Tiendemaandinsameling – ons moet ligdraers wees

Deur: Ds. Callie Visagie

Met vanjaar se tiendemaandinsameling het ons dit goedgedink om aan elke gesin ’n kers te gee om ons simbolies te herinner dat ons die lig in en vir die wêreld moet wees – gesamentlik as deel van die geloofsgemeenskap, maar ook as individue.

Kom ons dink daaraan dat:

  • God eerste lig geskape het.
  • God se heerlikheid die velde verlig het toe Hy in Jesus mens geword het.
  • ’n Ster die wyse manne na Jesus se geboorteplek gelei het.
  • Die Messias in die Ou Testament metafories beskryf word as “die Son van Geregtigheid”.
  • Die Here se woord vir ons die lamp wat die weg wys en die lig op ons pad is.

Kom ons oordink ook hoe ons elkeen kan leef sodat Matteus 5:14-16 in ons huise, families, vriendekring, werkomgewing en woonbuurte in Suid-Afrika sigbaar sal word.  Die teksgedeelte verg die volgende van ons: “Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik.” Tydens die onseker tyd wat ons tans in Suid-Afrika en in die res van die wêreld beleef, moet ons juis erns met hierdie opdrag maak.

Ons tiendemaandinsameling geskied in die Bybelse tradisie as simboliese offer van ’n tiende wat gelowiges skenk as teken van dankbaarheid.

Die kerse sal vanaf Sondag 4 Oktober by ons oggenddienste beskikbaar wees sodat lidmate dit kan  saamneem huis toe.  Lidmate word uitgenooi om een kers per gesin te neem.  Verder gaan ons die kerse ook binne ons tradisionele binnewyke aan huisgesinne uit deel.  Indien jy bereid is om met die uitdeel van die kerse in jou straat of onmiddellike omgewing behulpsaam te wees, kontak my asseblief.  Indien jy nie die kerkdienste in Oktober kan bywoon nie en nie in die tradisionele binnewyke woon nie, maar graag ’n kers wil hê, kan jy gerus die vrymoedigheid neem om die kerkkantoor te kontak by 021 976 4519 of navrae@stellenberg.co.za, sodat ons die nodige reëlings kan tref om dit by jou huis af te lewer.

Ons nooi elkeen om die kers soos volg te gebruik:

  • Dink by kerslig na oor die seëninge waarvoor jy God kan dank.
  • Steek die kers as teken van dankbaarheid aan – by geleenthede soos stiltetyd, familie-etes, wanneer jy nadink oor die afgelope dag of week, of wanneer jy voorbidding doen vir iemand in jou kring wat swaarkry.
  • Steek die kers aan om ’n geliefde wat nie meer met jou is nie, se lewe te gedenk.
  • Besin oor jou bydrae vir die gemeente, wat die tiendemaandinsameling betref, maar ook wat jou getuienis, tyd en talente betref.

Ons wil jou aanmoedig om vir ander familielede, of selfs kollegas en bure, ook ’n kers te skenk sodat hulle dit gedurende November, of saam met hulle Kersete, kan aansteek.  Laat ons erns maak van dié opdrag om te midde van die heersende negatiwiteit en onsekerheid wat met die Covid-19-pandemie gepaardgaan, ons lig in die wêreld te laat skyn.