasies versprei.
Wolskenkings
Ons breigroep brei jaarliks warm serpe en musse wat tydens winteruitreike aan minderbevoorregte mense in Karoodorpe versprei word. Hulle is reeds aan die brei vir 2024 se uitreike. Bydraes van bruikbare afvalwol of enige ander wol is baie welkom en kan by die kerkkantoor afgegee word, of in die mandjies in die voorportaal van die kerk gelaat word.
Finansiële bydraes: ABSA-tjekrekening 145 058 0011, takkode 632005. Verwysing BREIGROEP.
Kontantbydraes vir die kosprojek
Finansiële bydraes kan oorbetaal word aan ABSA-tjekrekening 145 058 0011, takkode 632005. Verwysing KOSPROJEK.