As dit moontlik sou wees om Jesus vandag van aangesig tot aangesig raak te loop, wat sou jóú woorde, opmerkings, vrae of versoeke aan Hom wees? Sou jy verras of oorbluf, verheug of geskok, berouvol, of net heeltemal stomgeslaan wees? Of sou jy Hom ignoreer en laat verbygaan omdat jy Hom eintlik nie ken nie?
In die Bybel lees ons van Jaïrus – ’n man met gesag wat Jesus vra om sy dogter te genees. Die naamlose vrou met bloedvloeiing raak Jesus se kleed aan omdat sy deur talle dokters teleurgestel is. Die Skrifgeleerdes is skepties en bevraagteken sy gesag. Die Doper wat Jesus se weg kom berei het, sê: “Die hemel het naby gekom”. Die vrou by die put vra: “Waar gaan jy die lewende water vandaan kry?” Die bruilofgangers vra Hom vir nuwe wyn. Elkeen kom na Jesus met ’n unieke gesindheid en vraagstuk. Die dissipels se versoek aan Hom: “Here, leer ons bid”.
Dink weer ’n bietjie na oor die dissipels se vraag. ’n Gebed kan so eenvoudig wees soos om één ding vir Jesus te vra en vir ‘n ander ding dankie te sê. Gebed is bloot om met Jesus as Seun van God te begin praat asof Hy werklik hier is, want die hemel het naby gekom – daar is nuwe lewende water.
Waarom is gebed belangrik?
- Omdat die Here vandag nog graag van ons wil hoor. Dit is die sleutel tot kommunikasie met God, om Hom te vertel hoe jy Hom nodig het, waaroor jy bekommerd is, hoe seer jy gekry het, waarvoor jy dankbaar is, hoe baie jy Hom liefhet.
- Gebed is ook om net te vertoef by God en te luister wat op God se hart is, om sy stem in jou binneste en deur sy Woord te hoor en ooreenkomstig te handel. Gebed kan jou uitkyk verander en jou beter lewensgehalte bied.
- Gebedstyd beteken ook om ander te ondersteun as ons vir hulle intree en die Here te vra om hulle te help en in hul behoeftes te voorsien.
- Soos in die eerste gemeente in Handelinge kan ons ook eendragtig saamstem in kollektiewe gebed.
In Stellenberg is daar groepe jongmense en seniors wat bid. Daar is vroue- en mannegroepe wat weekliks byeenkom om te bid en so ook die predikantegroep, wyke, omgeegroepe en huiswerkers wat bid. Elkeen hiervan is ’n ontmoeting met die Here. Hier is ’n paar geleenthede wat jy kan aangryp om met die Here te praat:
- Sondae 08:30 voor die oggenddiens in die gebedskamer langs die kapel, op jou eie, of saam met lede van die gebedsgroep, waar ons bid vir die erediens en die week wat voorlê.
- Maandae 09:15 by die vrouegebedsbyeenkoms in die gebedskamer, waar ’n tiental vroue saam bid voor die Bybelstudie in die Kleinsaal. Almal wat iets op die hart het, is hartlik welkom.
- Dinsdae 19:00 in die kapel by ’n informele gebedsbyeenkoms waar enigeen met gebedsversoeke meer as welkom is. Reël vooraf vir individuele gebed om 18:00 indien dit jou behoefte is.
- Donderdae 6:00 in die Markplein saam met die Mannegroep.
Ons doen dit alles omdat die gebed van ’n gelowige ’n kragtige uitwerking het (Jak. 5:16). Ons bid ook omdat ons stad, provinsie en ons land dit nodig het, soos in Jer. 29:7 “. . . bid tot My vir daardie stad, want sy belange is ook julle belange.”
En ons doen dit omdat Jesus ons voorspraak by die Vader is (1 Joh. 2:1) en ons daarom vrye toegang tot die heiligdom het (Heb. 10:19).