Deur: Ds. René Potgieter
Geseënd is dié wat barmhartig is, want aan hulle sal barmhartigheid bewys word. Matteus 5:7
Die Seisoen van Barmhartigheid word tradisioneel in Augustus gevier. Die koninkryk van God verg van ons om na mense uit te reik en hulle met liefde aan te raak. Die praktiese uitvoering van die opdrag lê in barmhartigheid. Maar hoe verwag God van ons om barmhartig te wees in hierdie uitdagende tyd waarin ons leef?
In sy boek When helping hurts verduidelik Steve Corbett dat ons dikwels as ons behoeftige mense help, net die simptome dokter in plaas daarvan om die werklike probleem op te los. En die simptome van die meeste behoeftige mense lyk ongelukkig dieselfde: verligting vir hul materiële nood. Die onderliggende oorsake van die situasie waarin hulle hul bevind, is dikwels moeiliker om raak te sien. Daarom is ’n behoorlike ondersoek na die omstandighede van mense vir wie ons wil help, nodig. Dit moet nie het ’n aksie wees van stilstaan, ’n geldjie in iemand se hand stop en wegloop nie – nee jy moet die persoon wat voor jou staan, raaksien.
Daarom gaan ons tydens die maand van barmhartigheid self in die spieël kyk en ’n paar vrae oor onsself beantwoord.
Is barmhartigheid ’n karaktertrek van my?
Barmhartigheid is nie goeie werke wat ek doen en dan net weer kan los nie. Dit is ’n karaktertrek wat elke opregte Christen van God ontvang. Dit is ’n leefstyl. Mense dink maklik dat om barmhartig te wees groot inspanning en harde werk verg. Ons assosieer dit dikwels met projekte van dienslewering – iets waarmee ek klaarmaak en dan weer met my lewe weer voortgaan, of ons beskou dit as ’n opoffering wat ’n mens nie vir die plesier doen nie. Hierteenoor is ware barmhartigheid ’n leefstyl, want om met opregte omgee en liefde te leef is ’n gesindheid en vermoë wat God self in jou kom plaas. Sy Gees kom gee jou ’n nuwe hart.
Sien ek mense soos God hulle sien?
Barmhartigheid begin wanneer jy na mense kyk deur God se oë. Dikwels sien ons neer op behoeftige mense. Hulle is lastig, hulle pla ons en hulle dring hulself in ons gemaklike lewe of persoonlike ruimte in. Maar as ek hom, of haar, ook sien as geskape na die beeld van God, verander my houding. Wanneer ’n mens dit doen, benader jy mense anders: met deernis, liefde en sorg – en bring jy beslis verandering in iemand se lewe!
Waarom wil ek help?
Waarom wil jy regtig ander mense help? Wat motiveer jou? Het ons arm mense regtig so lief dat ons hulle wil dien? Of het jy dalk ander motiewe? Wil jy graag iets goeds doen vir ander? Wil jy dalk iets betekenisvols doen met jou lewe? Wil jy help om erkenning te kry? Wil jy net help om self raakgesien te word? Ondersoek jou hart en vra jouself af, waarom wil jy help?
Is ek ’n kanaal van God se genade?
Sommige dorpe se watervloei werk deur middel van kanaalstelsels. Die kanaal is die weg waarlangs die water vanaf die dam na die inwoners van die dorp vloei, sodat hulle dan met die water hulle tuine kan natlei. Die kanaalstelsel is ’n interessante sisteem. Elke erf ontvang ’n leibeurt en wanneer ’n mens klaar is met jou leibeurt, sluit jy die toevloei na jou erf af, sodat die water kan verbyvloei na jou bure toe. As gelowiges weet ons mos alte goed dat God die kerk gekies het as dié kanaal waardeur Hy sy goedheid, genade, liefde en barmhartigheid by die mense van die wêreld wil uitbring. Nou is die vraag – het God se goedheid, genade en guns by jou gestop, of vloei dit deur na ander?
Ten slotte
Augustinus het barmhartigheid soos volg gedefinieer: As jy twee paar skoene het, behoort een paar skoene outomaties aan iemand wat nie skoene het nie. Wat verwag God van ons?
Daagliks word ons gekonfronteer met soveel negatiewe mediaberigte. Dit maak ons harte hard en ons hande toe, maar selfs in die uitdagende tyd waarin ons nou leef, verwag God van ons om steeds omgeeharte te hê en deernisvol met hulle wat elke dag met die skerp kante van die lewe te doen het, om te gaan. Om barmhartig te wees na buite, moet iets hier binne-in my verander. En al hoe ek dit gaan regkry, is om naby aan die Here te leef. Daarom moet ek bid dat die Here vir my ’n barmhartige hart sal gee – ’n sagte hart vir ander mense.