Ds. René Potgieter het te midde van die Covid-19-pandemie en as besige ma van twee tienerseuns en ook voltydse gemeenteleraar, haar hand boonop aan verdere studie gewaag en haar meestersgraad aan die einde van verlede jaar aan die Universiteit van Stellenbosch behaal.
“Dit neem twee jaar om ’n meestersgraad te voltooi,” sê René. “Ek het die eerste jaar gereeld klas geloop by die universiteit en in die tweede jaar het ek grootliks aan die afhandeling van my skripsie gewerk.
“Die motivering vir die groot taak was tweërlei van aard,” verduidelik René. “Ek was reeds twaalf jaar in die bediening en het begin voel dat die wêreld om my, en die bediening wat daarmee saamgaan, baie verander het en dat ek myself ’n bietjie moet opskerp om aan die voorpunt van veranderinge te bly. Tweedens het ek myself betrap dat alhoewel ek graag lees, ek net lees oor onderwerpe wat my interesseer. Die meestersgraad in bedieningspraktyk het my forseer om wyer as my bestaande belangstellings te lees en ek het myself en my kennis van die bediening sodoende verryk.
“Die titel van my skripsie is: Wat is die rol van pastoraat as deel van ’n gemeente se diakonale werk binne haar roeping om missionaal kerk te wees? Dis ’n mondvol, maar beteken in kort dat ek bestudeer het hoe ’n mens by mense in nood betrokke kan raak sonder om net vir hulle kospakkies uit te deel. Dit is dikwels nodig om stil te staan by die persoon in nood, sodat jy sy of haar lewensverhaal kan hoor en sodoende die mens agter die probleem kan leer ken en respekteer. Die vinnigste, maklikste en mees praktiese manier van hulpverlening is om met klere en kos die nood aan te spreek, máár dis ook belangrik om nie iemand se menswees in dié proses te misken nie.
“Pastoraat en noodverligting is beide aspekte van die bediening wat my na aan die hart lê. Ek wil graag mense help, maar die begeleiding van mense is vir my net so belangrik. Daarom het ek die twee onderwerpe in my skripsie gekombineer. Ek het besef dit is ook hoe Jesus by mense betrokke geraak het – Hy het fisiese hulp verleen, maar nooit nagelaat om mense oor hulle lewens en verhouding met sy Vader uit te vra nie.
“Terwyl ek met die skripsie besig was, het ek natuurlik diep onder die indruk van die enorme uitdagings in ons eie land gekom. Die nood is so groot en word net groter. Stellenberg-gemeente, saam met alle ander geloofsgroepe en kerke, het ’n baie groot verantwoordelikheid en rol om te vervul in die verligting van nood in Suid-Afrika. Die kerk is vir baie van ons lidmate die spreekwoordelike voertuig wat hulle met die nood in plaaslike gemeenskappe verbind.”
Op die vraag of sy haar doktorsgraad hierna gaan aanpak, antwoord René: “Nee dankie – nie in die stadium nie. Twee jaar lank is elke Saterdag, vakansiedag en af-tydjie deur my studie in beslag geneem en dit is nou vir my so lekker om weer vryetyd te hê. Ek kan nou naweke weer sommer ’n gewone storieboek lees en elke Saterdag pak ek ’n parkrun aan. Dit is luukshede wat ek nie sommer nou al wil prysgee nie.”