Raak asseblief betrokke

 

Daar is verskeie bedieningsgeleenthede in die gemeente en ons wil jou graag aanmoedig om by een van die bedienings betrokke te raak sodat jy jou gawes op dié wyse tot uitbou van die koninkryk kan aanwend.  Ons benodig hulp met praktiese dienslewering aan bejaardes, hulp by kategese, ens.

Kafeteria:

Helpers wat met die verkoop van eetgoed behulpsaam kan wees op Sondagoggende vanaf 09:45 tot 10:45 in die markplein word benodig.  Kontak asseblief vir Anneke by anneke@stellenberg.co.za om jou hulp aan te bied.

Ondersteuning aan bejaarde lidmate:

Daar bestaan ’n dringende behoefte aan vrywilligers wat bereid is om bejaarde persone te ondersteun met vervoer, of gereelde besoeke. Heelwat senior lidmate in die gemeente se  kinders of familie woon ver en hulle het geen ondersteuningsnetwerk in hulle nabye omgewing beskikbaar nie.  Die nood is groot en al groter wordend.  Indien jy bereid is om ondersteuningsdienste aan ’n bejaarde persoon te bied, kontak asb. vir ds. Marius Breytenbach by 082 376 6053, of die kerkkantoor se ontvangs by 021 976 4519/ontvangs@stellenberg.co.za.

 Kategeteleiers:

Die tekort aan kategeteleiers word ongelukkig jaarliks net groter.  Indien jou kind by die gemeente se kategesebediening ingeskakel is, oorweeg asseblief om as kleingroepleier betrokke te raak.  Geen voorbereiding is nodig nie en alle hulpmiddels vir die lei van ’n groepsgesprek word voorsien. Die kategesebediening bied aan ouers ’n onvervangbare geleentheid om eerstehands toegang tot hulle kinders se leefwêreld te bekom en hul kinders se netwerk van vriende, of mede-leerderders beter te leer ken.  Moenie die geleentheid om by jou kind se geloofslewe en leefwêreld betrokke te raak en ’n bydrae daartoe te lewer, verspeel nie.  Kontak asseblief vir Sunet Opperman by sunet@stellenberg.co.za om jou hulp aan te bied.

Eredienswerkers

Ons wil graag nog ’n span eredienswerkers vir die oggenddienste saamstel.  Die spanne doen een keer per maand  diens tydens die erediens. Kinders is ook welkom om hand by te sit en vorm dan ook deel van die span.  Raak as gesin betrokke en leer jou kinders die waarde van diensbaarheid.  Kontak gerus vir Anneke by anneke@stellenberg.co.za indien julle kan help.

Kommunikasiebediening

Ons wil graag ’n kommunikasiebediening op die been bring wat leraars en kantoorpersoneel behulpsaam kan wees met strategiese beplanning rakende die gemeente se kommunikasie.  Indien jy ervaring in veral digitale kommunikasie het, oorweeg asseblief om jou kennis en gawes met die gemeente te deel.  Kontak asseblief vir Sanèl by sanel@stellenberg.co.za indien jy hulp wil aanbied.