Stellenberg-gemeente se betrokkenheid by Boesmansending in Namibië

 

Deur: Low Bothma

Stellenberg-gemeente is reeds die afgelope sowat 31 jaar by Boesmansending in die noordooste van Namibië betrokke. Dit het begin toe ds. Willem Malherbe en sy vrou, Hildegarde, in 1991 die jaarlikse Boemansendingkonferensie (soos dit destyds bekend gestaan het) bygewoon het. Die gevolg daarvan was dat Stellenberg-gemeente die werksaamhede van ds. Jaco Rossouw van Luhebu-Noord-gemeente, met Mangettiduin as basis, begin ondersteun het. Alhoewel die bedieningsarea van hierdie gemeente ’n enorme 7 500 km² beslaan, is daar minder as 300 belydende lidmate in die gebied woonagtig!

Mangettiduin is sowat 210 km noordoos van Grootfontein geleë en vorm deel van die gebied wat in die volksmond as Boesmanland bekend staan. Die standplaas van die ander Boesmangemeente in hierdie streek is op Tsumkwe, die administratiewe setel van die gebied. Verdere Boesmangemeentes in die noordooste van Namibië is Wildevy-gemeente, wat bestaan uit Boesmans op plase in die gebied tussen Grootfontein, Tsintsabis, Tsumeb en Otavi, asook die gemeente te Bagani in die weste van die Zambesia-streek (voorheen bekend as die Caprivi).

Die Boesmanbevolking in hierdie bedieningsgebied bestaan uit verskillende groeperinge wat ’n verskeidenheid van dialekte praat. Talle van hulle het tydens die destydse bosoorlog vanuit die suide van Angola na Namibië uitgewyk. ’n Verdere interessantheid is dat die inwoners van Boesmanland weier om as San-mense bekend te staan omrede die woord San in sommige van hul dialekte ’n slegte betekenis het. Hul dring gevolglik daarop aan om Boesmans genoem te word.

Nadat ds. Jaco Rossouw ’n beroep na Omaruru aanvaar het, is ds. Herman Oosthuizen en sy vrou, Elna, as predikantspaar van Luhebu-Noord-gemeente bevestig. Gedurende hul dienstermyn het talle nuwe projekte die lig gesien. Een hiervan was verskeie kleuterskooltjies wat hul deur middel van hoofsaaklik buitelandse skenkings tot stand gebring het. Elna, ’n opgeleide kleuterskoolonderwyseres, het Boesmanonderwysers en -onderwyseresse geïdentifiseer en opgelei en saam met hulle volledige lesplanne uitgewerk. Dit het ’n nuwe era vir dié kinders ingelui en hulle in staat gestel om baie beter aan te pas wanneer hulle met amptelike skoolopleiding begin. Vandag is daar sowat 17 kleuterskole dwarsdeur die totale bedieningsgebied gevestig.

’n Jaar of twee voordat die Oosthuizens sou aftree, het die rolspelers betrokke by Boesmansending toenemend besef die volhoubaarheid van die geestelike bearbeiding van die Boesmans hang ten nouste saam met die verinheemsing van die bediening. Dit het gelei tot die stigting van DEGNOS (Diens en Getuienis Noord-Oostelike Streek) en die vestiging van ’n teologiese opleidingsentrum in Grootfontein, met ds. Hendrik van Zyl (op daardie stadium predikant van Tsumkwe-gemeente) as bestuurder. ’n Teologiese kursus, wat by Universiteit van Pretoria geakkrediteer is, is saamgestel, en is daar met die opleiding van inheemse geestelike leiers (meestal dienende ouderlinge) begin. Die eerste Boesman-proponente is in 2013, na die suksesvolle voltooiing van ’n vyf-jaar-kursus, gelegitimeer. Dit was ’n geskiedkundige mylpaal wat getuig het van groot genade, baie deursettingsvermoë en reuseopofferings van beide dosente en studente. Die proponente is hierna deur hul onderskeie gemeentes (in veel kleiner areas as met die ou bedeling) beroep en as standplaasleraars, met beperkte verantwoordelikhede, bevestig. Dié predikante ontvang karige salarisse van hul onderskeie gemeentes en maak daarom hoofsaaklik van donkiekarre as vervoermiddel gebruik om gemeentelede te besoek.

In 2015 is die eerste Boesman-predikant tot die DEGNOS-beheerraad verkies. Oorweging word ook daaraan geskenk om in die afsienbare toekoms die eerste Boesman-predikant as lektor by die Teologiese Opleidingsentrum in Grootfontein aan te stel. Na die afsterwe van Hendrik van Zyl in 2020 is Andries Gous aangestel as bestuurder van die DEGNOS-kantoor.

Boesmansending in Namibië beleef inderdaad opwindende tye! Dit is vir Stellenberg-gemeente ’n besondere voorreg om al die afgelope sowat 31 jaar hoofsaaklik by wyse van finansiële ondersteuning deel te kan hê aan hierdie wonderlike bediening.

Aan God al die eer!