Op 13 November 1986 word die Edelweiss-dienssentrum en wooneenhede van die ACVV amptelik geopen.
Op die foto is mnr. Gene Louw, die administrateur van die destydse Kaapprovinsie en mev. Hanna Pienaar, voorsitter van die bestuurskomitee.
In 1986 is die volgende menings oor vroue in die amp as diaken en ouderling in die gemeentekoerant geopper:
Stellenberg-gemeente se eerste kerkraad.
” ’n Diakones is nog goed, maar ‘n ouderling of predikant moet ‘n man wees. Net soos in die huisgesin moet die man die leiersfiguur wees,” reken die vrou van ’n dienende diaken. ’n Dienende ouderling druk sy swart baadjiepant oop en vra dringend: “Bring tog ’n bietjie kleur in! Ag die vrouens moet tog nie swart en wit dra nie,” is sy versoek, in die hoop dat mans dan ook meer kleurvol kan begin aantrek. Verder sê hy: “Liewer in ywerige vrou in die amp, as ’n man wat nie geesdrif vir sy werk het nie.” ’n Ander diaken se mening is soos volg: “Ja, vir al die ampte vir vroue, maar dan moet dit volgens die vroulike aard en funksie wees, met ander woorde dit moet diens behels by bediening waar meestal meisies, vrou en bejaardes betrokke is.
In ’n opvolgartikel is die kommer ook uitgespreek dat indien vroue tot die kerk se ampte begin toetree, mans sal onttrek en hulle plig teenoor die gemeente versaak.
[’ n Mens is vandag opreg dankbaar en verlig dat lidmate en leiers wel mettertyd vernuwend begin dink het. Red.]
Die briewekolom van 1989 – ’n ma se frustrasies verander ook net nooit nie
In 1989 rig ’n anonieme lidmaat ‘n brief aan Stellenberger se briewekolom. Dr. Elsa de Leeuw, huweliks- en gesinsberader, het lidmate met leiding en advies bedien rakende die verskillende dilemmas wat hulle beleef het. Te oordeel na die betrokke briefie wat mev. G geskryf het, het ma’s se uitdagings en probleme sedertdien, veral nou tydens die koronavirus-pandemie, baie min verander. Mev. G skryf dat sy drie kinders het, almal nog op laerskool. Haar wederhelf, ’n sakeman, is dikwels uitstedig. Hierbenewens is hy volgens haar ook selde by die huishouding betrokke.
“Ek kook, maak huis skoon, was, stryk en namiddae ry ek die kinders vir sportbedrywighede rond. Dit voel vir my of niemand dit raaksien nie. Meer nog: ek weet nie meer wie ek is nie en sukkel om myself in verhoudings te handhaaf. Ek voel ook sleg wanneer ek ’n emosionele uitbarsting het, maar selfs daaraan steur die huismense hulle nie eers meer nie. Help, asseblief!”
Dr. Elsa de Leeuw se raad aan haar was om haar werklike gevoelens met haar man en gesin te deel. Verder moet sy haar denke verander en besef dat sy nie almal se spreekwoordelike slaaf hoef te wees nie en laaste maar nie die minste nie – sy moet daagliks tyd vir haarself inruim en in daardie tydjie iets doen was sy werklik geniet.
[Goeie raad wat steeds in 2021 relevant is. Red.]
Fondsinsamelings en basaars is sinoniem met die meeste gemeentes
Stellenberg-gemeente het oor die afgelope 50 jaar nie ‘n tekort aan fondsinsamelingsgeleenthede en basaars gehad nie. Van staalstoele wat teen R12 elk deur ds. Visser verkoop is, tot die opbrengs van die orrelfonds en enige fees denkbaar, is aangewend om die kerkgeboue staande te kry. Maar bowenal was die strewe om Jesus se hande en voete hier op aarde te wees.
In 1973 het die orrelfonds ’n hulpstoot ontvang met ’n insameling van R500 wat verkry is deur die aanbieding van ’n deftige ete. Die dames op die foto was vir die fondsinsameling verantwoordelik.
[Is die uitrustings nie pragtig nie? Red.]
Basaar 1975
‘n Speenvarkie is tydens dié basaar opgeveil en het die opbrengs ‘n stewige hupstoot gegee. Die basaar kon uiteindelik met ‘n opbrengs van R4 600 spog.
Dankfees in 1989
In Maart 1989 samel die dankfees ‘n rekordbedrag van R49 000 in. Die verslaggewer meld dat bo en behalwe die groot bedrag wat ingevorder is, bly die grootste wins egter die vriendskapsbande wat tydens die weke lange se saamwerk tussen gemeentevroue gesmee is. Die flukse lede van die vrouediens het 400 hoenderpasteie, 400 worsrolletjies en 140 melkterte vir die dankfees gebak.
In 1991 haal die basaar se opbrengs die R50 000 kerf en organiseerders is veral dankbaar dat die dreigende reën nie geval het nie. In 1996 word die basaar met ‘n wins van R70 000 beloon. Die fondse word vir die jeug-, sending- en barmhartigheidsbediening aangewend.
In 2001 word die basaar met ‘n gholfdag gekombineer en die twee lewer onderskeidelik ‘n opbrengs van R120 000 en R6 000. Die jaar se fondsinsamelings is met ‘n wynveiling afgesluit.
By 1994 se basaar word die tande behoorlik ingelê.
Ds. Charlie Holtzkamp las hoog bo die grond met kaal tande en hande die elektriese klankdrade om seker te maak almal kan die basaarafkondigings hoor.
In 2011 was Pastor’s Pizzas die hoogtepunt
Die leraarspan het ’n blitsverkoper Pastor’s Pizzas, by 2011 se basaar bekend gestel. Soos te siene op die foto regs bo, was die basaar, soos altyd, ’n miernes van aktiwiteite. Op die foto links bo, bemark di. Callie Visagie en Why Duvenhage die pizzas en Karin Barter gee hand met ’n knippie sout. Die lekker pizzas was vinnig uitverkoop en saam met die pizzas is 180 kg aartappels tot aartappelskyfies verwerk en 1 800 pannekoeke, 570 hamburgers en 420 skaapkerrie-etes ook boonop verkoop.
’n Potjiekoskompetisie in 2014
In 2014 word ‘n potjiekoskompetisie as deel van die basaar se werksaamhede ingespan en spanne word vir hulle kos en ook aanbieding beoordeel. Dit het vir ‘n lekker atmosfeer gesorg, vertel die destydse basaarorganiseerder, Adri du Randt. Die basaar het daardie jaar R98 229 opgelewer.
Wat het lidmate te sê gehad oor 1994?
Joan van der Poel, steeds ’n aktiewe lidmaat van Stellenberg, deel haar emosies rakende 1994 soos volg in die gemeentekoerant:
1994 voel vir my onseker. Nogtans het ek besluit om die jaar met ’n positiewe gesindheid aan te pak, gebaseer op die gebed van ‘n Wes-Afrikaanse man wat ek in Januarie gelees het.
“Ek gooi my vreugde soos voëls in die lug op, Here! omdat ’n nuwe dag knetterblink, dawer en knetter van u liefde.
Here, goeie God, U maak elke dag.”
Nic en Toelie Rousseau, senior lidmate, sê die volgende:
Gedurende die Kersgety het ons weer opnuut bewus geword van die vrede, vreugde en vriendskap wat ons vind in die sekerheid dat Jesus, ons Verlosser, leef. Ons besef dat 1994 ’n moeilike jaar gaan wees, maar oor baie jare heen het ons geleer en ervaar wie in alle omstandighede in beheer is. Op Hom, ons Hemelse Vader, kan ons vertrou.
Anelde Greeff, ’n graad 10-leerder, som haar verwagtinge soos volg op:
Vir ons familie het Kersfees baie beteken. Nadat ons die jaar ‘n verlies gely het, het dit gevoel asof ons deur die Kersvreugde weer saamgebind is en van God se liefde verseker is. 1993 was nog so stormagtig en toe begin 1994 sommer. Daarom weet ek nie wat om van die jaar te verwag nie. Tog weet ek dat ons as Christene moet saamstaan indien ons vanjaar vrede in ons land wil hê.
Feesmarkte gaan van krag tot krag
Die Kersfeesmallemeule op die foto, was ’n blitsverkoper op die eerste Feesmark wat in 1995 aangebied is. Op die foto bewonder Lourene Gerber die interessante skepping.
Die feesmark is ‘n jaarlikse instelling in die gemeente en het werklik met baie genade en deur harde werk jaarliks groter en beter geraak. In 2003 word verslag gedoen dat die grootste feesmark tot nog toe daardie jaar aangebied is. ‘n Rekordgetal van 440 aansoeke is van voornemende uitstallers ontvang. Uiteindelik is 156 uitstallers gekies en 450 dienswerkers, wat lidmate van die gemeente was, het gehelp dat sake by die mark vlot verloop.
In 2005 ontvang die feesmarkkomitee 660 aansoeke van voornemende uistallers, waarvan slegs 155 uitstallers gekeur kon word. Dit raak toe baie duidelik dat die feesmark vir baie uitstallers ‘n lewensaar geword het. ’n Uitstaller wat popklere gemaak het, Hurita Visser, het in 2005 reeds gesê: “Ek lewe vir die feesmark. Dit is elke jaar my enigste bron van inkomste.” Die feesmark het daardie jaar op weeksdae gemiddeld 3 000 besoekers ontvang en oor naweke 5 000. Tente is op daardie stadium nog nie addisioneel tot die mark se uitstaloppervlak gevoeg nie.
In 2006 vertel Malita Joubert, wat toe die spyseniering van die restaurant vir die tweede jaar behartig het, dat sy ‘n allemintige 1,2 ton afval voorberei en verkoop het. Saam met dit is 464 koeke en 8 000 pannekoeke verkoop.
In 2007 verkoop Daan en Annelize van der Merwe twee ton beskuit tydens die feesmark. Annelize het met die bakkery begin toe die egpaar nog in Ceres met sagtevrugte geboer het. Nadat hulle die plaas verkoop het, het hulle sommer albei by die bakkery betrokke geraak. Daan het vertel dat toe hulle die eerste jaar by die feesmark uitgestal het, hulle nie geweet het wat om te verwag nie. Hulle het letterlik dag en nag gebak en hy het soveel ure op sy voete deurgebring dat die been in sy voet dwarsdeur sy hak begin steek het.
[Ons sê mos – jare se baie harde werk. Red.]