Raponsie in Pole

Deur: Sanet Hattingh*

Om saans jou kop op jou kussing neer te lê en te luister na die weerklank van perdehoewe en koetse op keistene en die uurlikse gelui vanuit die groot kloktoring, beteken ’n mens is in die Middeleeuse stad, Kraków, in Pole.

Theuns, my man, werk aan ’n projek in Pole en ek het vir tien dae kom kuier. Die eerste naweek in Kraków is die hoogtepunt van ons tyd saam. Die atmosfeer van die stad is outentiek en ouwêrelds en jy voel behoorlik of jy jou in antieke tye bevind.  ’n Mens vergaap jou letterlik aan al die mooi en andersheid van die stad.  Koffiewinkels en restaurante bars uit hul nate. In ’n systraatjie het ons ’n restaurant ontdek wat die heerlikste tradisioneel Poolse geregte maak, teen baie billike pryse, en boonop  Suid-Afrikaanse wyn op die spyskaart aanbied!

Vir twee dae kon ons ronddrentel, die magdom geskiedkundige geboue en standbeelde bewonder, in die klomp klein winkeltjies rondsnuffel, dan weer die pragtige tuine langs die stadsplein verken, of sommer net op ’n bankie gaan sit en bibber om ons broodjie met die  gretige duiwe te deel.

Saterdagoggend 14 Maart tref ons weer die strate, maar skielik lyk die tonele om ons  heeltemal anders.  Oral om ons is mense in groepe aan die skarrel, almal sleep hulle roltassies haastig oor die keistene.  Dit is toe dat ons hoor die regering het, soos later ook in Suid-Afrika, ’n landwye inperking aangekondig en dat landsgrense nog dieselfde aand sou sluit.  Die volgende oggend aan die hotel se ontbyttafel gesels al die vreemdelinge met mekaar.   Mense het blykbaar vir ure in lang rye gestaan om sonder sukses plek op vlugte te probeer kry. ’n Ierse paartjie het aangekondig dat hulle lugmag ’n vliegtuig stuur om hulle te kom haal.  Ek hoor toe dieselfde oggend dat my vlugbespreking vir 24 Maart gekanselleer is, maar ek het geen hoop dat die Suid-Afrikaanse lugmag my gaan kom haal nie.

’n Mens kan nie glo hoe ’n stad met soveel energie, opwinding en lewe eensklaps in ’n spookstad kan verander nie. Saterdag was daar nie ’n enkele perd of rytuig in sig nie en al die winkels, behalwe kruidenierswarewinkels en apteke, gesluit.  Ons was net betyds om met die bus terug te ry na Lublin, waar Theuns werk, want reis tussen provinsies word ook verbied.

Terug in Lublin moes ons vining aanpas om sonder restaurante reg te kom. Ons verblyf is baie basies en die kamertjie bied slegs ’n ketel en ’n klein kroegyskassie die grootte van ’n skoendoos.  Dit verg heelwat kreatiwiteit om spyskaarte te beplan, en die meeste maaltye bestaan maar uit broodrolletjies, ham, kaas en pakkies kitssop.  Joghurt, piesangs, sjokolade en bier bied so ’n bietjie afwisseling op die daaglikse tema. Kospryse is baie dieselfde as in Suid-Afrika, behalwe dat hier ’n kaashemel is.  ’n Wiel Camembertkaas kos byvoorbeeld net R12 .

Die busstelsel is briljant.  Alhoewel ’n mens nie juis in dié omstandighede van openbare vervoer wil gebruik maak nie, het ons nie veel van ’n keuse nie.  Ons kan nie ons kruideniersware so ver gedra kry nie, en dit is ysig koud met temperature wat wissel tussen 5 en 7 grade Celsius.  Ten minste is daar baie min mense op die busse en passasiers laat groot spasies tussen mekaar oop. Niemand op die bus sal dit ook waag om te hoes nie.  In die kruidenierswarewinkels is daar min mense en oorgenoeg toiletpapier.  Klante word almal met handskoene by die ingang toegerus en staan ver uitmekaar in die rye.

Die apteek het ’n klomp geel kennisgewings, alles in Pools, maar ons verstaan niks daarvan nie.  Die winkelassistente kan buitendien ook nie Engels praat of verstaan nie en ons besluit om eerder verby te loop.

Goed, toe weet ons hoe dinge werk, ons sou nie honger ly nie en sodra Pole hulle grense oopstel, klim ek op die eerste beskikbare vlug om huis toe te gaan, maar enkele dae later kondig Emirates-lugredery aan dat hulle alle vlugte staak.   Die volgende skok tref ons toe die Poolse regering besluit om alle grense tot na Paasnaweek te sluit.  Die Suid-Afrikaanse  Ambassade bevestig dat daar geen manier is om die land te verlaat as die grense gesluit is nie.  Wanneer kom ek weer by die skool en my werk uit?

Intussen sit ek nou bedags in ons kamer op die derde vloer en kyk uit oor ’n sprokiesmooie tuin met ’n groot verskeidenheid kaal bome. Die allermooiste voëls woon in die tuin en verskaf ons groot plesier. Gelukkig het ek die verkyker ingepak, so ek kan hulle van naderby bewonder.  Ek het selfs voëlsaad saam met my noodsaaklike inkopies ingesmokkel;  dus kom van hulle al op ons vensterbank kuier.  Dit is amptelik lente in Europa, maar gister was dit  nog -7 grade Celcius en eergister het dit selfs weer gesneeu.  Maar ten spyte daarvan weet die natuur die seisoene is besig om te draai.  Ek hou die kaal boomtakke dop en sien hoe die puntjies begin groen raak. Ek moes al by die huis gewees het, maar nou gaan ek dalk die lente hier beleef! Dit voel amper vir my asof die mensdom te midde van die virus en al die chaos weer simboliese groen blaartjies van nuwe lewe gaan uitstoot.

Ek sou egter baie eerder my selfisolasie in my eie huis,  in my eie kombuis en in my eie tuin, wou deurbring. Daar is soveel kaste om reg te pak en ek sien voor my geestesoog hoe lekker ek sou tuinmaak.  Dit sou lekker gewees het om met my motor te kon ry vir noodsaaklike aankope en om naby my kinders en mense wat Afrikaans of Engels kan praat, te wees.  Maar dalk het die Here dit anders                    beplan . . . om by my man te wees, om met baie min geriewe oor die weg te kom, sodat ek meer empatie kan hê met só baie mense wat daagliks onder baie moeiliker omstandighede leef en om te leer om te midde van  soveel onsekerheid, rustig te wees in Hom en te weet dat Hy alles onder beheer het.

Daar was darem ook al ’n paar bederfies, soos om vir die eerste keer in my lewe sneeu te sien val.  Ek het ure lank by die venster gestaan en gekyk na die klein wattetjies wat deur die lug sweef en dan saggies grond toe val en hoe die tuin geleidelik in ’n sprokieswêreld verander.  Dan was daar ook die Poolse oom by die fabriek waar Theuns werk, wat vir my ’n tak bloeisels gestuur het – wat ’n kosbare geskenk.

Ek sal jok as ek sê Raponsie voel nie dikwels effens vasgekeer in die klein kamertjie in haar spreekwoordelike toring nie, maar intussen tel ek my seëninge en is dankbaar dat die Prins elke aand huis toe kom.

| Theuns en Sanet Hattingh is jare lange lidmate van die gemeente.  Sanet is ’n wiskundeonderwyseres by Hoërskool Stellenberg en hulle woon in Briffantstraat.