Vroue van die reformasie

VROUE VAN DIE REFORMASIE

Deur: Dirk Brand

Die name van die groot hervormers soos Luther, Calvyn, Zwingli en Knox is alombekend, maar daar was ook ’n hele aantal ander mense soos, Philip Melanchton in Wittenberg en Martin Bucer in Strasbourg wat ’n belangrike rol in die verspreiding van die Protestantse geloof in die tyd van die Reformasie gespeel het.

Dit is egter nie so algemeen bekend dat ’n aantal vroue op verskillende plekke in Europa ’n belangrike rol gespeel het om die Reformasie te bevorder nie.  In ’n era waarin vroue in die gemeenskap en veral in die Rooms-Katolieke Kerk nie gereken is as leiers nie, het hierdie vroue die nuwe begrip van die Christelike geloof, soos veral deur Luther en Calvyn beskryf is, aangegryp en aktief ondersteun.  Kom ons maak nader kennis met ’n paar van hierdie merkwaardige vroue.

Seker die bekendste vrou tydens die Reformasie was Katharina von Bora (1499 – 1552), wat in ’n klooster grootgeword het en aanvanklik ’n non was totdat sy van Luther se aanklagte teen die kerk gehoor het.  Sy en elf ander nonne het een aand in 1523 uit die klooster ontsnap en in Wittenberg aangekom.  Katharina het eers by die skilder Lucas Cranach en sy gesin gebly totdat Martin Luther haar ’n paar jaar later gevra het om te trou.  Sy het die swart klooster in Wittenberg, ’n trougeskenk, as ’n herberg, waar baie van Luther se besoekers tuisgegaan het, ingerig en sodoende ’n tuiste, gekenmerk deur hulle gasvryheid, geskep.  Katharina was boonop as’t ware ’n entrepreneur wat studente-akkomodasie gereël het, toegesien dat bier gebrou en na die tuin en vee omgesien word en ook die huishouding se finansies in orde gehou.

Luther het sy vrou bewonder vir haar skerp intellek en ook haar praktiese ingesteldheid.  Sy het hom Herr Doktor genoem en hy sou haar dan terg deur haar Herr Käthe te noem.

Argula von Grumbach (1492 – 1568), ’n vrou uit die adelstand in Beiere, het van kleins af ywerig gelees en onder andere die Bybel bestudeer.  Sy moes dit tuis doen, want formele opvoeding buite ’n klooster was nie vir jong meisies beskikbaar nie.  Sy het na haar huwelik met Friedrich von Grumbach naby Ingolstadt, wat vandag die hoofkantoor van Audi huisves, gewoon.  Op ’n dag het sy gehoor van ’n jong student, Arsacius Seehofer, wat by die teologiese fakulteit in Ingolstadt die standpunte van Luther ondersteun en versprei het, maar dit het glo die rektor en die universiteitsraad teen die bors gestuit en hulle het vir Seehofer in hegtenis geneem en hom gedwing om sy steun vir Luther te laat vaar.

Hierdie saak het Argula von Grumbach aangegryp en sy het ’n brief in Duits aan die universiteitsowerhede geskryf waarin sy gesê het dat sy nie Latyn, die universiteitstaal, ken nie, maar dat die professore wel Duits verstaan.  Komende van ’n vrou was dit vir die owerhede ’n bitter pil om te sluk.  Sy het hulle uitgedaag om oor die teologiese kwessies en spesifiek die student se saak met haar te debatteer, wat hulle geweier het.  Haar brief het egter ’n kitstreffer geword en was een van die mees gedrukte geskrifte van daardie tyd.  Vele van haar geskrifte daarna het dieselfde pad geloop en so die boodskap van die Reformasie in Duitsland en na ander lande versprei.

Daar was vele ander vroue, onder andere Katharina Zell in Strasbourg en Marguerite van Navarre, wat op verskillende maniere ook die Reformasie ondersteun het. Al hierdie vroue verdien ook erkenning en respek vir hul bydrae tot die Reformasie.