Deur: Ds. Philipp Dietmann
Daar is ’n baie ou legende wat vertel van ’n profeet wat op soek was na God. Hy gaan soek God toe op ’n berg en het geduldig gewag dat God by hom verby moet kom. Skielik was daar ’n sterk wind, maar God was nie in die wind nie. Na die wind was daar ’n aardbewing, maar God was ook nie in die aardbewing nie. Na die aardbewing was daar ’n vuur. Maar selfs in die vuur was God ook nie. Na die vuur was daar ’n fluistering in die windstilte – en daar in die fluistering van die windstilte hoor die profeet toe God se stem.
Gelowiges het nog altyd geglo dat stilte die plek is waar ons God ontmoet. Stilte was nog nooit vir gelowiges net die afwesigheid van geraas nie, maar ook ’n ruimte vir ontmoeting. Ek vermoed dat die meeste mense hierdie diep behoefte aan ’n ontmoeting met God het.
Stilte, glo gelowiges, is nie net wanneer die geraas buite ons minder raak nie, maar ook as die lawaai binne ons tot bedaring kom. Sulke oomblikke is heilig. Nie omdat stil oomblikke ons wegneem uit die wêreld nie, maar ons juis dieper die lewe innooi. Stilte bied ons die geleentheid om te sien en hoor hoe dinge regtig lyk – die realiteit van die lewe in al sy weerlose mooiheid.
Saam met ander medegeloofspelgrims skep ons in Stellenberg so ’n ruimte skep waar ons kan kontak maak met God, onsself en ander mense, om saam te droom oor ’n mooier en meer betroubare wêreld. Dis ’n ruimte van asemskep, maar ook asemhaal. Daarom gee ons erkenning aan elkeen se stories deur met sagte oë na mekaar te kyk. Ons steek kerse aan, luister na ou gebede en musiek en lees ’n Bybelteks saam. Ons nooi alle medepelgrims uit om Sondagoggende by die meditatiewe diens om 09:00 in die kapel of aanlyn aan te sluit om so die geskenk van stilte te ontvang.