Deur: Sanèl Joubert
Met die intrap in 2021 is ons met ’n verbod op die genieting van strande, asook alle alkoholiese drankies en ’n allemintige vroeë aandklokreël begroet. Die Covid-19-pandemie het ’n hele klompie landsburgers se langverwagte seevakansies en oujaarsvieringe in die wiele gery en die vreugdevure vir die nuwe jaar het toe al laag gebrand.
In Maartmaand tref ’n aardskuddende skok ons kerkgemeenskap toe ons ’n geliefde lidmaat en oudpredikantsvrou moes groet – onverwags, skrikwekkend en so sinneloos.
Die derde vlaag van die Covid-19-pandemie slaan in Juniemaand toe en die Delta-variant breek soos ’n tsoenami-vloedgolf oor ons. Ons neem afskeid van geliefde lidmate op afsydige of aanlyn gedenkdienste, omdat persoonlike kontak beperk moet word. ’n Gewillige helper by die basaartafel, ’n getroue kerkganger, ’n geliefde pa, ’n lid van ’n Bybelstudiegroep, oudgemeentekinders, nou jongvolwassenes en in die fleur van hulle lewens – almal se stemme skielik doodstil. Die res van ons bly verwese en verslae agter met te min woorde om die enorme verlies en hartseer te verwoord.
Te min beddens en te veel pasiënte in hospitale, die angs van pasiënte wat alleen sterf, sonder die vertroosting van hulle geliefdes en die konstante konfrontasie met die dood, word die onmoontlike swaar las wat gesondheidsorgwerkers daagliks moet dra.
Ons lees boonop gereeld in die nuusblaaie hoe meer en meer jongmense en kinders moed opgee en hoop verloor. Die besef dat depressie ’n verwoestende en wrede siekte is wat nie onderskeid tussen ras en welstand tref nie, maar elke slagoffer met ’n Godsverlate eensaamheid teister, begin geleidelik tot ons deurdring.
Toe breek die gewelddadige onluste ook nog in Juliemaand in KwaZulu-Natal uit en besighede en werksgeleenthede wat vernietig word, sorg vir skokbeelde op TV-skerms.
En in November, in afwagting van die vierde vlaag op die nimmereindigende pandemie, trek Suid-Afrikaners te midde van beurtkrag, reënbuie en lang rye by stemlokale, hulle kruisie agter die naam van ’n politieke party in wie hulle nog ’n mate van hoop of vertroue het. Van laasgenoemde is daar toe met die uitslag van die verkiesing min te bespeur en die wegblyers, wat alle hoop verloor het, raak volgens Charles Smith, nuushoof van Volksblad, die grootste nie-amptelike opposisieparty in die land se onlangse plaaslike verkiesing.
Oor die eeue heen het die mensdom na rampe, pandemies, vernietigende oorloë, natuurrampe en ondenkbare verliese, tog herhaaldelik bykans onmenslike groot moed en innerlike krag openbaar deur weer met die lewe voort te gaan.
Hoe is dit moontlik? Is dit slegs omdat daar nie vir ons ’n ander uitweg bestaan as om teen dagbreek weer op te staan en aan te gaan nie, of het dit straks met die Gees van God wat in ons woon, te doen? Die Gees wat Hy in ons geplaas het toe Hy ons elkeen op ons naam geroep het – is dit dalk dié Gees wat ons die unieke vermoë gee om met die lewe voort te gaan? Is dit dalk sy Gees wat ’n mens na soveel trauma die gawe bied om weer te glimlag wanneer jy in ’n baba se gesiggie kyk, die geur van ’n roos inasem, of wanneer jy met dankbaarheid om ’n tafel saam met geliefdes aansit vir ete?
Mag ons elkeen hierdie Kersfees iets van sy Gees in ons lewens beleef en mag die Gees salf op elkeen se rou wonde smeer. Ons ken tog die Kind wat vir ons gestuur is en ook sy lyding. Mag ons op 25 Desember 2021 deur sy genade die geskenk van ’n helder Somerkersfees in hierdie land ontvang.
Job 33:4. Die Gees van God het my gemaak, die asem van die Almagtige het my die lewe gegee.