Resep vir ’n afgod

Die ware God is nooit gemaak nie – dit is ʼn geheimenis wat my verstand te bowe gaan, maar Hy was nog altyd daar. Afgode word by die dosyne gefabriseer. Dit is boonop ʼn goedkoop proses – die armste mens op aarde is in staat om vir hom een te fabriseer. Die probleem is net dat as jy hom eenmaal gemaak het, vind jy uit dat dit baie duur is om hom aan te hou. Oor dié koste sal ons later praat, maar eers wil ek die basiese riglyne vir die maak van ʼn afgod met jou deel.

Die eerste bestanddeel is ʼn egte, regte behoefte of nood. Watter een van die groot vyf, maak nie verskriklik saak nie. Dit moet net iets wees waarmee jy besonderlik hulp nodig het.

Toe ek sê groot vyf, het jy waarskynlik dadelik aan die Krugerwildtuin gedink, maar daar is ʼn ander groot vyf wat in ons hart woon. Ek moet hulle gou eers vir jou verduidelik voor ons verder gaan.

In 1943 het ʼn Amerikaanse sielkundige, met die naam Abraham Maslow, vyf tipes (kategorieë) menslike behoeftes geïdentifiseer:

  • Die mees basiese daarvan is die waarsonder ons doodgaan. Kos, water, slaap. Ons kan hulle sommer noem, fisiologiese behoeftes. As hulle nie bevredig word nie, dink ons nie eens aan enige ander behoefte nie.
  • As ons genoeg kos, water of slaap gehad het, begin ons ons bekommer oor ons veiligheid of sekuriteit. Ons wil ʼn dak oor ons kop hê, mure om ons heen en ʼn deur wat kan sluit. Ons behoefte aan veiligheid is net ʼn klein bietjie minder as ons behoefte aan kos.
  • As ons maag egter vol is, en ons veilig voel, begin die behoefte aan iemand wat ons liefhet en iemand om lief te hê, op die voorgrond tree. Ons het ʼn behoefte om iewers te hoort en aan iemand te behoort. Ons wil hê dat ander mense ons moet aanvaar.
  • As daardie behoefte vervul is begin ons die behoefte ontwikkel dat ander ons nie net moet aanvaar nie, ons wil ook hê dat hulle ons respekteer.
  • Dan, as ons respek ontvang, begin ons daarna streef om die eie-ek te verwesenlik. Ons wil groei en ontwikkel, beter mense word, meer vaardighede baasraak, dinge doen waaroor ons onsself op die skouer kan klop.

Ons kan dit met die volgende diagram so voorstel:

Ek moet nou bysê dat daar later kritiek teen Maslow se voorstelling gekom het. Ons hoef egter nie die kop daaroor te breek nie. Hierdie is net ʼn handige hulpmiddel om ons oor die verskillende behoeftes te help nadink, en kan ons aanvoel dat Maslow, al is dit nie foutloos nie, wel ʼn punt beet gehad het.

So, kom ons keer terug na ons riglyne – hulle werk ook soos ʼn resep vir die “bak” van ʼn afgod. Die eerste bestanddeel is altyd een van Maslow se tipe behoeftes.
Ter wille van ʼn voorbeeld: In die tyd van oud-Israel, het mense se behoefte aan kos en finansiële sekuriteit afgehang van hoe goed hulle vee aanteel. God moes daarmee help, maar God spring nie dadelik aan die werk as ons bid nie. Toe sê een van hulle se Kanaänitiese buurman dat Baäl beter vaar met kalwers en lammers, as Israel se God.

Die tweede bestanddeel is iets wat deel is van God se goeie skepping, maar dit moet eers losgemaak word uit die natuurlike verband waarin dit voorkom.
Ter wille van ʼn voorbeeld: Ons Israeliet het ʼn boom gaan afkap. Daar was niks fout met die boom nie. Toe hy nog net boom was, was hy nuttig, mooi en goed, maar nou word hy uit sy plek verwyder. Sy hout word uit daardie omgewing weggekarwei.

Die volgende stap is om hierdie natuurlike ding in ʼn God te omvorm.
Ter wille van ʼn voorbeeld: Ons Israeliet begin ʼn beeld uit die hout kerf. Soms in oud-Israel was die beeld van Baal ʼn menslike figuur, soms ʼn bul, soms ʼn weerligstraal. Die punt van hierdie stap is dat jy aan die afgod vorm gee. In plaas van dat hierdie god jou skep, skep jy hom.

Dan kom die groot oomblik: Jy ken aan hom mag toe. Jy ken aan hom mag toe deur te glo dat hy die oplossing van jou probleem bied. Hy kan jou behoeftes vervul en jy begin op hom vertrou omdat jy ook sommer weet dat hy jou gaan help. Ons Israeliet in die voorbeelde hierbo weet nou dat sy versekering gereed is. Baäl sal sorg en Baäl kan sorg. En die wonderlike van Baäl is dat hy nie omgee dat jy die God van Israel ook vereer nie. So ons Israeliet gaan nog steeds heiligdom toe om ʼn loflied vir God te sing, maar Baäl is die een op wie hy sy hoop vestig.

Die volgende stap is eenvoudig: Jy begin hom aanbid. Jy praat met groot lof oor hom en as hy iets vra gee jy dit dadelik. Dus, Baäl, wat moet sorg dat jou beestrop stewig groei, eis dat jy jou beste beeste op die altaar vir hom verbrand. Afgode eis altyd die goed wat hulle vir jou moes verseker. Dit is dan ook op dié punt dat jou gode begin duur word.

Ons kan ons kop in ongeloof heen en weer skommel, onsself met die handpalm teen die voorkop slaan en diep sug wanneer ons wonder hoe mense so dom kan wees, maar ons moenie te vinnig praat nie. Ons gebruik wel nie meer houtbeelde nie, want ons het mos die bestanddele gemoderniseer, maar die resep is steeds dieselfde. Dit is byna soos oorlede ouma se melktertresep. Die resep is dieselfde, net die verpakking van die bestanddele het verander. Ons gaan grawe nie meer die eiers onder die henne in die agterplaas uit en gaan melk self die koei nie. Ons gaan koop melk en eiers in netjiese boksies by Pick n Pay. Dan volg ons steeds die resep verder.

Ek sal later in meer besonderhede verduidelik hoe dit in ons tyd werk, maar wil vinnig ʼn voorbeeld noem van een van die gewildste en oudste, maar terselfdertyd modernste afgode: Militêre Mag.

Vladimir Minkov het ʼn doktorsgraad in skeepsboukunde en was voorheen ʼn offisier in die ou Sowjetunie se vloot. Hy het in 1970 na die Weste gekom en hom heelhartig in die Joodse geloof, die Judaïsme, tuisgemaak. Ek het hom deur sy blog in The Times of Israel leer ken. In 2014 het hy in The Times of Israel gekla dat die helfte van die moderne Israeliete ateïste is. Hy reken dit is omdat die Joodjies nie meer behoorlik gekatkiseer word, en die rabbi’s ook nie die grootmense help om reg te glo nie. Dan sê hy oor sy moderne Joodse kultuurgenote:

“The Jewish atheists are trying to figure out what cannot be resolved by prayers and should be resolved by other – Torah-based – actions of various nature – political, social, military … – to resolve various life challenges…”

Die Joodse ateïste glo met ander woorde nie dat gebed sal help om hulle dringendste behoeftes en veral nie hulle behoefte aan veiligheid, te bevredig nie. Hulle wend hulle tot politieke, sosiale en militêre aksie.

ʼn Groot klomp mense – nie net ateïste nie, maar ook Christene – vertrou meer op tenks, kanonne en vuurpyle as op God. As hierdie dinge egter die plek van God in jou hart inneem, is hulle afgode.

Ons het altyd hulp nodig en moet soms doen vóór ons bid en selfs in plaas van bid. Ek bepleit byvoorbeeld nie dat jy ʼn biddag vir reën organiseer as jou baard aan die brand geraak het nie. Jy kan self daardie brand blus. Jy het die gereedskap – jou hande – en jy moet hulle gebruik. Al die ander gereedskap wat ons kan help om ons behoeftes te vervul, ook die verdedigingsmag, is goed en kan help – solank hulle aan God ondergeskik, en ook diegene onder wie se bevel hulle staan, aan God gehoorsaam is. As die leiers nie aan God ondergeskik is nie, word hulle jou gode. Nasies wat nie in die ware God glo nie, het nie ʼn opsie nie.  Hulle moet al hulle troos soek by militêre mag, politieke partye en allerlei ander soortlike gedrogte. Daardie gode is egter wrede helpers wat altyd meer vat as wat hulle gee.

Volgende week, as die Here wil, dissekteer ek saam met Goudzwaard ʼn afgod genaamd Nasionalisme, maar ek wil eers op ʼn positiewe noot afsluit met ʼn eie hartsbelydenis:

My enigste troos in lewe en dood
is dat ek aan Jesus Christus behoort.
Met sy kosbare bloed het Hy my vrygekoop
– dis my anker, my vaste hoop.
(Lied 292)

| Ds. Schalk van Wyk is ’n emeritus leraar en voorheen van die NG kerk Kleinmond. Hy woon tans in Edelweiss.  Hy verwag nie dat almal noodwendig met hom saamstem nie en nooi lesers om hom per e-pos te kontak by swvanwyk@gmail.com.