Seisoen van skepping: In verwondering

 

Deur: Ds. Johan Visser

In September, die eerste lentemaand, word ons as gemeente weereens op reis geneem om na te dink oor die seisoen van skepping. Ons gemeentekalender se voorblad met die verskeie foto’s van spekboomsteggies herinner ons aan die skepping. Die vier woorde: Behoort – Bewoon – Bewaar – Bewerk is nou verweef aan ons gemeente se waardes: Nader aan God – Nader aan mekaar – Om ’n verskil te maak in die wêreld – Om voortdurend te vernuwe.  Die oorhoofse tema vir die derde kwartaal is om te bewaar en sodoende gaan ons in Septembermaand reflekteer oor ons verwondering, maar ook oor ons verwonding.

Psalm 19 gaan gebruik word as teksgedeelte om ons hierin te begelei. Psalm 19 is ‘n ryk Bybelse gedeelte waarin temas van aanbidding oor God se skepping, die krag en waarde van sy Woord, en die begeerte na verlossing omhels word.

Seisoen van Skepping: Ekologiese Geloofsbelydenis

Ons glo in God die Almagtige Vader wat uit liefde die aarde vir alle mense gegee het.

Ons glo dat ons as mense ’n spesiale deel van die skepping is en dat elke deel van die skepping ’n kosbare geskenk is om te gebruik en met liefde na om te sien.

Ons glo in Jesus Christus wat die Koninkryk laat kom.

Ons glo dat die skepping genees en dat Christus deur sy dood en opstanding die vrede van God aan mense bied.

Ons glo in die Gees van God wat oor die waters gesweef en orde in ons wêreld gebring het.

Ons glo in die skoonheid van eenvoud. In liefde met oop hande.

Ons hoop op ’n nuwe mensheid, waar geregtigheid sal floreer. Respek vir die hele skepping sal gedy. Vrede ’n werklikheid is.

Ons uiter ons oortuigings, terwyl ons herinner word aan die liefde van God, die genade van Christus en die gemeenskap van die Gees.