Tummy-time vir babas

Deur: Zoné Janse van Rensburg

Ek ontvang dikwels vrae in my praktyk oor die rol wat die sogenaamde tummy-time in vroeëkinderontwikkeling speel.  Vrae soos: Is dit noodsaaklik dat my baba tyd op sy of haar maag deurbring?  Hoe lank moet my baba op sy of haar maag geplaas word? Dan hoor ek ook dikwels dat babas nie daarvan hou om op hulle magies neergesit te word nie. Dit het my laat besluit om die wenslikheid van tummy-time in dié artikel te belig.

Wat is tummy-timeDit is wanneer ’n baba op sy of haar maag lê,  arms uitgestrek na vore en met die bene óf onder die lyfie ingedruk, óf plat op ’n oppervlak.  Dié posisie moet altyd onder die toesig van ’n volwassene geskied.  Die doel daarvan is om jou baba te help om veral motories gedrewe ontwikkelingsmylpale te bereik.  Maak altyd seker dat die baba se lugweg oop is sodat die baba gemaklik kan asemhaal.

Tummy-time is ’n baba se eerste oefensessie en waarskynlik een van die belangrikste aktiwiteite met die oog op jou baba se ontwikkeling.  Dit is ook die een aktiwiteit waarmee nooit opgehou hoef te word nie. Tummy-time hou selfs voordele vir ouer kinders in,  soos die versterking van spiere wat sal help om ’n regop postuur te handhaaf, dit bou voort op hand-oog-koördinasie en verhoog liggaamsbewustheid.  ’n Ouer kind kan tummy-time toepas terwyl hulle inkleur, legkaarte bou of bordspeletjies speel.

Wanneer moet tummy-time begin en hoeveel is genoeg? Tummy-time kan begin sodra ’n baba gebore word en ’n gesonde lyfie het.  Doen dit daarna daagliks, altyd onder volwasse toesig en rek dit oor ’n paar sessies uit, sodat die baba ongeveer 15 minute per dag in totaal op sy of haar magie lê.  Dit kan dan langer word soos die baba se lyfie versterk en op die ouderdom van drie maande kan die baba tot ongeveer 60 minute in die posisie bly.

Tummy-time hoef nie altyd plat op die grond te wees nie. Die pasgebore baba begin met tummy-time ’n paar minute na geboorte wanneer die baba op die mamma se bors geplaas word. Daarna kan die mamma op ’n bed lê en die baba op haar maag plaas terwyl sy met haar baba speel en gesels.  Daar is verskeie variasies op tummy-time, soos om in ’n semi-lêposisie te sit met baba se maag teen jou lyf, of lê baba op die vloer neer met ’n opgerolde kombers, handdoek of klein kussinkie onder die borskas en onderdeur sy of haar armpies. Die kussing verlig die moeite wat die baba moet doen om sy kop op te lig en op sy voorarms te rus.   Wanneer mamma of pappa se gesig min of meer op dieselfde hoogte as baba s’n is, is dit vir baba makliker om tummy-time te geniet.  Maak weer eens net seker dat die baba gemaklik kan asemhaal.

Wat is die doel van tummy-time?   Die baba ervaar en leer ken die beginsels en effek van swaartekrag, asook die beheer oor en verlenging van die lyfie teen swaartekrag.  Dit versterk die spiere van die kop, nek en rug sodat baba later kan leer om te rol, te sit, te kruip en regop te staan.  Dit versterk ook die arms en gewrigte en verskaf diepdruk in die arms wat die lyfie gereed maak vir kruip en ander fyn motoriese beheer.   Visuele volging speel ook ’n rol, aangesien die baba deurentyd ook sy wêreld wil verken.  Nog ’n voordeel is dat tummy-time die afplatting van die agterkant van die skedelbeen voorkom.  Hierdie afplatting kom voor by babas wat vir lang tye in een posisie op die ruggie rus.  Laastens, vanuit die maagliggende posisie, volg baie motoriese mylpale, insluitend die van rol en opdruk om te sit.

Maniere om tummy-time aan te moedig:  Sekere tye is makliker en meer geskik om met ’n mens se baba tummy-time te doen – gewoonlik na ’n slapie of ’n doekruiling.  Baba is dan uitgerus en sien waarskynlik kans om die nodige krag en uithouvermoë vir die uitdaging in te span.  Aktiwiteite en hulpmiddels wat die oefening makliker maak, sluit in:

  • Spelmatte is gewoonlik die mees algemene stimulasiemetode en meeste huishoudings besit een. Dit is gewoonlik daarop gemik om die verskillende sintuie soos gehoor, tas en visie te stimuleer.
  • Jy kan jou eie stimulasiehoepel maak deur verskeie linte, klokkies en stukkies materiaal aan ’n hoepel vas te bind. Plaas die baba dan op die maag in die middel van die hoepel en laat baba die teksture en objekte verken.
  • Tummy-time voor ’n spieël werk ook goed. Dit help die baba ook om verskeie ander vaardighede, insluitend sosiale en emosionele vaardighede te ontwikkel. Baba oefen dan ook kommunikasievaardighede en gesigsuitdrukkings en leer dat daar terugvoer op aksies is.
  • Wegkruipertjie is ’n gunsteling by die meeste babas en speel ’n belangrike rol in hulle ontwikkeling. Dit leer babas van objekpermanensie – al sien hulle nie meer die voorwerp nie, bly dit steeds voortbestaan. In die maagliggende posisie is dit maklik om hierdie speletjie voor die spieël te speel, of byvoorbeeld om ’n speelding neer te sit en ’n lappie daaroor te gooi sodat dit verdwyn en verskyn.

Kontak my gerus met nog vrae oor tummy-time, of enige ander aspekte van vroeëkinderontwikkeling.  My praktyk is by die Stellenberg Ondersteuningsentrum en my kontaknommer is 021 976 8029.