Stellenberg reik uit oor alle grense

Deur: Ds. Marius Schoombie

Jaarliks, tydens die Junie-Julie-skoolvakansie word Stellenberg-gemeente se visie – reik uit oor alle grense heen – op ’n tasbare manier uitgeleef wanneer ons na drie gemeenskappe in die Karoo uitreik. Oor die jare heen was Stellenberg-gemeente by die opbou van verskillende Karoo-gemeenskappe, in onder andere Prins Albert, Calitzdorp, Beaufort-Wes, Leeu-Gamka, Vosburg en Koue Bokkeveld, betrokke.  Vanjaar beoog ons om na Beaufort-Wes, Calitzdorp en Leeu-Gamka uit te reik.

Hoekom uitreik?

Genesis 12:2: “Ek sal jou ’n groot nasie maak, Ek sal jou seën en jou ’n man van groot betekenis maak, en jy moet tot ’n seën wees.”

Heel aan die begin van die Bybel, in Genesis, sien ons dat God kies om saam met mense ’n pad te stap. God kies om in en deur ’n vennootskap met mense, herstel te bring aan ’n stukkende wêreld. God seën vir Abraham, om tot seën van andere te wees. In Stellenberg-gemeente is ons diep bewus daarvan dat die Here ons gemeente ryklik seën en dat ons daarom tot seën vir ander moet wees. Die uitreike bied juis vir ons ’n geleentheid om op  tasbare wyse tot seën van ander te wees.

’n Bietjie later in die verhaal van Abraham, in Genesis 18, sien ons hoe Abraham sy hart oopmaak vir drie vreemdelinge. Abraham betoon gasvryheid teenoor hierdie vreemdelinge, berei ’n ete voor en nooi hulle om saam met hom te eet. In hierdie verhaal word dit stelselmatig duidelik dat Abraham deur hierdie vreemdelinge ’n ontmoeting met God ervaar en dat hy veel meer ontvang as wat hy vir die vreemdelinge kon bied.

Daar is ’n menigte soortgelyke verhale waar mense ’n ontmoeting met God beleef wanneer hulle hul harte vir “vreemdelinge” oopmaak en dan veel meer ontvang as wat hulle gegee het. As ’n mens luister na stories van uitreikers van vorige uitreike, dan word dit duidelik dat die uitreikspanne dikwels ook veel meer ontvang as wat hulle gee en dat hulle dikwels tydens die uitreike vir God op onverwagse plekke en saam met onbekende mense, ontmoet. Jesus herinner ons ook meer as een maal daaraan: “Maar baie wat eerste is, sal laaste wees,  en wat laaste is, eerste.” (vgl. Markus 10:31).

Daarom gaan ons nie op die uitreike met die vooronderstelling dat ons al die antwoorde het nie, maar eerder met ’n ontvanklike gemoed om God in en saam met ander te ontmoet. Op die uitreike maak ons vriende en bou verhoudings met mense uit ander agtergronde, kulture en gemeenskappe en bedien ons mekaar met die gawes wat die Here ons gegee het om sy koninkryk sigbaar te maak.

Die uitreike bied ’n waardevolle geleentheid vir groei in jou eie geloof en om terselfdertyd saam met ander te bou aan die koninkryk van God in Suid-Afrika.

Vir wie is die uitreike?

Stellenberg-gemeente is bevoorreg dat ons tieners ’n sterk passie het om ’n verskil in die wêreld om hulle te maak. Dit is ook ’n belangrike deel van die tieners se geloofsformasiereis –  om ’n geleentheid te ontvang om ander met hul gawes te dien. Daarom word ons tieners in besonder uitgenooi om deel te word van ons uitreikspanne.

Dit beteken egter nie dat ons uitreikspanne net uit tieners bestaan nie – volwassenes speel ’n kardinale rol in die uitreike. Studente, ouers en ander volwassenes is baie welkom om in te skryf en deel te vorm van die uitreikspanne!

Die uitreikprogram is ook divers en fokus op verskillende areas in die gemeenskappe waar ons betrokke is, en die aanbieding wissel van kinder- en tienerprogramme en leierskapsontwikkeling tot musiekbediening, verf en kosmaak. Daar is ook ’n groot span mense agter die skerms wat die uitreike ondersteun. Dit beteken dat, ongeag wat jou gawe is, daar sal ’n plek vir jou in die span, wees.

Hoe kan ek betrokke raak?

Daar is verskeie maniere om ons uitreikprojekte te ondersteun:

1.      Skryf in vir ’n uitreik

Om in te skryf vir ’n uitreik en deel te word van ’n uitreikspan, besoek ons webwerf of klik HIER.

2.      Skenkings

Ondersteun ons uitreike deur enige van die volgende te skenk:

  • Borg ’n uitreiker
  • Algemene finansiële bydraes
  • Droësopmengselbottels
  • Skenk bruikbare bordspeletjies en legkaarte
  • Skenk ’n bruikbare Bybel
  • Sanitêre doekies

3.      Raak deel van die breigroep

Die breigroep brei jaarliks ’n groot hoeveelheid serpe en musse wat tydens uitreike aan minderbevoorregte kinders en bejaardes uitgedeel word.  So help ons om die winter so ’n klein bietjie warmer te maak, hoop te bring en te wys dat daar mense van vêr is wat omgee.

4.      Ondersteun die Annibrand-klerereeks

Die Annibrand-kommunikasiespan het ’n klerereeks (hemde, hoodies, musse, keppe, babaklere, ens.) ontwerp. Met die klerereeks ondersteun ons plaaslike besighede, samel fondse vir die uitreike in en verkondig terselfdertyd ’n boodskap van hoop in die wêreld wanneer ons die klere dra. Die klere word op bestelling vervaardig. Bestellings kan tot en met 21 Mei geplaas word, waarna die vervaardiging sal begin sodat die bestellings afgehandel kan wees voor ons eerste uitreikspanne vertrek.

Ondersteun die projek deur ons webwerf te besoek, of klik HIER om jou aanlyn bestelling te plaas.

5.      Ondersteun Kweek-vir-die-Here-span

Die Kweek-vir-die-Here-span kweek plante wat tydens die feesmark en basaar verkoop word om geld in te samel ter ondersteuning van tieners wat graag aan die uitreike wil deelneem, maar nie die inskrywingsgeld kan bekostig nie.

6. Ondersteun die Kinderbedieningprojek

Die Annibrand Junior-groep se projek, Pajamas vir Karoopikkies, samel geld in om warm nagklere vir die peuters en kleuters van twee bewaarskole in Leeu-Gamka aan te koop.

Ondersteun die projek deur op Sondag 11 Junie die Annibrand Junior-groep se Karookafee in die markplein te ondersteun.  Alle geld wat by die Karookafee ingesamel word, sal vir die pajamaprojek aangewend word.

Indien jy graag by ’n projek betrokke wil raak, of vir alle navrae, kontak gerus die kerkkantoor of vir ds. Marius Schoombie by schoombie@stellenberg.co.za/083 635 1523.

Ons kan elkeen op eiesoortige wyse aan die mense van die land se omstandighede ’n verskil maak.  Wees jy die verskil!