Deur: Etienne van Wyk*
’n Mens se lewe verander in ’n oogwenk. ’n Mens waardeer nie iets totdat jy dit nie meer het nie. Dit is die klein dingetjies in die lewe wat saak maak. Al dié bekende clichés het baie skielik nuwe betekenis in my lewe verwerf.
Ek was nog altyd lief vir sport en het voortdurend na nuwe uitdagings gesoek. Aan die begin van 2017 besluit ek toe om aan driekampbyeenkomste te begin deelneem en kort daarna het die gogga om in Juniemaand aan die Ystermankompetisie 70.3 deel te neem, my gebyt. Ysterman 70.3 is ’n halwe Ysterman wat 1.9 km se swem, 90 km se fietsry en 21.1 km hardloop behels.
Ek is maar kompeterend van geaardheid en dit was nie lank voor ek my oogmerk na die Ironman 70.3–wêreldkampioenskap verskuif het nie. In September 2017 het ek nog ’n 70.3-byeenkoms in Kroasië voltooi en in Januarie 2018 nog een in Oos-Londen – alles met die oog daarop om vir die wêreldkampioenskap later die jaar te kwalifiseer.
Intussen het daar ’n tweede doelwit bygekom en dit was om die volle Ystermanbyeenkoms aan te pak, wat dan 3.8 km se swem, 180 km se fietsry en 42.2 km se hardloop sou behels. Dié kompetisie voltooi ek toe in April 2018 binne 11 uur en 46 minute en kwalifiseer in dieselfde asem vir deelname aan die wêreldkampioenskap vir Ysterman 70.3 wat in September in 2018 in Port Elizabeth aangebied sou word.
Driekamp is ’n baie tydrowende sport. My dag het om 04:20 met ’n oefensessie voor werk begin en dan het ek saans rondom 19:00 weer ’n oefensessie ingepas. Dit het tot elf oefensessies per week gelei en ongeveer 16-18 ure in beslag geneem. Ek het gelukkig ’n wonderlike vrou wat, buiten dat sy my deurlopend ondersteun het, baie ure alleen tuis moes deurbring terwyl ek met oefensessies besig was.
In Julie 2018 het ek en my vrou vir ’n naweek in ons strandhuis in Franskraal gaan kuier. Ek was opgewonde om in ’n ander omgewing te oefen, maar die een nadeel was dat ek toe alleen sou moes fietsry. Ek het dit nie vooraf geweet nie, maar dit sou juis daardie naweek ’n kritieke impak op my lewe gehad het.
Ek is die Sondagoggend vroeg uit die huis met my vrou wat grappenderwys groet: “Kyk waar jy ry.” Dit was nie ’n lang oefesessie nie, net 60 km, maar die fokus was op spoedwerk waar ek gewissel het tussen hoë en lae spoedintervalle. Ek het wat genoem word ’n Time Trial (TT) fiets. Op dié fiets leun ’n mens met jou elmboë op die stuurstang met jou hande voor jou uit in ’n vooroor gebukkende posisie. Die posisie veroorsaak dat jou nek seer raak wanneer jy voor jou kyk, met die gevolg dat jy elke nou en dan afkyk om jou nek ’n ruskans te gee. Jy kyk uit die aard van die saak vorentoe voor jy jou kop laat sak en wanneer ons in ’n groep ry, waarsku ons mekaar indien daar iets in die pad is. So ongeveer 5 km van die huis af het ek weer vinnig afgekyk en die volgende oomblik net ’n geweldige slag gevoel. Ek het my bewussyn verloor en op die grond geval. Toe ek my bewussyn herwin, was daar paramedici rondom my en ’n rukkie later het my vrou ook daar aangekom. Ek het op daardie stadium glad nie besef wat met my gebeur het nie.
Wat ons na die tyd uitgepluis het, was dat ’n bakkie wat onklaar geraak het, gedeeltelik op ’n blinde draai in die pad gestaan het. In die paar sekondes wat ek afgekyk het, het ek teen net minder as 40 km/h agterin die voertuig vasgery en met my kop en gesig die kap van die bakkie getref.
Ek is per ambulans na Hermanus Mediclinic geneem waar ek gestabiliseer is en die eerste skanderings geneem is. Daarna is ek na Cape Gate Mediclinic se intensiewesorgeenheid oorgeplaas, waar ek vir volgende tien dae versorg is. My nek het tussen die sesde en sewende nekwerwel gebreek en ek het veelvoudige gesigbeserings opgedoen.
Die nekbesering het tot gevolg gehad dat ek nou van die bokant van my borsbeen af verlam is en die fynmotoriesevaardighede van my hande, asook die gevoel in my onderarms verloor het. Ek word dus tegnies as ’n kwadrupleeg beskou.
Vanaf die Cape Gate Mediclinic is ek na die Vincent Pallotti Rehabilitasiesentrum oorgeplaas, waar ek die volgende meer as drie maande moes deurbring.
Dis seker nodeloos om te sê dat dit vir my ’n enorme aanpassing was om na die aktiewe lewe wat ek gelei het, skielik vasgevang te wees in ’n liggaam wat bykans nie kon beweeg nie. My wêreld het letterlik handomkeer verander. Die implikasies vir my familie was uiteraard net so uitdagend. Verder het ek boonop my eie besigheid waar ek die Vrydagmiddag gegroet het en toe nooit die Maandagoggend na toe teruggekeer het nie en ek sou ook nie vir die volgende vier maande weer my verpligtinge daar kon nakom nie.
’n Groot stryd is gestry en baie ure is omgehuil en gebid. Ek het op daardie stadium ongelukkig vir God as baie ver ervaar. Wat my wel oorweldig het, was die vlak van ondersteuning en belangstelling wat ek van mense ontvang het. Twee persone van wie ek graag melding sou wou maak, is ds. Callie Visagie wat my gereeld besoek het en ds. Hennie Fouché van die NG Kerk Hottentots-Holland in Somerset-Wes. Ds. Fouché het beide my ouers se begrafnisse behartig. Dit was die enigste ontmoeting wat ek tot nog toe met hom gehad het, maar ten spyte daarvan het hy my ’n aantal kere in die hospitaal besoek en behou hy steeds kontak met my.
Te midde van die worsteling wat ek rakende die groot verlies gevoer het, het daar geleidelik ’n geweldige sin van dankbaarheid, wat ek glo van God af gekom het, in my begin posvat. Ek het oneindig dankbaar geword vir die dinge wat ek behou het: dat ek bly lewe het, dat ek nie breinskade opgedoen het nie, dat ek die gebruik van my arms grootliks behou het, ens. Ek was en is steeds ontsettend dankbaar vir my vrou, wat my daagliks besoek en ongelooflik ondersteun het ten tyde van my hospitalisasie, terwyl sy self met haar daaglikse lewe moes voortgaan.
Die rehabilitasieproses was half teleurstellend. In ’n mens se eie gedagtes is jy hoopvol dat daar verbetering in jou toestand sal intree, terwyl die rehabilitasieproses eintlik grootliks daarop gerig is om jou, gegewe jou fisieke toestand, meer funksioneel te maak, maar ook dat jy jou veranderde omstandighede as ’n gegewe moet aanvaar. Te midde van alles is jy voortdurend in ’n geweldige emosionele stryd gewikkel om jou nuwe liggaamlike toestand en die realiteit van die situasie te aanvaar.
Die rehabilitasieproses het bestaan uit fisioterapie, wat gefokus het op die versterking van die spiere waarvan ek die gebruik behou het, arbeidsterapie wat funksionaliteit sou probeer verhoog en spraakterapie wat in my geval toegespits was op die rehabilitasie van my gesigspiere en die senuwees wat tydens die herstel van my kakebeen beskadig is.
Die rehabilitasieomgewing het twee uiteenlopende uitwerkings op ’n mens se gemoed. Aan die een kant is dit baie neerdrukkend om deurlopend in die teenwoordigheid van mense te wees wat een of ander vorm van trauma beleef het – van breinskade tot die verlies van ledemate. Aan die ander kant weer plaas dit jou eie situasie in ’n nuwe perspektief en maak dit jou dankbaar vir wat jy steeds het.
Die grootste aanpassing was met my ontslag uit die rehabilitasiesentrum en my terugkeer na die alledaagse lewe. Die onvermoë om te kan loop, beslaan net ongeveer 25% van die uitdagings wat ek daagliks moet hanteer. Die risiko van bedsere, verlies van beheer oor jou liggaamsfunksies, afhanklikheid van ander om basiese goed, soos aantrek, vir jou te doen, raak alles deel van die uitdagings wat jy daagliks die hoof moet bied. Urienweginfeksies is ’n groot risiko en ek is al twee keer weer daarvoor gehospitaliseer. Spastisiteit, wat een van die gevolge van my tipe beserings is, is ook ’n enorme en onophoudelike stryd.
Ek het tydens my verblyf in die rehabilitasiesentrum probeer om my vinger op die pols by my besigheid te hou. Ek kon nie wag om terug te keer werk toe nie. Ek het na ontslag weer deeltyds begin werk, maar mettertyd kon ek weer voldag werk.
My familie se ondersteuning was en is steeds fantasties. My dogter laai my soggens om 07:00 op vir werk en my seun kom haal my elke aand om 18:00. Baie groot aanpassings moes ook by die kantoor gemaak word sodat ek optimaal daar kan funksioneer. Ek skakel ook nou by Universiteit Kaapstad se sportinstituut in, waar ek met die hulp van ’n biokinetikus met rehabilitasie voortgaan.
In ’n situasie soos waarin ek my tans bevind, is die grootste stryd wat ’n mens stry dié tussen hoop en aanvaarding. ’n Mens wil altyd bly hoop en glo dat daar verbetering in jou toestand sal plaasvind, maar terselfdertyd kan jy nie aanbeweeg indien jy nie jou toestand aanvaar en daarin berus nie. Iewers tussen die twee pole moet ’n mens ’n balans probeer vind.
In ’n mate beleef ’n mens ’n rouproses waar jy afstand moet doen van jou “ou” lewe en dit bly ’n groot uitdaging. As deel van my poging om weer voluit te lewe, het ek onlangs vir my ’n handfiets gekoop. Dit is vir my wonderlik om weer buite, op die pad en aktief, te wees.
*Etienne en sy vrou, Edna, is sedert 2007 lidmate van Stellenberg-gemeente. Hulle woon in Mosellestraat 7.