Wat jy in 2022 van die Annibrand-jeugbediening moet weet

 

Registrasie vir Annibrand Senior en Junior (kategese).   Registreer jou kind/ers aanlyn vir kategese.  Die registrasieproses kan via die gemeente se webwerf (www.stellenberg.co.za) gedoen word.  Die skakels vir die registrasieproses sal vanaf Maandag 17 Januarie 2022 op die webwerf beskikbaar wees.

Die aanlyn proses is vinnig en ouers kan dit op hulle tyd en in die gerief van hul eie huise doen.  Diegene wat egter verkies om hulle kinders persoonlik  te laat registreer, kan dit die eerste drie Sondae van die eerste skoolkwartaal na die familiediens doen.

“Ons besef die registrasieproses is rompslomp vir ouers, maar dit help ons baie om te weet vir hoeveel kinders ons elke jaar voorsiening moet maak,” sê ds. Hanno Ackerman, jeugleraar.  “Ons wil nie graag net volgens vorige jare se syfers beplan nie,  aangesien daar heelwat wisseling plaasvind.  Ons is baie dankbaar vir ouers en tieners se samewerking in die verband.”

Hulp by kleingroepe (kategese).  “Ons het altyd kleingroepleiers by alle graadgroepe nodig,” sê Hanno.  “Indien jy by jou kind se leefwêreld betrokke wil raak, gebruik die geleentheid om by ons span kleingroepleiers aan te sluit.  Jy gaan jou kind se maats op ’n persoonlike vlak leer ken en die impak wat jy op jou eie kind en ander kinders se geloofslewe kan hê,  sal werklik ’n verrykende ervaring wees.  Voorbereiding vir byeenkomste is regtig baie eenvoudig en gaan baie min van jou tyd in beslag neem.”

Ontwikkeling van leierskap.   Volgens Hanno word beoog om die graad 7-groep en die graad 12-groep as hulpleiers, of mentors, by kategese-kleingroepe te betrek.  Sodoende word die twee groepe die geleentheid gebied om diensbaar te wees en leiersvaardighede word ontwikkel.  Jongmense verkies ook om na mekaar te luister en die goeie invloed deur iemand vanuit hulle eie portuurgroep, kan ’n besonder positiewe uitwerking hê.

Dagkampe.  “Skoolkwartale is stampvol en veral sportprogramme laat deesdae min tyd vir kategesekampe toe,” sê Brenda Visser, kinderwerker. “Daarom het ons besluit om dagkampe op Sondae vir ons Annibrand Junior-groep aan te bied.  Ons eerste toetslopie vir ’n dagkamp is op Sondag 5 Desember by die Taaibosch-avontuurkampeerterrein, net buite Durbanville.  Dit is ’n lekker vrolike en gesellige manier om die jaar mee af te sluit.  Ek is baie opgewonde oor die dagkampe en die Taaibosch-kampeerterrein is pragtig, baie goed geleë en bied dus volop moontlikhede vir ons bediening.”

Graad 8-kamp.  Die jaarlikse graad 8-kamp word tans voorlopig vir 14 tot 16 Januarie 2022 beplan.  Hanno verduidelik dat die bediening in die lig van die Covid-19-pandemie deurentyd aanpasbaar en veerkragtig moet wees.  Daarom word met die oog op moontlik veranderende omstandighede, ook voorsiening gemaak vir alternatiewe kampreëlings en is dit dan ook so aan Hoërskool Stellenberg voorgelê.

Opsie 1: ’n Volledige kamp word van 14 tot 16 Januarie op die kerkterrein – soos verlede jaar – aangebied, met 200 graad 8’s en 100 leiers wat geakkommodeer kan word.

Opsie 2: ’n Dagkamp op ’n geskikte kampeerterrein op 22 Januarie met plek vir 150 graad 8’s en 50 leiers.

“Die verloop van die pandemie sal die bepalende faktor wees watter opsie uiteindelik aangebied sal word en by albei kampe sal Covid-19-maatreëls streng nagekom word,” sê Hanno.

 Idees en voorstelle.  Stuur gerus idees en voorstelle rakende die jeug- en kinderbediening aan hanno@stellenberg.co.za of brenda@stellenberg.co.za.