Selfverdediging en soete of bittere wraak

 

Deur: Ds. Schalk van Wyk

Grusame tonele speel hul tans in die Midde-Ooste af en nie al die toeskouers kyk deur dieselfde bril daarna nie. Gevolglik is botsende opinies van die kykers aan die orde van die dag. Hierdie artikel wil die bril van die Heilige Skrif opsit. Maar, eers ʼn waarneming: Die lewe saam met ander mense is dikwels pynlik en soms ook dodelik.

ʼn Liedjie wat in 1971 vrygestel is deur die rockgroep America het deel geword van die repertoire van topsangers soos onder andere Neil Diamond en Michael Jackson. In die liedjie A Horse with No Name ry die sanger op ʼn naamlose perd in die woestyn. Hy vertel van sy ontberings, maar die woestyn hou ook vir die eensame reisiger ʼn voordeel in:

In the desert you can’t remember your name
‘Cause there ain’t no one for to give you no pain.

Dit wil sê, as jy stoksielsaligalleen in die woestyn is, is daar niemand wat jou naam kan sê nie. Dan vergeet selfs jy wat jou eie naam is. As daar egter iemand is wat wel jou naam kan sê, gaan jy heel waarskynlik seerkry. Dalk ʼn bietjie pessimisties? Aan die anderkant moes die meeste van ons onsself al selfs in die geselskap van familie en vriende teen ʼn beskuldiging verdedig – wat diep seermaak. En soms, daarbuite, meesal darem nie tussen vriende en familielede nie, kry ons lyf ook seer – die wêreld waarvan ons deel is, het immers meer as net ʼn handjievol bose mense. Vir enigeen wat tussen ander mense lewe, is die vraag na selfverdediging dus nie vergesog nie. En wie van ons het nog nie ewe tevrede gedagdroom oor soete wraak na ʼn onreg of seerkry nie? Kyk maar hoe geniet ons ʼn fliek waarin die bullebakke (verkieslik gepaardgaande met baie pyn) uiteindelik op hulle plek gesit word!

Buitensporige selfverdediging wat oorgaan in wraak kom al van Genesis af aan. Hoor maar hoe Lameg in Genesis 4:23-24 ewe bakarm by sy vroue grootpraat:

“Ada en Silla, luister na my stem! Vroue van Lameg, hoor wat ek sê, want vir ‘n wond aan my maak ek ‘n man dood, ‘n jong man vir ‘n kneusplek aan my! Ja, sewe maal word Kain gewreek, maar Lameg sewe-en-sewentig maal.”

God reageer nie onmiddellik op hierdie brutale aankondiging nie. Maar net so paar bladsye later (Genesis 6:5) lees ons dat die Here gesien het dat die boosheid van die mens op die aarde groot is, en dat alles wat die mens in sy hart bedink, altyd net sleg is.

In die Ou Testament het God nooit verbied dat mense hulleself mag verdedig nie. Maar Lameg se uitspraak oorskry die grense van billike selfverdediging. Om iemand dood te maak omdat hy of sy jou ʼn kneusplek gegee het, is ooglopend nie meer selfverdediging nie. Selfverdediging is ʼn koue, beheersde, verstandige optrede. As selfverdediging gloei van vuurwarm passie, gaan dit oor in wraak.

Sielkundiges wat wraak as ʼn vorm van menslike gedrag bestudeer, waarsku dat die gedagte aan wraak soet is, maar dat die voltrekking daarvan meesal ʼn galbitter smaak in jou eie mond laat. Fantasieë van wraak herinner jou immers voortdurend aan die onreg wat jou aangedoen is en ʼn daad van wraak laat iets in jou tot niet gaan. Boonop ontketen wraak gewoonlik prosesse wat allerlei ellendes inhou. Kyk maar na 2 Samuel 13-20. Hier lees ons van Absolom wat wraak geneem het omdat Amnon sy suster, Tamar, verkrag het. Maar Absolom se vergelding het nie net Amnon se dood veroorsaak nie, dit het byna die hele huis van Dawid laat ineenstort. Dus, al lyk wraak so begeerlik soos ’n blinknuwe 4×4, sleep hy meesal ʼn verflenterde Ventertjie vol onvoorsiene en onbedoelde gevolge agter hom aan. En dan het ons nog nie eers oor die uitwerking wat dit op ons verhouding met God het, nagedink nie. Sou God, as God ʼn mens was, ons ge-“high-five” het oor ons wraakplanne of -dade? Die antwoord hierop is maklik, want God hét mens geword en Homself toe onmisverstaanbaar teen wrokkighede uitgespreek. God het selfs so ver gegaan om ʼn strepie deur God se eie Ou Testamentiese wet te trek.

Hierdie ou wet was ʼn waarskuwing teen oordrewe selfverdediging wat oorgaan in wraak. Al ons optredes moet proporsioneel wees, het God gesê. As iemand jou tand uitslaan, mag jy nie twee tande van hom uitslaan nie. As iemand jou oog uitsteek, mag jy nie altwee sy oë uitsteek nie. Selfverdediging en straf of wraak het ʼn duidelik gestelde perk ( Eksodus 21:24-27; Levitikus 24:20 en Deuteronomium 19:21). God, wat die mens Jesus geword het, het egter ʼn groot MAAR oor hierdie tand-vir-ʼn-tand-tekste van die Ou Testament uitgespreek (Matteus 5:38-48). As ons wil volmaak wees soos ons Vader in die hemel volmaak is – en dit is mos waarna ons moet streef – sal ons wat selfverdediging betref, ons nóg meer in toom moet hou as wat Moses toegelaat het. Ons moet minstens eers die ander wang draai vóór ons oorweeg om terug te slaan. En ons sal ons van alle weerwraak weerhou. Want, ons moet ons vyande liefhê.

Paulus, wat weggeruk is tot in die derde hemel, tot in die paradys (2 Kor. 12:1-4) waar Hy Christus as Koning beter leer ken het, gaan selfs nog verder as wat Jesus gegaan het. In Romeine 12:17-21 lees ons:

“As jou vyand honger is, gee hom iets om te eet; as hy dors is, gee hom iets om te drink.” Daarteenoor het ons Israel wat (tydens die skrywe hiervan) nouliks toelaat dat kos en skoon water by die Palestynse vlugtelinge uitkom. Dit lyk amper asof moderne Israel vir Lameg, in plaas van God, as rolmodel geneem het. Lameg sou hulle gewis ge-“high-five” het, want volgens persberigte het die aanval deur Hamas en ander Palestynse gewapende groepe op 7 Oktober gelei tot 1 139 sterftes in Israel, waarvan 766 burgerlikes was, waaronder 36 kinders. The Times of Israel het op 11 Desember 2023 berig dat 14 van die kinders jonger as 10 jaar was, en 25 van die burgerlikes ouer as 80. Niemand kan Israel kwalik neem dat hulle hulself teen Hamas wil en moet verdedig nie. En die meeste mense neem Israel ook nie kwalik dat hulle wraak neem nie. Jy kan tog nie slegte, bose mense toelaat om vroue en kindertjies te kom doodmaak sonder om skerp daarop te reageer nie.

Daar is wel ʼn groeiende groep mense wat begin kritiek uitspreek oor die oordrewenheid, maar Israel steur hulle nie daaraan nie. Wat die verstand egter te bowe gaan, is dat Israel hulself ook nie aan God steur nie! Een tand vir een tand? Maar 28 000 Palestyne vir 1 139 Jode? Vierduisend (4 000!) Palestynse kindertjies jonger as tien teenoor 14 Joodse kleingoed? Één kleinding sou al te veel wees; nou is dit alreeds 285 Palestynse kindertjies vir elke Joodjie. En sal God vir Israel daaroor op die skouer klop? Hamas het ʼn bose ding gedoen. Israel is besig om ʼn 285 maal erger boseding te doen.

Hoe óns oor die oorlog praat sal daarvan afhang of ons hart besnede is, met ander woorde, of God se wet op ons hart geskryf is of nie (Jeremia 31:33 en 44:10). Helaas stoor ons dikwels die Evangelie iewers in ʼn breinsel waar niemand dit kan sien of die klank daarvan kan hoor nie.

| Ds. Schalk van Wyk is ’n emeritus leraar en voorheen van die NG kerk Kleinmond. Hy woon tans in Edelweiss.  Hy verwag nie dat almal noodwendig met hom saam stem nie en nooi lesers om hom per e-pos te kontak by swvanwyk@gmail.com.