Sondagviering in Stellenberg

Jesus het waarlik uit die dood opgestaan

Deur: ds. Marius Breytenbach

Die Here het opgestaan . . . die Here het waarlik opgestaan! Met hierdie woorde het die eerste gelowiges mekaar op die Sondag, die dag van Christus se opstanding, ontmoet. Meer as twee duisend jaar later is dit nog steeds die kern van ons gemeentebediening, met ’n verskeidenheid mense wat die verskillende geleenthede wat Stellenberg-gemeente aanbied, bywoon.

Omdat die gemeente groot en spasie beperk is, bly dit vir ons belangrik om alles wat op ’n Sondag op die kerkterrein gebeur, goed te integreer. Daarom begin al ons oggenddienste dwarsdeur die jaar om 09:00.  Na die eredienste het kerkgangers  geleentheid om in die teetuin en kafeteria (markplein) verder te kuier. Saans om 18:00 word die jeugdiens in die kerk aangebied met kleingroepe vir tieners wat daaruit voortvloei en om 19:00 word ’n aanddiens in die kapel gehou.

Op Sondae gebeur daar heelwat meer as dat ons net lidmate nooi om ’n terrein te besoek. Vandaar die oorsprong van die term “Sondagviering”.  Die volgende elemente van ons Sondagviering en meer spesifiek ons eredienste, is vir ons belangrik:

  •        Het jy tydens die erediens geleentheid gehad om nader aan God te kom?
  •        Sou dié ervaring jou vandag nader aan ander mense bring?
  •        Het die erediens of  gesprekke met ander mense jou geïnspireer om voortdurend te vernuwe?
  •        Voel jy sodanig aangespreek dat jy deur jou lewe ’n verskil in die lewens van ander sal wil maak?

Ons beleef God op verskillende maniere: rasioneel, analities, misties, konkreet, emosioneel en intuïtief. Die verskille, of verskillende spiritualiteite, kan baie maklik in ’n groot gemeente soos Stellenberg tot spanning en fragmentasie lei. Daarom is ons versigting om nie net by een vorm van spiritualiteit, of ekstreme vorms daarvan, vas te haak nie. Ons probeer om binne elke erediens geleenthede te skep waartydens gelowiges begelei word om na te dink, hulle te verwonder en om te wil doen. So word die opstanding van Christus vir ons waaragtig, sodat ons spontaan kan bely: Die Here het werklik opgestaan!

Ons is baie bevoorreg dat ons fasiliteite het wat vir verskillende vorme van eredienste en geleenthede aangewend kan word. Om verskillende spiritualiteite te akkommodeer het dit nodig geraak dat veral die kerkgebou vir veeldoelige behoeftes ingerig word en dat daar veral by die verhoogarea aanpassings gemaak word. Deur die jare is meer instrumente tot die samesang bygevoeg en die opgradering van die klanksisteem het ekstra drade en luidsprekers meegebring, wat die verhoog onnet laat vertoon. Met die goedkeuring van die kerkraad gaan die erediensbediening in die volgende paar maande aan die volgende aandag gee:  Die bestaande kansel (wat moeilik verskuif) gaan met ’n ligter en meer praktiese kansel vervang word. Die  liturgiese ruimte (verhoogarea) met instrumente,  klanktoerusting en kabels gaan netjies gemaak word en ’n neutrale bergingsarea vir toerusting sal geïnstalleer word. Die skerms waarop liedere se woorde en beeldmateriaal vertoon word, sal vergroot word.

Ons wil graag elke lidmaat tuis en welkom by ons Sondagvieringe laat voel en ook elke lokaal wat vir eredienste gebruik word, sodanig inrig dat dit ’n ruimte bied waar verskillende generasies ’n ontmoeting met God kan beleef.