Deur: Ds. Callie Visagie
Die kwessie van die feesmark
Die feesmark was die afgelope 26 jaar ’n belangrike gebeurtenis en hoogtepunt op die gemeentelike kalender. Dit het nie net as saamweesgeleentheid gedien en ons gemeente se beeld na buite vertoon nie, maar ook ’n belangrike bron van inkomste vir die gemeente. Dié inkomstebron (R2,25m van totale begrote inkomste van R10 miljoen = 22,5%) het dit die afgelope jare vir die gemeente moontlik gemaak om ’n derde van ons inkomste aan verskeie projekte toe te wys. Ons het deurgaans besef dat ons nie te afhanklik van hierdie inkomstebron moet raak nie – en nou is dit ’n werklikheid.
Die kerkraad het in oorleg met die fondsebediening ’n aangepaste begroting vir die boekjaar aanvaar. Die personeel se vergoeding is met 20% verminder en ons aansoek by die TERS- en werkloosheidsverseringsfonds het dit moontlik gemaak dat ons eenmalig 90% van ons personeel se vergoeding kon uitbetaal. Alle ander uitgawes is ook drasties gesny.
Die moonlikheid van ’n kleiner of aanlyn feesmark
Om verskeie redes is daar besluit om nie ’n kleiner, afgeskaalde mark aan te bied nie. ’n Afgeskaalde wintervrouemark is voorheen aangepak en het min aanhang geniet. Ons is besorg oor die feit dat ’n afgeskaalde mark (indien dit toelaatbaar sou wees) afbreuk aan die gevestigde beeld van die huidige feesmark sal doen. Daar is veral ernstig besin oor ’n aanlyn mark. Na konsultasie met verskeie kundiges, asook met van ons uitstallers, het ons daarteen besluit omdat ons nie seker is dit gaan uiteindelik finansieel sin maak nie.
Gemeente-inkomste deur bydraes
Ons is baie dankbaar vir die wyse waarop lidmate in hierdie onseker finansiële omstandighede steeds die gemeente se werksaamhede finansieel ondersteun. Daar is selfs pensioenarisse wat ons meegedeel het dat hulle hul dankoffers verhoog het, juis omdat hulle van ander lidmate se verliese van inkomste bewus geword het en besef dat dié lidmate eenvoudig nie hulle bydraes aan die gemeente sal kan volhou nie.
Die teendeel is ongelukkig ook dat ’n persepsie by sommige mense ontstaan het dat Stellenberg-gemeente, veral na aanleiding van die feesmarkinkomste, oor heeltemal voldoende fondse beskik, en daarom hul bydraes na ander instansies begin kanaliseer het. Ons is dus in die besonder dankbaar teenoor elke lidmaat wat wel die gemeente se werksaamhede na BINNE (vergoeding van amptenare en plaaslike projekte) en BUITE (voedselprojekte, uitreike en die versorging van medewerkers) ondersteun.
Die patroon van die gemeente se twee belangrikste inkomstebronne, naamlik dankoffers en bankkollektes, word hieronder in die grafieke uiteengesit. ’n Verstaanbare neiging is dat bankkollektes nou as maandelikse dankoffer gegee word. Bankkollekte word as ’n item op die begroting behou omdat daar aanvanklik so vir die jaar begroot is.
Die maandelikse begrote bedrag vir bankkollektes is R95 00 en vir dankoffers R456 000 (grys lyn op die grafieke). Tydens die inperking toon ons dankoffers maandeliks ’n styging van R50 000 bo die begroting terwyl bankkollektes tussen R30 000 en R40 000 onder die begroting daal.