So lyk die geldsake

Deur: Ds. Callie Visagie

Dit raak nou ’n afgesaagde deuntjie om na die finansiële uitdagings wat die Covid-19-pandemie veroorsaak, te verwys.  Die media word daagliks oorlaai met artikels wat die katastrofiese gevolge wat die huidige gesondheidskrisis vir die land se ekonomie inhou, verkondig.  Die slegte nuus is ongelukkig dat die pandemie se gevolglike invloed op die hele kerkgemeenskap en ook ons eie gemeente, groot is.

Die kerkraad het in April 2020 proaktief opgetree, juis omdat voorsien is dat die invloed van dié krisis op die kerk ingrypend gaan wees.  In die lig daarvan is aanpassings aan die begroting gemaak.  ’n Aangepaste begroting is in April opgestel en aanvaar.  Die kerkraad het ook onderneem om die situasie te monitor en aanpassings met verloop van tyd te maak.

Kortliks is die volgende aanpassings gemaak:

Die geprojekteerde inkomste is van R 10 005 000 tot R6 390 726 aangepas.  Dit het hoofsaaklik die volgende behels:

  • Aanpassing van die feesmark se begrote inkomste van R2,25 miljoen na R45 000. Daar is voorsien dat slegs ’n aanlyn mark aangebied sou mag word.
  • Vir maandelikse dankoffers is dieselfde bedrag begroot (R5 025 000), maar vir  bankkollektes is slegs 30% begroot (R385 000), aangesien lidmate nie meer kerkdienste kon bywoon nie.
  • Tiendemaandinsameling: Die begrote R1 550 000 is na R930 000 aangepas.

Aan die uitgawe-kant van die begroting is die volgende gedoen:

  • Al die kommissies se uitgawes is drasties ingekort en fondse is hoofsaaklik net vir hulp aan noodbehoewende persone (getuieniskommissie) toegeken.  Die gemeente se verantwoordelikhede t.o.v. personeel, munisipale dienste en die aanbieding van eredienste is steeds nagekom.
  • Die gemeente se salarisrekening is aangepas deur predikante en amptenare se vergoeding te herstruktureer.  Geen salarisverhogings is vir 2020 toegestaan nie, alle personeel se salarisse is met 20% besnoei en geen jaarlikse bonusse is betaal nie. Predikante se reistoelaes is ook met ’n derde verminder.

Ons is baie dankbaar vir die wyse waarop ’n groot groep lidmate deur hulle volgehoue ondersteuning bygedra het om die gemeente se finansiële verpligtinge na te kom en ons sodoende in staat kon stel om die gemeente se spreekwoordelike wiele aan die rol te hou. Ons is bykans aan die einde van die boekjaar (Februarie 2021) en die huidige stand van ons finansiële situasie is soos volg:

  • Maandelikse dankoffers en bankkollektes: Hierdie twee items word saam bereken, omdat dit problematies is om te bepaal waarvoor elektroniese inbetaling toegesê moet word. Die gesamentlike begrote bedrag is R5 410 000. Tans staan die inkomste op R5 452 600.  Dit is reeds R42 600 meer as die begrote bedrag.  Ons loof die Here regtig vir lidmate se offervaardigheid.
  • Tiendemaandinsameling: Ons verwagtinge is werklik oortref en teen die agtergrond van die aangepaste begroting van R930 000 staan ons tans op             R1 208 320 (m.a.w. R278 320 bo dit wat begroot is).
  • Feesmark: Uiteindelik is daar verlede jaar in ooreenstemming met Covid-19-regulasies ’n aangepaste opskietmark gehou. Die inkomste het uiteindelik op R690 226 te staan gekom – R645 226 meer as die begrote bedrag.

Teen die agtergrond van die konserwatiewe wyse waarop die kerkraad en die fondsebediening verlede jaar aangepak het, is ons dankbaar vir die positiewe balans wat bykans elke hoofbron van inkomste nou toon. Dit het onder meer beteken dat die kerkraad teen die einde van 2020 die volgende aanpassings kon maak:

  • Terreinwerkers se salarisse is vanaf September ten volle volgens 2019 se salarisskale uitbetaal.
  • Predikante en kantoorpersoneel is vanaf einde November teen 90% van 2019 se salarisskale vergoed.
  • 66,67% van jaarlikse bonusse is aan alle personeel betaal.

Teen die einde van die boekjaar sal die kerkraad weer in samewerking met die fondsebediening (onder voorsitterskap van Danie Claassen) die verantwoordelike fondsebestuur van die gemeente onder die loep neem.  Die gemeente se huidige finansiële situasie sal weer in oënskou geneem word en aanpassings sal waar nodig gemaak word en daar sal weer met groot verantwoordelikheid, versigtigheid en afhanklikheid vir ’n onsekere 2021/22 boekjaar begroot word.