Deur: Ds. Schalk van Wyk
Ons is gedurig aan die etiketteer. As ons eers die etiket aan ʼn persoon of groep geheg het, hoef ons nie verder te dink of te kyk nie. Die etiket, glo ons, sê alles wat belangrik is om oor die persoon te weet. Dit is ʼn dom-glo, maar ons doen dit nogtans ewe vrolik:
- “Wat kan jy anders verwag, hy is immers ʼn Moslem!;
- “Sy is gay, so ons weet mos . . .;
- “Hy sal ʼn goeie keuse wees, hy is ʼn ware Christen.
- “God het die hele Palestina vir die Jode gegee. Die Jode is . . . “
Ja, die Jode!
As ’n mens iemand geëtiketteer het, is dit uiters moeilik om sy of haar werklike gesig raak te sien. En dan praat ons nie eens oor sy of haar hart nie – die sien ons selfs sonder ʼn etiket nie sommer raak nie! Dit is hoekom ons so maklik ingeloop word deur ʼn skurk, want ons het hom aanvanklik as ʼn ware Christen geëtiketteer. En dit is hoekom ons ander onreg aandoen deur te veroordeel sonder om die ware mens te ken.
God ken die hart van ʼn mens (Joh. 2:24-25). God laat Hom nie om die bos lei met ʼn etiket nie, selfs nie met die etiket “Jood” nie. Om die werklike gesig van iemand raak te sien, kos nogal moeite. Dis onmoontlik om die waarheid oor iemand of ’n groep te wete te kom as ons onsself ʼn rat voor die oë draai met ’n eie etiket van vooroordeel, byvoorbeeld die etiket: Jood. Selfs in Israel is daar verskillende opinies oor wie nou regtig kwalifiseer om ʼn Jood genoem te word. In Israel het die hoofrabbinaat, die hooggeregshof en die ultra-ortodokse sektes onderling onversoenbare idees oor die kwessie.
Paulus verskil radikaal van hulle almal. Hy glo dat biologiese en uiterlike godsdienstige merkers nutteloos is om te bepaal of iemand ʼn ware Jood is, of nie. Dít stippel hy duidelik en onmisverstaanbaar uit in Romeine 2:28-29 (2020-vertaling): “Want om ‘n Jood te wees, is nie iets uiterliks nie, en besnydenis is nie iets wat uiterlik aan die liggaam geskied nie; inteendeel, iemand is innerlik ‘n Jood en besnydenis is iets van die hart, geestelik, nie letterlik nie. Só iemand ontvang lof, nie van mense nie, maar van God.”
Maar hoe kan ons dan weet wat is werklik Israel en wie is die ware “Jode”?
Dit gaan ʼn bietjie nadink verg, maar is nie so moeilik nie. Byt vas, en stap saam. Of liewer, kom sit saam aan die voete van Matteus.
Matteus vertel vir ons die verhaal van Jesus op so ʼn manier dat ons ontdek: Jesus is die ware Israel. Daarom haal hy in Hosea 11:1 aan: “Toe Israel ‘n kind was, het Ek hom al liefgehad, en uit Egipte het Ek my seun geroep.”
Dit sê Matteus nadat Jesus se ouers weggevlug het van Herodus af, Egipte toe, ʼn tydjie lank met hulle nuwe baba daar vertoef en toe weer soos Israel van ouds uit Egipte na die beloofde land teruggekeer het.
- Soos die Israeliete God se eersgebore seun was (Eksodus 4:22-23), méér nog is Jesus God se geliefde Seun.
- Soos die Israeliete deur die see getrek het, het Jesus met sy doop deur die water gegaan.
- Soos Israel in die woestyn versoek is, is Jesus in die woestyn versoek.
- Maar Israel het voor die versoekings geswig en hulle het gemor oor brood. Jesus het konsekwent vir Satan nee gesê, soos “ ‘Van brood alleen sal die mens nie leef nie, maar van elke uitspraak wat uit die mond van God kom.’ ” (Mat. 4:4)
Met Jesus begin God nuut. Hy is die nuwe Israel. En almal wat in Hom is, is in die nuwe Israel – is saam met Hom die nuwe Israel! Deur die geloof in Christus is ons nou die nageslag van Abraham, Kyk hoe duidelik sê Paulus dit in Galasiërs 3 vers 29: “En as julle aan Christus behoort, dan is julle die nageslag van Abraham en, ooreenkomstig die belofte, erfgename.”
Wat erf diegene wat aan Christus behoort? Die beloftes wat God aan Abraham gemaak het. Dit sluit in, die land. God het nie die ou Israel verstoot nie (Rom. 11:1). Hy sal soos die verlore seun se pa (Lukas 15:11-32) Israel met oop arms verwelkom as hulle terugkom na “die plaas en die vaderhuis”. Maar dan moet hulle terugkeer! Hulle moet deel word van die ware Israel: Christus! God se beloftes vir die Jode geld steeds. Maar hulle word alleen in Christus vervul. As hulle die beloftes wil erf, moet hulle na Christus toe kom.
Intussen is die belofte van die land wat geërf word, nog ryker en groter gemaak. Dit het nou opgehou om Palestina te wees. Dit het nou die aarde geword. Maar niemand beërwe die aarde as hy dit met mag en geweld probeer gryp nie, Mat. 5:5: “Gelukkig is die sagmoediges, want hulle sal die aarde erf.” Dit is diegene wat by Jesus gaan leer het, want Hy het gesê (Mat.11 vers 29: “. . . leer van My, omdat Ek sagmoedig en nederig van hart is . . .”
Die nasie wat hulleself Israel noem (Maar wat nie die Israel van God is nie – lees maar Galasiërs 6:16. Daar is ʼn Israel van God, maar dit is ʼn Israel van vrede in Christus) het die koning van die Jode verwerp. Steeds verstaan hulle nie dat Hy beveel het dat jy jou vyand moet liefhê sodat jy ʼn kind van jou Vader in die hemele kan wees nie (Mat. 5:43-44).
Volgende keer ietsie meer oor selfverdediging en wraak.
| Ds. Schalk van Wyk is ’n emeritus leraar en voorheen van die NG kerk Kleinmond. Hy woon tans in Edelweiss.