Foto links: Desember 1989 – kospakkers besig om pakkies vir 13 gesinne, wat deur die projek ondersteun is, te verpak. Danksy 'n lywige skenking aan die kosprojek, wat boonop 'n halwe skaap aan elkeen van die 13 gesinne ingesluit het, moes dit ’n dankbare Kersgeskenk vir die ontvangers gewees het. Foto middel en regs: Kospakkies word deur die jare heen aan die einde van die maand verpak en versend. Deesdae verkies baie lidmate om kontantbydraes tot die projek te maak, waarmee kosprodukte dan aangekoop word.
Die Stellenberg-kosprojek het in April 1987 amptelik weggespring, volgens verslaggewing deur die Stellenberger. Volgens die beriggewing was die eerste kosinsameling so oorweldigend positief dat die gemeente vir die eertydse Christelike Maatskaplike Raad (nou BADISA), asook vir die gemeente in Ruyterwacht, van voedsel kon voorsien. Tans word kospakkies aan 18 gesinne gelewer en hulp in die vorm van daaglikse toebroodjies, word ook aan ’n sopkombuis en ’n speelskooltjie in Elsiesrivier verskaf. Die kospakkies word elke laaste Woensdag van die maand deur ongeveer 20 vrywilligers verpak. Sommiges is reeds langer as 20 jaar by die projek betrokke.
Vir die afgelope 32 jaar al is hierdie ongelooflike projek deel van Stellenberg-gemeente se hartklop.