Maatskappye moes skielik nuwe planne beraam om personeel en die terugfasering na kantore te bestuur. Heelwat besighede maak steeds van ’n gekombineerde werkswyse tussen Zoomafsprake, tuiskantore en verminderde ure op kantoor gebruik.
Nou ontstaan die vraag hoe ’n mens jou span kan begelei om meer effektief te werk en produktiwiteit te verhoog te midde van die nuwe uitdagings.
Hier is vyf strategieë wat jou in die proses kan ondersteun
- Reflekteer oor jou dag
Neem daagliks vyf minute voor jy die dag afsluit en dink na oor die volgende drie vrae. Wat was goed omtrent die dag? Wat het ek sleg of frustrerend gevind? En dan, wat kan ek leer uit die goed en sleg sodat ek môre kan aanpas, of verander. Maak notas van jou antwoorde en stoor dit op jou foon of rekenaar. Moenie dat die lesse wat jy leer, verlore gaan nie. Probeer om die nuut geleerde lesse so gou as moontlik te begin toepas, dan sal dit oor die langtermyn ’n ongelooflike impak op jou produktiwiteit en resultate hê. Spandeer net vyf minute aan dié oefening.
- Strategiese beplanning vir die volgende dag
Na die besinning oor jou dag, doen die volgende vyf-minute-oefening. Skyf neer wat die drie tot vyf belangrikste take is waaraan jy die volgende dag aandag moet skenk. Dit moet take wees wat jou besigheid, of span se resultate sal laat groei. Maak ’n lysie van al die afsprake, oproepe en e-posse wat met dié take verband hou. Al behaal jy net sukses met twee uit die vyf take, het jy minstens iets positiefs gedurende die dag bereik.
- Spanlede se visie
Maak gereeld individuele afsprake met die mense in jou span. Vind uit wat is elke individu se dryfveer en wat elkeen se persoonlike doelwitte is. Maak seker dat almal verstaan wat die maatskappy se visie is en hoe hulle hul persoonlike visie met die van die maatskappy kan versoen. Dit skep motivering en dryfkrag en verseker ook dat almal dieselfde doelwit nastreef. Die resultaat sal wees werk wat vinniger en meer effektief afgehandel word.
- Doelwitstelling | Erkenning | Hantering van swak werk
Dis noodsaaklik dat elke werknemer in jou span presies weet wat sy/haar doelwitte vir die week is. Stel dit saam met die werknemer op. Dit voorkom onduidelikheid en maak dit baie maklik om hom of haar verantwoordelik te hou. Prys spanlede onmiddellik vir goeie werk en bied ook dadelik ondersteuning aan wanneer ’n spanlid nie goeie werk lewer nie. ’n Hernude fokus op die belangrikste uitkomste en die onmiddellike gee van erkenning, of regstelling van foute, maak mense meer produktief en verhoed onsekerheid.
- TOEPS (Apps) vir beter werksvloei
Daar is ’n groot verskeidenheid toeps wat toegespits is op die verbetering van produktiwiteit en projekbestuur. Dit bly ’n persoonlike keuse en die toep wat jy gebruik moet die beste pas by jou en jou span se unieke behoeftes. Hou die volgende riglyne in gedagte:
- Dit moenie te moeilik wees om te gebruik nie. Hoe eenvoudiger, hoe beter.
- Dokumentasie moet uit verskillende oorde maklik in een dokument of projek ingetrek en opgedateer kan word.
- Met een oogopslag moet ’n mens presies weet wat elke spanlid doen en hoe hul vordering lyk.
’n Toep optimaliseer besigheidsisteme en help die span om goeie resultate vining te kan lewer. Dit maak jou as besigheidseienaar of spanleier baie meer effektief in die bestuur van jou personeel en dit verhoog jou persoonlike produktiwiteit.
Hier is ’n lys van goeie toepassings om te ondersoek:
- Nozbe
- Asana
- Trello
- Monday
- Basecamp
- Slack
Dit is ook die moeite werd om ’n sagtewareontwikkelaar te nader wat vir jou maatskappy ’n goeie besigheidsintegrasieprogram kan skryf. Verhoogde produktiwiteit is in jou hande. Dit verg aanpassings en dissipline, maar die vrugte wat jy pluk, gaan die beslissende verskil in jou besigheid en lewe maak.